×
Skakel na Engels

Ons onthou prinses Diana se begrafnis – 20 jaar later

Ons kyk terug op die emosionele optog, blommekranse en graaf Spencer se roerende elegie. Deur Olivia Blair
prinses Diana

Wat op die dag van die bekendmaking van haar dood as ’n paar spontane blyke van rou begin het, het ’n week van openbare roubetoon ingelui wat uiteindelik na die amptelike gedenkdiens in die Westminster-abdy opgebou het, net ses dae ná die tragiese motorongeluk wat Diana se lewe geëis het.

Twintig jaar later is haar begrafnis steeds een van die grootste televisiegebeure in die geskiedenis.

In Brittanje, op BBC alleen, het 19,29 miljoen mense gekyk hoe prins William en prins Harry, destyds net 15 en 12, van hul ma afskeid neem. In die Verenigde State was daar 33,2 miljoen kykers – volgens Reuters meer as wat in 2011 na William en Kate se troue gekyk het. Na raming was daar wêreldwyd 2,5 biljoen mense wat die seremonie op televisie gevolg het.

Benewens dié wat op hul televisieskerms gekyk het, het ongeveer ’n miljoen mense langs die strate in sentraal-Londen saamgedrom om haar die laaste eer te bewys. Danksy haar gewildheid was die abdy self ook gepak met beroemdes, koninklikes en liefdadigheidsvennote.

Op die twintigste herdenking van haar dood kyk ons terug na Diana se begrafnis, van die hartverskeurende optog tot die skynbaar eindelose blommekranse en ’n kontroversiële elegie deur Diana se broer.

Voor die begrafnis

Na haar dood in die Pitié-Salpêtrière-hospitaal in Parys is Diana se liggaam na ’n koninklike lugmagbasis gevlieg. Aanvanklik het die koningin gevoel dat dit “onvanpas” sou wees as ’n lid van die koninklike familie die liggaam gaan haal. “Die Spencers is haar familie, Charles,” het sy volgens die biograaf Christopher Andersen glo aan Charles gesê. “Hulle behoort Diana terug te bring.”

Maar die koningin het uiteindelik toegegee en prins Charles het haar liggaam op 1 September 1997 saam met Diana se susters, lady Anne Fellowes en lady Sarah McCorquodale, na Engeland toe teruggebring.

Die kis, in die koninklike vlag gedrapeer, is in ’n kort prosessie deur draers van die koninklike lugmag tot by die lykswa gedra van waar dit na ’n onvermelde lykshuis toe geneem is. Diana se seuns, William en Harry, was op daardie stadium in Balmoral, die koninklike residensie in Skotland.

Op die vooraand van die begrafnis is haar liggaam van die St. James-paleis na Kensington-paleis toe geneem. Prins Charles, prins William en prins Harry het in motors gevolg en duisende bedroefde Londenaars het uitgekom om haar eer te bewys.

Die optog

Prinses Diana se gedenkdiens was ’n koninklike seremoniële begrafnis – nie ’n staatsbegrafnis nie – en het met ’n optog vanaf Kensington-paleis na Westmister-abdy begin.

Verslae omstanders huil by die begrafnis (Gallo Images/Getty Images)

Die prinses se liggaam het die paleis net ná 9:00 op ’n kanonwa verlaat wat deur perde getrek en deur koninklike wagte in beervelhoede begelei is. Die kis was in dieselfde koninklike vlag gedrapeer en met wit lelies versier. Bo-op was daar ’n koevert wat eenvoudig “Mamma” gelees het. Snikke het uit die skare opgeklink toe die optog begin, en omstanders het Diana se naam en “ons is lief vir jou” uitgeroep terwyl hulle blomme na die kis gegooi het.

Die koninginmoeder en die koningin by prinses Diana se begrafnis (Gallo Images/Getty Images)

Die koningin, haar suster Margaret, prinses Anne en ander lede van die koninklike familie het buitekant Buckingham-paleis gestaan – waar die Union Jack halfmas gewapper het – en hul hoofde gebuig toe die kis verbykom.

