×
Skakel na Engels

Ontdek jou perfekte fyngeur

Wenke om jou perfekte fyngeur te vind…
Ontdek jou perfekte fyngeur

Ons almal wil ongelooflik ruik, maar nie alle parfuums is van dieselfde gehalte nie, en nie alle geure pas by almal nie. Maar met soveel parfuums te kus en te keur en soveel inligting oor sekere geure wat vir sekere seisoene of vir sekere tye van die dag geskik is, kan die soektog na jou eie fyngeur oorweldigend raak. Hier is ’n paar wenke om die parfuum te kry wat by jou leefstyl, smaak en neus pas!

Soek jou gunstelinge

Jou reuksintuig is nie net aan jou ander sintuie, soos smaak, gekoppel nie; dit het ook die vermoë om herinneringe op te roep. Jou gunsteling-kosse en -seisoen is ’n groot aanduiding van die soort geur waarop jy jou hart sal verloor. As jy byvoorbeeld daarvan hou om op die strand aan ’n yskoue piña colada te teug, sal ’n vars geur waarskynlik vir jou werk.

Lees: Laat jou parfuum langer hou

Wees geduldig

Moenie tydens jou inkopietog so meegevoer raak en soveel verskillende geure aanspuit dat jy later nie meer tussen hulle kan onderskei nie. Waak ook daarteen om impulsief te koop. Soms neem dit ’n tydjie voordat parfuums se note op die vel ontvou, dus behoort jy dit ideaal gesproke eers vir ’n dag te dra of selfs daaroor “te slaap” voordat jy besluit om ’n spesifieke geur te koop.

Lees: 5 vreemde goed wat met jou gebeur terwyl jy slaap

Verwelkom verandering

Wat 20 jaar gelede dalk wonderlik aan jou geruik het, gaan nie noodwendig vandag dieselfde lieflike geur vrystel nie. Namate ons ouer word, ondergaan ons hormoonveranderings en dit beïnvloed ons liggaam se chemiese samestelling. Hou ook in gedagte dat ’n parfuum wat wonderlik aan ’n vriendin ruik, nie noodwendig so goed by jou gaan pas nie. 

Wees oopkop

Probeer oopkop wees wanneer jy verskillende geure uittoets. As jy gewoonlik vir iets warm en speseryagtig gaan, is dit dalk nou tyd om met ’n blomme- of vrugtegeur te eksperimenteer. Jy kan dalk aangenaam verras wees. Onthou dat ’n ideale fyngeur veronderstel is om jou persoonlikheid uit te balanseer, nie te oorweldig nie. Speel dus rond totdat jy ’n geur opspoor wat ideaal vir alledaagse gebruik is.

FOTO: iStock/Yuri_Arcurs

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief