×
Skakel na Engels

Professionele skoonmakers wys die plekke uit wat ons vergeet om skoon te maak

Daar is van hierdie plekke wat jy waarskynlik nog nooit skoongemaak het nie … Deur Victoria Chandler
skoonmakers

Niemand hou regtig daarvan om huis skoon te maak in hul vrye tyd nie, maar die werklikheid is dat jou woonplek baie vinnig baie vuil kan word. En hoewel ons tog ’n punt daarvan maak om te stofsuig en af te stof, is daar klaarblyklik ’n hele paar vuil plekke wat ons tydens ons weeklikse skoonmaaksessie miskyk.

Sue Moore, die voorsitter van die Bright & Beautiful-skoonmaakdiens in Brittanje, onthul die plekke waar huismense dikwels vergeet om skoon te maak, en wat haar professionele span raaksien wanneer húlle ’n huis gaan skoonmaak …

1. ’n Vuil deurmatjie

Mense stap eerste in die ingangsportaal in, wat beteken dat baie pare skoene bakterieë van buite af inbring. “Deurmatjies en los matte word gewoonlik rondgeskuif wanneer ons stofsuig, maar self word dit nie noodwendig skoongemaak nie,” sê Sue. “Veral ’n deurmatjie is die eerste verdedigingslyn tussen vuiligheid van buite en jou huis se skoon vloere, daarom moet dit gereeld skoongemaak word.”

2. Afstandbeheerders

Wanneer jy skoonmaak, is dit gewoonlik die huisgoed wat met die agtergrond saamsmelt waarvan jy skoon vergeet. Ja, jy was dalk merke van die vloer af, of stof die TV af, maar wat van die kleiner goed wat jy elke dag gebruik?

“Die meeste mense kan nie die laaste keer onthou toe hulle die afstandbeheerder, ligskerms, gloeilampe of gordynspore skoongemaak het nie,” sê Sue. “Veral wanneer jy troeteldiere het, sal jy verbaas wees waar hul hare oral beland, iets wat ons elke dag sien wanneer ons stofsuiersakke leegmaak!”

3. Jou plante

Ja, lewende organismes het ook spesiale aandag nodig, en Sue stel voor dat jy vir ’n slag die plante in jou huis van naderby bekyk. “Goed soos plante sal vir ’n lang tyd groen en gesond lyk, maar van naderby sal jy dalk sien dat dit met ’n dik laag stof bedek is.” Vee eenvoudg blare vinnig af of jy kan selfs jou haardroër koud stel en die stof wegblaas.

4. Jou boeke

Hierdie is ’n belangrike punt vir boekwurms wat hul sagte- en hardebandboeke koester. “Dinge soos boeke word soos muurpapier as ons dit elke dag sien. Maar los jy ’n boek vir jare op ’n boekrak, kan die papier later verbrokkel,” waarsku Sue. “As jy ’n hele biblioteek boeke het, moet jy een keer ’n jaar inspring – haal al die boeke van die rak af, was die rakke, stof die boeke af en skud die blaaie om van enige stof en dooie vlieë ontslae te raak.”

5. Jou skoonmaakgereedskap

“Jy moet ook jou skoonmaakgereedskap skoonmaak en vervang!” sê Sue. “Dis nie die glansrykste inkopielysie nie, maar kombuissponse, besems, stofsuiersakke en stoffers moet met ’n ontsmettingsmiddel en warm water skoongemaak word en gereeld vervang word.”

6. Spieëltafels

Ons kan dalk die oppervlakke van ons spieëltafels afvee, maar klaarblyklik vergeet ons dikwels van die goed wat op die tafel staan. “Skoonheidsprodukte, haarprodukte, grimering en grimeerborsels is alles saamgebondel en die perfekte opgaarplek vir stof,” sê Sue.

7. Ligskakelaars

Dit klink dalk onnodig om jou ligskakelaars skoon te maak, maar dink gou ’n oomblik na hieroor . . . hoeveel keer op ’n dag skakel ons ligte aan en af? ” ’n Vinnige afvee met ’n huishoudelike reiniger sal van enige kieme ontslae raak – doen dit sommer elke keer wanneer jy jou werkoppervlakke skoonmaak.”

En dan is daar nog ’n paar goed wat jy dalk miskyk …

Buite-asblikke

“Buite-asblikke is ’n natuurlike opgaarplek vir stof en kieme, selfs al maak ons seker vullis word netjies in sakke toegeknoop,” sê Sue. “Met buite-asblikke wat minder gereeld leeggemaak word, word dit die blyplek van miljoene kieme. Dit moet dus gereeld behoorlik skoongemaak en ontsmet word.”

Dit geld ook die asblik in jou kombuis. Al gebruik jy vullissakke, maak seker dat jy die kombuisasblik gereeld binne-in ontsmet. Jy vind dalk net uit dat jou asblik die oorsprong van ’n paar vreemde, muf reuke is!

Groentemandjies

As jy van jou groente in ’n mandjie of rakkie buite jou yskas bêre, maak seker jy maak ook daar skoon. “Dit is veral belangrik as jou kombuis warm is,” waarsku Sue.

Die kinders se badspeelgoed

’n Nat, warm badkamer kan die teelaarde wees vir bakterieë en volgens Sue is hier ook plekke waarvan ons dikwels vergeet wanneer ons skoonmaak. Dit sluit in stortkoppe, handdoekrakke, kinders se badspeelgoed en tandeborselhouers.

Sue stel voor dat jy dié items met matige asyn of eko- en kindervriendelike reinigers skoonmaak.

Kapstokke

Dis geen verrassing nie dat kapstokke selde enige aandag geniet, en dit kan tot vogtigheid lei, sê Sue. “Ons sien soms dat stof en vogtigheid voorkom weens jasse wat nat aan die kapstok gehang word,” sê Sue.

Van: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/Choreograph

LEES OOK:

5 huisskoonmaakfoute

Dinge wat jy moet begin skoonmaak wanneer jy kinders het

9 leuens oor huisskoonmaak wat jy vir jouself vertel 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Gebruik só huishoudelike produkte om jou grimeerkwaste skoon te maak

Maklike en doeltreffende wenke wat wérk!

Close