×
Skakel na Engels

Raak ontslae van pap boarms

Probeer gerus dié 3 oefeninge om fermer arms te kry – jy sal dankbaar wees as jy in die somer jou moulose hempies en rokke met selfvertroue kan dra

Attractive young woman working out with dumbbells in gym

1. Oefen jou biseps

Staan met jou voete skouerbreedte uit mekaar en hou jou knieë sag – moet dit nie stokstyf en reguit hou nie. Hou ’n 2,5 kg-gewig in elke hand (jy kan ook blikkieskos of ’n 1 liter-bottel vol sand of water gebruik) en laat jou voorarms vorentoe wys.

Asem uit terwyl jy jou arms opwaarts buig en die gewigte na jou bors lig. Asem in terwyl jy die gewigte weer so driekwart laat sak en hou dit daar vir 5 sekondes voordat jy die beweging herhaal.

Doen vyf stelle van 10 . Vermeerder die gewig geleidelik ná ’n paar dae.

2. Oefen jou triseps

Neem ’n gewig in elke hand en lê plat op jou rug. Asem uit en lig jou arms op sodat jou hande reguit in die lug is, met palms na mekaar gedraai.

Asem in en buig jou arms sodat die gewigte tot langs jou ore sak. Beweeg net jou voorarms – maak seker dat jou elmboë stil bly en reguit op wys. Asem uit terwyl jy weer die gewigte oplig.

Doen twee stelle van 10 en doen ná ’n paar dae meer stelle of gebruik swaerder gewigte.

3. Die plank

Lê plat op jou maag en stut jou bolyf op jou elmboë deur op jou voorams te steun. Kyk grond toe en laat jou hande plat op die vloer lê.

Maak jou bene reguit en lig jou lyf van die grond af sodat jy op jou tone en voorarms balanseer. Moenie jou rug buig nie – maak jou maagspiere styf. Bly in die posisie vir solank jy kan en sak dan weer stadig grond toe.

Begin met twee stelle en doen dan geleidelik al hoe meer.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Smaaktoets: Wit vonkeldruiwesap

Vonkeldruiwesap is lig en verfrissend en geskik vir enige viering en spesiale geleentheid. Ons het vyf handelsmerke getoets en dié...

Close