×
Skakel na Engels

Ruk jou huis reg voor Kersfees: 2 weke oor

Wenke vir ’n skoon en ordelike badkamer!
badkamer

2 weke oor: badkamer

My skoonmaakreël: “Maak die toilet se deksel toe voordat jy dit spoel”

Hier’s ’n grillerige feit: Sterk spoelwater kan kieme in die bak tot 5 meter ver laat trek! Maak dus seker jy en jou kuiergaste volg hierdie dekselreël – dit sal jou skoonmaakwerk soveel minder maak.

Operasie skoonmaak: Hoe om ’n verstopte drein oop te maak

1. Verwyder die dreindeksel, was dit met warm, seperige water en verwyder enige sigbare obstruksies.

2. Gooi ’n halwe koppie koeksoda in die drein af. Gooi dan ’n koppie witasyn en ’n liter kookwater in die drein af. Laat staan vir 5 tot 10 minute.

3. Gooi nog ’n liter kookwater in die drein af.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

40 minute vir ’n blinkskoon badkamer

Gee aandag aan al daardie afskeepplekke:

20-MINUTE-TAAK: Muf in die stort kan die mooiste badkamer afeleef laat lyk. Spuit witasyn op voegbry en vee dit dan af. Herhaal totdat alle oppervlakke skoon is. Gebruik watte-stokkies vir plekkies wat moeilik bereikbaar is.

10-MINUTE-TAAK: Om ’n verstopte stortkop skoon te maak, vul ’n plastieksakkie met warm water, ’n koppie koeksoda en 2 eetlepels witasyn. Maak nou die sakkie met tou of ’n rekkie om die kop vas. Laat week vir 10 minute. Skrop die kop met ’n naelborsel en draai die kraan oop soos normaalweg.

10-MINUTE-TAAK: Borsel die binnekant van die toiletbak. Maak nou die sitplek en porseleinvoetstuk skoon. Maak skoon waar die sitplek aan die basis vasgeheg is en onthou om die handvatsel ook af te vee. Wenk: Weggooi-veelappies werk fantasties.

Flukse werkers

Dié produkte is ’n moet vir die feestyd:

1. Gebruik Chemico Drain Cleen vir ’n erg aangepakte drein. R44,95.

2. Ontsmet en maak alle oppervlakke skoon met Plush Supreme Pine Gel All Purpose Cleaner, vanaf R15,99.

3. Earthsap Machine & Handwash Laundry Liquid is sag op klere en die vel. Ideaal vir wanneer jy delikate kledingstukke met die hand was. R72

My praktiese reël: “Maak seker jy ruil die handdoeke in jou linnekas gereeld om sodat jy nie altyd dieselfdes gebruik nie”

Kom in die gewoonte om skoon handdoeke onder die res te pak. Dis veral belangrik om te onthou wanneer jou huis tydens die vakansie propvol kuiermense is en jou wasmasjien dus oortyd werk!

Operasie opruim: Vir ’n rustige badkamer, maak minder en maak mooi

Pak dit vooraf reg vir ’n stresvrye feestyd:

1. Gooi jou sjampoe en opknapper in bypassende bottels oor en bêre ander toiletware in ’n kas vir ’n gestroopte hotelvoorkoms. Onthou, minder is regtig meer. 

2. Skaal jou kersversameling af tot een of twee wat jy regtig gaan gebruik. Bêre die ander totdat jy dit wil aansteek.

3. ’n Oorvol vensterbank laat ’n badkamer klein vertoon en keer die lig af. ’n Sweefrak waarop jy ’n plant, ’n paar ornamente en toiletrolle hou, kan ’n einde aan dié dilemma bring.

30 minute vir ’n superordelike kassie

Sorg dat jou badkamerkassie skoon is en daar ook plek vir kuiergaste se toiletware is wat dalk langer as ’n naweek gaan oorbly:

10-MINUTE-TAAK: Haal alles uit die kassie en vee die rakke en deure aan die binnekant met ’n lap en warm seepwater af. Vee dit dan behoorlik droog met ’n skoon lap.

10-MINUTE-TAAK: Gaan deur jou toiletware en skoonheidsprodukte en gooi alles weg wat verval het of wat jy die afgelope jaar nie gebruik het nie. Bêre alle monstergrootte produkte in ’n plastiekhouer en gebruik dit vir die gim of wanneer jy reis.

10-MINUTE-TAAK: Verdeel produkte in kategorieë en bêre dit dan ook só. Hou klein noodhulpitems soos pleisters of naelsorgitems in klein houers. (Deursigtige seepbakkies met deksels is perfek hiervoor.)

Kopies vir jou badkamer

1. Jy het drie badkamermatjies nodig – een vir gebruik, een vir die was en een as die vloer baie nat is. Roteer jou matjies gereeld sodat almal ewe veel gebruik word. R99,99, MRP Home

2. Charlotte Rhys-produkte is vyfstergehalte, maar teen ’n billike prys. Boonop is die verpakking mooi! Vloeibare seep en hand-en-lyfroom, R309, Yuppiechef.com

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Ruk só jou slaapkamer reg vir ’n goeie nagrus

10 nuttige wenke as jy nie kan slaap nie

Die beste kopies vir ’n skoonheidslapie wat wérk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ruk jou huis reg voor Kersfees: 4 weke oor

Wenke vir ’n salige, skoon slaapkamer!

Close