×
Skakel na Engels

Ontdek jou kind se huiswerkpersoonlikheid

Wen die huiswerkstryd eens en vir altyd deur vas te stel wat jou kind se leerstyl is
Ontdek jou kind se huiswerkpersoonlikheid

Dis verstommend hoe baie ouer-kind-spanning ’n paar wiskunde- of leesoefeninge kan veroorsaak. Ann Dolin, ’n opvoedkundekenner en die skrywer van Homework Made Simple (Advantage Books), sê om jou kind se huiswerkpersoonlikheid vas te stel kan julle help om dié struikelblok te oorkom.

1. Juffrou ongeorganiseerd

Dit is die kind wat die verkeerde boek huis toe bring of wat haar huiswerk doen, maar dit nie die volgende dag kan opspoor nie. “Baie ouers dink dis moedswillig,” sê Dolin. “Maar dikwels is dit omdat die kind se uitvoerende vermoë nog nie goed ontwikkel is nie.

Om dít te aanvaar sal julle baie help.” Moenie oorneem nie, maar help haar om haarself reg te ruk: Stel byvoorbeeld ’n weeklikse “regpaksessie” vir die gesin in, waartydens sy haar rugsak kan uitpak terwyl jy daardie gemorslaai takel. “Deurmekaar rugsak, deurmekaar kop,” sê Dolin.

2. Die haastige een

Hy handel sy huiswerk in ’n rekordtyd af, maak simpel foute en gee nie aandag aan die detail nie. Weer sy werk deurgaan? Nooit! Hy het plekke om heen te gaan. “Dit sal nie help om te sê ‘Werk stadiger!’ nie,” sê Dolin. Sy stel eerder ’n toegewyde huiswerktyd voor.

“Sê vir hom: ‘As jy klaar is, kan jy vooruit werk, jy kan lees, jy kan wiskundefeite op die rekenaar oefen, maar dié tyd word vir skoolwerk opsygesit.’ ” Dit beteken daar is minder rede om te jaag – en minder spanning tussen julle twee.

Lees: 5 goed om te doen voordat jy vir jou kind ’n slimfoon gee

3. Die uitsteller

Sy kry nie ’n potlood nie, sy kry koud, sy wil water hê … Hierdie kinders vermy nie net huiswerk nie. “Soms voel hulle oorweldig en nie voorbereid genoeg nie,” sê Dolin. Moedig haar aan om klein doelwitte te stel, soos twee wiskunde-oplossings of eers net die maklikstes, waarna sy ’n kort blaaskans kan vat. ’n Tydtoestel kan ook help.

“Sy kan dit stel en byvoorbeeld sê: ‘Ek gaan 10 minute werk en dan rus,’ ” sê Dolin. As dié kinders eers aan die gang is, werk hulle dikwels onverpoos.

4. Die dagdromer of rustelose kind

Hierdie kinders – die probleme is vanselfsprekend – kan ook by ’n tydtoestel baat vind. Probeer om hul huiswerk in kort segmente van niks langer nie as 20 minute op te breek en laat hulle vir elkeen na ’n ander plek skuif.

“Rustelose kinders doen ook dikwels goed wat ouers en onderwysers irriteer, soos om op hul stoel te ry of ’n pen te kliek,” sê Dolin. “Ons instink is om te sê: ‘Hou op!’ Maar laat hulle vroetel. Hulle moet van daardie energie ontslae raak.”

Lees: 5 wenke oor hoe om met jou dogter oor haar maandstonde te praat

5. Meneer gefrustreerd

As lees tot woede of wiskunde tot groot drama in jou huis lei, is dit tyd om briek aan te draai. “Niemand kan midde-in ’n woedebui helder dink nie,” sê Dolin. “Dis wanneer ouers hulle moet onttrek. Sê: ‘Ek gaan my e-pos lees. Kom soek my wanneer jy weer wil begin.’

” Probeer om nie met die tweede rondte vir jou kind te sê hoe hy die probleem moet hanteer nie. “Vra: ‘Het jy ’n voorbeeld? Het jy notas hieroor? Is dit op ’n ander werkblad?’ ” sê sy. “Jy leer hulle om onafhanklik te wees. Hoe meer jy rondhang, hoe erger sal die uitbarsting wees.”

FOTO: iStock/Ridofranz

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief