×
Skakel na Engels

Regte troue: Jeani en Jean se rustieke Tulbagh-troue

Daai rok!
Tulbagh

’n Lentetroue in die Boland … Klink idillies, nè? Dis presies wat dit vir Jeani en Jean was toe hulle in Oktober vanjaar in Tulbagh afgehaak het.

Hulle wou van die begin af seker maak dat hulle soveel moontlik tyd met hul gaste deurbring om die dag ekstra spesiaal te maak. “Ons wou soveel moontlik saam met ons vriende en familie kuier en met behulp van ons fotograaf het ons seker gemaak dat ons nooit te ver of te lank van die venue af was nie,” sê Jeani.

Die paartjie wou ook graag hê die dag moes uniek en eie aan hulle wees en gevolglik het hulle hulle nie aan enige troutradisies verbind nie. “Ons wou hê ons troudag moet óns weerspieël en daarom het ons ’n paar tradisies (soos om ’n kousband en ruiker te gooi, en ’n tradisionele troukoek te hê) weggelaat en van ons eie ingestel – ons het tydens die seremonie nagmaal gebruik en ’n kaas-‘koek’ met kaaswiele gehad,” vertel Jeani. “En pleks van die gewilde fotohokkie het ons ’n selfie-stasie met emoji-gesiggies en snaakse gesigkaarte opgestel. Die gaste was gaande daaroor!”

Jeani en Jean het mekaar een naweek by gemeenskaplike vriende se huis ontmoet. Hoewel die tweetjies eindelik bymekaargekom het, het die een die ander ’n bietjie laat swoeg vir dié verhouding! Volgens Jeani was dit “liefde met die eerste oogopslag vir Jean, maar ek het ’n bietjie meer oorreding gekort”. Ons is seker sy was die wag werd!

Die gewilde Engelse gesegde “opposites attract” kan nie meer waar wees van dié twee nie – hul verskillende persoonlikhede bring die beste in mekaar na vore en hulle voel hulle vul mekaar se tekortkominge aan. “Ek hou daarvan dat Jean ’n element van spontaniteit aan my andersins baie georganiseerde lewe verleen,” sê Jeani. “En ek dink hy hou daarvan dat ek ’n bietjie orde aan sy andersins nie so ordelike lewe verskaf.”

Wat die verlowing betref, sê Jeani sy was heeltemal onkant betrap – maar op ’n goeie manier! “Ons het een oggend vroeg ’n draai op my ouers se plaas gaan stap, toe ek skielik omdraai en hom op sy knie sien,” sê Jeani. “Hoekom daar? Wel, eerstens wou Jean my nog altyd vra op die plek waar ek grootgeword het, en tweedens het hy geweet ek sal dit nooit daar verwag nie. En hy was reg!”

Die venue en rok is twee van die grootste faktore van enige troue. Die paartjie het dus deeglik huiswerk oor albei gedoen voordat hulle ’n besluit geneem het. Wat die venue betref, het Jeani en Jean die ideale plek gekry deur ’n aanbeveling van die spyseniers wat hulle graag vir die groot dag wou gebruik.

“Ons het ’n spesifieke spysenier in gedagte gehad en vra hulle toe by watter nuwe venues hulle onlangs gewerk het. Dis hoe ons Saronsberg in Tulbagh ontdek het. Dit het aan al die vereistes voldoen – ’n oopplanuitleg, ’n kroeg binne, ’n groot dansvloer en ’n mooi, gesellige buitearea vir welkomdrankies.”

Oor haar rok sê Jeani sy het nooit ’n spesifieke prentjie in gedagte gehad nie, maar wel geweet wat sy nié wou hê nie. Sy het ’n hele paar snitte en style aangepas en eindelik ’n rok gekry waarin sy voor die kansel kon staan. ’n Paar verstellings later was dit dié rok. “Ek het nie ’n prentjie van my ‘droomrok’ gehad nie, maar ek het geweet waarvan ek nié hou nie. Ek het dus verskeie style aangepas en op die ou end het die styl wat ek gedink het sou werk glád nie by my gepas nie! Ek het ’n rok van ’n klaargemaakte reeks gekoop, maar verstellings laat maak sodat die rok steeds uniek sou wees. Dit was die beste van beide wêrelde.”

Die paartjie wou hê hul dekor moes die rustieke en bekoorlike gevoel van die venue komplementeer. En Jeani het seker gemaak haar liefde vir rooi word by dié dag ingewerk. “Ons het winterkleure gekies (wynrooi, groen en ’n tikkie goud) om ’n warm en gesellige atmosfeer te skep. Omdat die venue nogal rustiek is, het ons soveel moontlik kleur ingebring (bruinrooi kerse, maroen blomme, wynrooi servette en banke) om die voorkoms te versag. Ek was nog altyd mal oor rooi – my matriekafskeidrok was helderrooi – en hierdie was dus die grootmensweergawe van my beheptheid met dié kleur.”

Jeani en Jean, ons wens julle ’n leeftyd van geluk toe!

Venue: Saronsberg Cellar

Fotograaf: Duane Smith Photography 

Blomme en dekor: Liesl van Artica Designs (Liesl het alles behalwe die skryfbehoesftes gedoen – dít het die bruid self behartig.)

Bruid se hare en grimering: Lindy van Laatson Skoonheid

Strooimeisies se hare en grimering: Lindy van Laatson Skoonheid

Troukoek: Jeani en Jean het ’n kaas-“koek” gehad – hulle het die kase by Fairview gekoop, die koekpoppies by ThatLittleShop.co.za bestel en die spyseniers gevra om die “koek” met vrugte en neute te versier.

Spyseniering: Pauline Schreuder Catering 

DJ: DJ Arries

Bruidegom se pak: Carducci

Trourok: Robyn Roberts for Calegra

Plek waar bruid aangetrek het: Yellow Wood House, Tulbagh

Musiekvermaak (tydens welkomdrankies): BrotherBrother

LEES OOK:

Regte troue: Marelize en Matt se perfekte Skotse wintertroue

Regte troue: Megan en Brent se rustieksjiek sprokiestroue

Regte troue: Almarette & Rigardt se sprokiesmooi troue in die woud

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die datum en venue vir prins Harry en Meghan Markle se troue is pas aangekondig

Dit gaan nie naastenby so spoggerig soos Will en Kate s'n wees nie. Deur Caroline Picard

Close