×
Skakel na Engels

Restaurantresensie: ryk geure en Italiaanse flair

Bederf jouself met ’n eg Italiaanse koservaring
Italiaanse

Gestewel en gespoor, en gewapen met ’n groot eetlus het ons na ’n nuut opgeknapte restaurant in Kaapstad se gewilde Kampsbaai afgesit. Die restaurant: Zenzero. Kos: Italiaans. Verwagtinge: hoog. 

’n Gesellige stoep wat op die bedrywige hoofstraat uitkyk. FOTO: Met vergunning van Zenzero

Nadat die bestuurder ons verwelkom het, is ons na ons tafel langs ’n muur met ’n plafonhoogte-boekrak geneem. Trouens, drie van die vier mure in die restaurant is van bo tot onder met boeke bedek en ons het uitgewerk dat daar minstens ’n paar duisend boeke moet wees!

Die outydse gevoel van die tweedehandse boeke word deur die onopgesmukte tafeldekor gekompleteer. Danksy Soda Design in samewerking met Paul Kovensky, die besturende direkteur van die Kove Collection, het Zenzero onlangs ’n hele gedaanteverwisseling ondergaan.

Gaste word deur natuurlike kleure en warm teksture omring en die ligte, wat spesiaal vir hulle gemaak is, verleen ’n unieke tikkie glans aan die restaurant.

Die boekrakke skep ʼn amper huislike atmosfeer. FOTOT: Met erkenning aan Zenzero

Tyd vir aksie

Amber Deetlefs, die hoofsjef van die Kove Collection-groep, en haar span het die spyskaart uitgebrei sodat gaste nou ook uit eg Italiaanse ontbyt-, middagete- en aandete-opsies kan kies.

“Die bygewerkte spyskaart weerspieël die weergalose gees van die lieflike ligging en la dolce vita – die tipies Italiaanse idee van voluit leef,” sê Deetlefs. “Die geure is steeds vol en robuus, die bestanddele vars en die porsies ruim.”

Vir middag- en aandete kan ’n verskeidenheid antipasti (soos insalata panzanella met tamatie, burrata, basilie en geskeurde brood) gedeel word. Hoofgeregte sluit in klassieke pastageregte (van spaghetti aglio olio e peperoncino tot linguine alle vongole), vis (van suurlemoen-tongvis met kruiebotter, kappertjiesaad en ansjovis tot pesce fritto met piekelgroente en inkvis-ink-aïoli), pluimvee (hoender saltimbocca met prosciutto en salie-bruinbotter) en vleis (stadig geroosterde lamskenkel).

Ons het met ’n klassieke Italiaanse gereg, die Sisiliaanse arancini met bolognese, tamatiesous en parmigiano-reggiano begin, asook calamari-fritti met seesout, swartpeper, knoffel en suurlemoen.

Wat hoofgange betref het die restaurant nie teleurgestel nie. Die eerste hoofgereg wat ons geniet het, was bief-tagliata met parmigiano-reggiano, roketpesto, confit-tamatie en ’n beleë balsamiese reduksie. Die bieffilet was perfek gaargemaak en die vleis was murgsag. 

Bief-tagliata met parmigiano-reggiano, roketpesto, confit-tamatie en ’n beleë balsamiese reduksie. FOTO: Met vergunning van Zenzero

Die rykheid van die smaraggroen roketpesto het ’n sterk kontras met die pikswart balsamiese reduksie gevorm. Laasgenoemde het die nodige soetheid verleen wat deur die rykheid van die vleis en roketpesto gebreek het. Hemels!

Die tweede hoofgereg, ’n sappige riboogsteak met oreganum, seesout en olyfolie, was beslis ’n gunsteling. Die vleis was ongelooflik sappig en sag. Die kombinasie van geure het mekaar skitterend aangevul en albei borde was blinkskoon geëet toe dit weggeneem is. 

Riboogsteak met oreganum, seesout en olyfolie. FOTO: Met vergunning van Zenzero

Daarna het ons onsself sonder teëstribbeling aan ’n soete finale in die vorm van ’n nagereg oorgegee. Ons het besluit om die wit sjokoladekaaskoek met suur kersies en vanieljeroomys te deel. 

Die kaaskoek se romerigheid is deur die bros krummels aangevul, afgerond met heerlike kersies en gladde vanieljeroomys. ’n Wenner en die volmaakte afsluiting vir ons ete.

Wit sjokoladekaaskoek met suur kersies en vanieljeroomys. FOTO: Met vergunning van Zenzero

Vir volgende keer

Die enigste ding waaroor ons spyt was, is dat ons nie genoeg plek gehad het om meer van die geregte op die proef te stel nie. Dit keer ons egter nie om na ons volgende besoek uit te sien nie, wanneer ons blitsgebraaide tuna met tamatie, olywe, tiemie, gapermossels, salotte, knoffel, suurlemoen en vinkel wil bestel. Kyk net die mooi kleure!

Blitsgebraaide tuna met tamatie, olywe, tiemie, gapermossels, salotte, knoffel, suurlemoen en vinkel. FOTO: Met vergunning van Zenzero

EN dan, vir iets vars en somers, is hierdie nagereg van bevrore nougat met Cointreau, vars sitrus en olyfoliekoek die ideale keuse!

Bevrore nougat met Cointreau, vars sitrus en olyfoliekoek. FOTO: Met vergunning van Zenzero

Alles gaan oor die ervaring

’n Uitstekende spyskaart en ideale ligging is een ding (goed, eintlik twee), maar skitterende diens laat enige restaurant uitstaan. En dit is definitief die geval by Zenzero. Ons kelnerin, Jane, was vriendelik en het ’n uitstekende kennis van die spyskaart gehad. ’n Ongelooflike talent in ’n ewe ongelooflike restaurant.

Meer oor die Kove Collection: Evolusie. Ervaring. Uitnemendheid.

Die Kove Collection is sinoniem met iets spesiaal. Of dit nou ’n onvergeetlike ete in ’n besondere omgewing of sielsverkwikkende verblyf in ’n lieflike boetiekhotel is, Paul Kovensky en sy span skep buitengewone ervarings wat sorg dat hul gaste bly terugkeer.

HOOFFOTO: Met vergunning van Zenzero

LEES OOK:

Resensie: Middagete langs die see vir twee

4 van die beste “groen” restaurante in Kaapstad

Waar om die ongelooflikste melkskommels in SA te kry

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Slyp solank jou mes en vurk vir vanjaar se Eat Out Mercedes-Benz-restaurantpryse

Maak gereed vir die kulinêre okkasie van die jaar

Close