×

Getoetse Produkte: Oorfone

As jy ’n musiekliefhebber is, is dit sekerlik tyd dat jy daardie goedkoop oorfoontjies wat saam met jou selfoon gekom het vir groot oorfone met behoorlike akoestiese omvang verruil.
Oorfone

Met die magdom multimedia waarna ons deesdae op ons toestelle kyk en luister, is dit mode om verskillende oorfone vir verskillende gebruike te hê. Al die groot oorfone wat ons hier getoets het, het eienskappe wat jou voete sal laat jeuk!

DIE BESTE SAKPAS OPSIE

Oorfone

Sennheiser HD 202 II, R599

Dié oorfone lyk dalk eenvoudig, maar dit het ons aangenaam verras! Vir ’n billike R599 het dit pragtig gebalanseerde en opwindende klank gelewer, en maklik ’n paar ander oorfone uitgestof wat drie keer soveel kos. As jy bereid is om die plastiekontwerp en konserwatiewe stilering oor te sien, sal jy baie in jou noppies met dié sakpas kopie wees.

Kenmerke: Pas bo-oor jou ore.

LEKKER KOMPAK

Oorfone

Outdoor Tech Los Cabos, R1 199

Dis ’n duursame opsie vir die bedrywige musiekliefhebber. Dié oorfone pas knus op jou ore en kop en vou klein genoeg op dat jy dit maklik in jou handsak en selfs broek- of hempsak kan dra. Ondanks die dun oorkussings is dit baie gemaklik vir lang sessies omdat dit liggies teen jou ore druk. Die effens ondergemiddelde klankgehalte doen egter afbreuk aan die algehele produk.

Kenmerke: Sit bo-op jou ore, Bluetooth, koordloos

KINDERS SE KEUSE

Oorfone

Amplify Kiddies Monsta Tunez, R96

Dié oorfone is spesifiek vir kleiner kinders gemaak met ’n ligte, buigbare plastiekontwerp, ’n kleiner kopband en ’n paar funky kleurskemas. Die volume is tot 85 dB beperk wat die maksimum toelaatbare vlak van geraasblootstelling is wat oudioloë van die Wêreldgesondheidsorganisasie aanbeveel.

Kenmerke: Sit bo-op jou ore.

BASIESE BLUETOOTH

Oorfone

Skullcandy Grind Wireless, R1 500

Hierdie moderne straatstyl-handelsnaam het al baie gevorder en spog deesdae met beduidend beter klank- en bougehalte. Al is die oorkussings dun, is die oorfone verbasend gemaklik en dit bied ’n lekker lewendige klank vir popmusiekaanhangers en ’n voldoende bas. Die kontroleknoppies is gerieflik op die oorfone geleë en dis maklik om te bemeester. Ons is egter teleurgesteld dat die oorfone nie kan opvou sodat jy dit in ’n rugsak kan pak wanneer jy reis nie.

Kenmerke: Sit bo-op jou ore, Bluetooth, koordloos.

KOEL KALANT

Oorfone

Beats EP, R2 200

Ware klankkenners vermy gewoonlik hierdie uiters suksesvolle handelsnaam weens die aaklige klank, swak bougehalte en peperduur pryse, maar Beats se nuwe eienaar, Apple, is besig om dit stadig maar seker reg te stel. Dié intreevlakstel spog ironies met beter materiale en klank as die duurder aanbiedings. Die bas is steeds baie swaar, wat dit ideaal maak vir elektroniese dans-, hip-hop- en rapmusiek.

Kenmerke: Sit bo-op jou ore.

IN ’N KLAS VAN SY EIE

Oorfone

Sennheiser Momentum Wireless, R6 500

Die oorspronklike Momentumoorfone het die standaard vir die hele bedryf gestel, en nou is daardie selfde byna volmaakte klank met vol, skerp basgehalte en uitstekende middelfrekwensies ook as ’n koordlose opsie beskikbaar. Dit lyk spoggerig danksy gehalte-materiale (leeroorkussings, metaalskarniere en ’n metaalkopband), maar dis steeds lig en gemaklik en vou netjies op. Die goedkoper modelle wat bo-op jou ore sit, is ook fantasties.

Kenmerke: Pas bo-oor jou ore, Bluetooth, koordloos.

REISMAAT

Oorfone

Bose QuietComfort 35, R7 900

Bose is die nommereenkeuse vir geruiswerende oorfone onder mense wat gereeld vlieg. Dit meet die omgewingsgeruis waar jy ook al is en skep dan teenklankgolwe om die steuring uit te skakel. Die dik oorkussings seël ook enige geraas uit. Die oorfone is lekker lig, vou plat op en jy kan die mate van klankisolasie stel soos jy dit verkies. Die niekoordlose QC25 kos baie minder.

Kenmerke: Pas bo-oor jou ore, Bluetooth, koordloos.

Koop Wenke

HOOR HIER!

Daar is hoofsaaklik twee groot oorfoonstyle: die wat bo-op jou ore sit waar die kussinkies teen jou ore druk, en die wat bo-oor jou ore pas wat gewoonlik gemakliker is en beter akoestiek het. Laasgenoemde styl is egter ook bonkiger en duurder. (Dan kry jy ook nog die kleiner oorfoonknoppies wat binne-in jou ore pas.)

BEWEEG VRYLIK

Koordlose oorfone wat met behulp van Bluetooth met jou rekenaar of foon verbind, is nou algemeen beschikbaar en meer bekostigbaar. Die klankgehalte en batterylewe is ook beter, maar Bluetooth-verbindings kan steeds onreëlmatig wees. Die beste Bluetooth-oorfone kan ook met ’n kabel gebruik word.

AANTREKINGSKRAG

Die klein luidsprekers binne-in oorfone wat drywers genoem word, bevat magnetiese metaalstawe. Om oorfone meer draagbaar te maak, maak die meeste behoorlike oorfone deesdae van metaal neodimium gebruik wat baie lig is, maar sterk magnetiese eienskappe het.

FOONVRIENDELIK

Baie meer groot oorfone word deesdae ontwerp om saam met snelfonen gebruik te word, en die beste van dié oorfone kan opvou. Met groter ontwerpe lê die oorfone plat op jou bors wanneer dit om jou nek hang. Byna almal het ingebouwde mikrofone vir oproepe.

MUSIEK IN JOU ORE

Foonapps is beskikbaar om oorfoonklank te optimaliseer. Jy stel nie werklik die oorfone nie, maar die musiek wat op jou foon speel om beter in jou oorfone te klink. Probeer CapTune vir Android en iOS wat jou toelaat om stellings vir elke stel oorfone te stoor.

OP DIE SPEL

Speletjie-oorfone word nie vir musiek ontwerp nie, maar vir gemak tydens lang sessies, duursaamheid en klankisolering om steurende geluide uit te hou. Die meeste gebruik USB en sal nie met jou foon werk nie.

LEES OOK:

Musiek maak dat jy wil dans

Drie gesondheidsvoordele van musiek

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kom kyk hoe jou kleingoed se kuns by Future Park lewe kry

Speel in ’n digitale wêreld wat voor jou oë verander

Close