×
Skakel na Engels

Paniekaanvalle: Wat dit is en wat jy daaraan kan doen

Jy is vreesbevange, jy kan nie asemhaal nie, jy voel magteloos en is seker jy is besig om dood te gaan. Dít is hoe ’n paniekaanval voel
paniekaanvalle

Volgens kenners kom paniekaanvalle al hoe meer algemeen voor. Sommige mense ervaar dit een of twee maal in hulle lewe, ander meer dikwels, en dit word gewoonlik meegebring deur situasies wanneer daar voor mense gepraat moet word, voor ʼn onderhoud, of wanneer lewensbesluite geneem moet word.

Wat is ’n paniekaanval?

’n Paniekaanval is die skielike aanvang, ook bekend as ’n “episode”, van oorweldigende angs en intense vrees wat hewige fisieke reaksies sneller terwyl daar nie ’n werklike gevaar of sigbare oorsaak is nie. Hierdie episodes manifesteer verskillend by verskillende mense en kan gedurende ’n rustige of gespanne situasie plaasvind. Paniekaanvalle kan gereeld en onverwags plaasvind, en hou dikwels nie met enige eksterne bedreiging verband nie.

So ’n aanval kan enige iets tussen ’n paar minute tot ’n halfuur duur, en vind plaas wanneer die brein se normale meganisme wat die veg-of-vlug-reaksie beheer op een of ander wyse foutief werk. Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG) lei hierdie wanfunksionering tot ’n oordrewe reaksie op ’n “bedreiging” wat tot verhoogde angs, en in sekere gevalle, paniek kan lei.

Algemene simptome en tekens

Die fisieke tekens en simptome verskil drasties van mens tot mens. In ernstige gevalle voel dit vir lyers asof hulle nie asem kry nie of gaan flou word.

Die algemeenste simptome wat herhaaldelik en onverwags gedurende ’n episode voorkom, sluit in:

  • Hartkloppings
  • Duiseligheid/lighoofdigheid
  • Naarheid
  • Tinteling of gevoelloosheid in die lyf of ledemate
  • Sukkel om asem te haal of kortasemrigheid
  • Borspyne/beklemming in borskas
  • Benoudheid
  • Voel asof jy verstik
  • Voel asof jy versmoor
  • Koue rillings of hittesensasies
  • Bewing/trilling/spiertrekkings
  • Versteurde visie, byvoorbeeld tonnelvisie
  • Vrees
  • Derealisasie (gevoel van onwerklikheid of dat jy los is van jouself)
  • Vrees vir doodgaan
  • Vrees dat jy beheer verloor of mal word

Mense wat terugkerende paniekaanvalle ervaar, behoort ’n dokter te raadpleeg aangesien hulle moontlik aan ’n paniek- of angsversteuring ly. Hierdie lyers het gewoonlik herhaaldelike en onverwagse paniekaanvalle wat met konstante vrese vir verdere aanvalle gepaard gaan.

Wat is die oorsake van paniekaanvalle?

Volgens SADAG sal tussen twee en vier persent van Suid-Afrikaners op een of ander tydstip in hul lewe ’n paniekaanval kry. Dit is twee maal so algemeen by vroue as by mans en die gemiddelde aanvang van paniekaanvalle is gedurende die vroeë 20’s vir vroue en 40’s vir mans.

Die oorsake van paniekaanvalle is grotendeels onbekend. Mediese kundiges meen egter dat die volgende ’n rol speel:

  • Sekere medikasies
  • Genetika
  • Akute stres
  • Geneigdheid tot akute sensitiwiteit vir stres en tot negatiewe emosies
  • Verandering in die manier waarop ’n gedeelte van jou brein funksioneer
  • Een of ander soort trauma
  • Die gebruik of onttrekking van verslawende middels (byvoorbeeld dwelms, alkohol en kafeïen)

Paniek word nie noodwendig deur ’n identifiseerbare voorval of bedreiging meegebring nie. Volgens die Harvard Women’s Health Watch is hierdie aanvalle gewoonlik ’n manifestasie van angstige denke of konstante kommer as gevolg van oormatige stres of ander negatiewe lewenstoestande.

Kan paniekaanvalle behandel word?

Die goeie nuus is dat paniekversteurings behandelbaar is. Daar is verskeie natuurlike oor-die-toonbank-middels soos Rescue Remedy wat verligting bied vir mense wat aan angs en vrees ly. Benewens selfhelptegnieke, kan ernstiger gevalle ook met medikasie en psigoterapie (kognitiewe gedragsterapie) behandel word.

Ongelukkig is daar baie mense wat nie vir hulp gaan nie, en dit kan tot ’n toename in episodes lei. Paniekaanvalle kan die gevolg van ander versteurings wees, sê dr. Mehmet Oz. Volgens die Timberline and Knolls Residential Treatment Center in die VSA kan paniekaanvalle simptome van ander versteurings sneller of vererger. Daarom is dit belangrik om jou dokter te gaan sien indien jy herhaaldelik paniekaanvalle kry.

Dokters beveel aan dat jy die volgende gedurende ʼn aanval doen:

  • Asem diep in deur jou neus.
  • Asem stadig uit deur jou mond.
  • Fokus jou gedagtes op die woord “kalm”.
  • Bly rustig en konsentreer op jou asemhaling.
  • Namate jy op jou asemhaling fokus, behoort jy te kalmeer. Hou daarmee volg totdat jy voel dat dit nie meer nodig is nie.
  • Drink kamille- of rooibostee sodra die episode verby is vir ’n langdurige kalmerende effek.

Kan paniekaanvalle voorkom word?

’n Gesonde en gebalanseerde leefstyl is belangrik. Daarbenewens beveel dr. Thomas Blake aan dat jy die volgende doen om herhaaldelike en/of verdere paniekaanvalle te verminder of voorkom:

  • Gaan so gou moontlik vir behandeling vir paniekaanvalle om te voorkom dat dit vererger en/of meer gereeld plaasvind.
  • Doen gereeld oefening van enige aard.
  • Leer ontspanningstegnieke aan soos diep asemhaling en strekke om stres te verlig (joga is ʼn goeie opsie).
  • Eet gereeld en volg ’n gesonde, gebalanseerde dieet.
  • Vermy kafeïen, alkohol en rook (dit kan simptome vererger en jou risiko vir ’n aanval verhoog).

Foto: iStock/KatarzynaBialasiewicz

LEES OOK:

Rustelose-bene-sindroom: Wat dit is en hoe om dit te behandel

5 wenke om ’n angsversteuring te herken – en hoe om dit te hanteer

Moet jy jou angs ’n “high five” gee?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Pluk jy aan jou vel? Dis meer as net ’n slegte gewoonte

Dermatillomanie: Hoe jou angstigheid jou vel kan beïnvloed

Close