Verder in die straat af het William en Harry, prins Charles, prins Philip en haar broer, graaf Spencer, by die optog aangesluit en agter die kis aangeloop. Verteenwoordigers van die verskeie liefdadigheidsorganisasies waarby Diana betrokke was, het ook by die stoet ingeval.

Die prentjie van die 12-jarige Harry wat agter sy ma se kis aanloop, is een van die mees onuitwisbare beelde van ’n week wat baie mense regoor die wêreld steeds glashelder onthou – en wat sedertdien by die jong prins gespook het. Net onlangs het die 32-jarige Harry oor die trauma van die ervaring gepraat en gesê dat geen kind so iets behoort deur te maak nie.

“My ma was pas dood en ek moes ’n hele ent agter haar kis aanloop, omring deur duisende mense wat my dophou terwyl miljoene op televisie gekyk het,” het Harry aan Newsweek vertel. “Ek dink nie dit moet van enige kind verwag word nie. Onder geen omstandighede nie. Ek dink nie dit sal vandag gebeur nie.”

Die hertog van Edinburgh, prins William, graaf Spencer, prins Harry en prins Charles loop agter Diana se kis (Gallo Images/Getty Images)

Graaf Spencer het ook onlangs weer oor die begrafnis gepraat. Hy het aan BBC vertel dat hy onder die indruk was dat die prinse aan die optog wou deelneem, maar beweer nou dat daar vir hom gejok is, en dat dit “bisar en wreed” was om hulle dit te laat doen.

Die optog het die aandag opnuut op die reusagtige versameling blomme gevestig wat deur lede van die publiek buitekant die St. James-paleis neergelê is. Volgens CNN is ’n geskatte 60 miljoen blomme daar gelaat om die prinses se lewe te gedenk.

Die teenwoordiges

Benewens lede van die koninklike familie en die Spencers, het politici, beroemdes, vriende en kollegas van die baie liefdadigheidsorganisasies waarby Diana betrokke was, ook die begrafnis bygewoon. Familie van haar metgesel Dodi Al Fayed – wat ook ná die ongeluk dood is – was ook daar.

Van die politici wat teenwoordig was, was die Britse eerste minister Tony Blair, sowel as al die oorlewende vorige eerste ministers: John Major (wat ná Diana se dood as ’n wettige voog oor William en Hary aangestel is), Margaret Thatcher, James Callaghan en Edward Heath. Die voormalige presidentsvrou Hillary Clinton het die VSA verteenwoordig en ook Henry Kissinger het die diens bygewoon.

Voormalige presidentsvrou Hillary Clinton (Gallo Images/Getty Images)

Daar was ook ’n indrukwekkende lys beroemdes. Elton John, sy man David Furnish, en George Michael het aan haar kom eer bewys, sowel as Tom Cruise en sy gewese vrou Nicole Kidman, Tom Hanks, Steven Spielberg, Sting en Trudi Styler, Diana Ross, die sakeman Richard Branson en die operasanger Pavarotti, wat volgens The Independent aanvanklik gesê het dat hy te hartseer was om te kom.

Tom Hanks, Tom Cruise en Nicole Kidman (Gallo Images/Getty Images)

Diana, wat self ’n stylikoon was, se begrafnis is dan ook heel gepas deur verskeie ontwerpers en groot name in die modebedryf bygewoon, insluitend Donatella Versace, Karl Lagerfeld, en Anna Wintour.

Donatella Versace, Anna Wintour en Karl Lagerfeld (Gallo Images/Getty Images)

Die diens

Die kis is deur agt draers uit die koninklike wag tot voor in die abdy gedra waar vier groot kerse gebrand het. Twee kranse is aan die voet van die kis neergelê: een deur die koningin en hertog van Edingburgh en een deur die prins van Wallis, prins Harry, en prins William.

Die diens, wat deur die deken van Westminster gelei is, het voorlesings deur die eerste minster, Tony Blair, en Diana se susters ingesluit. Die eerste gesang is deur prins William gekies omdat dit een van sy ma se gunstelinge was, het BBC destyds berig.

Daarna het haar vriend Elton John ’n verwerking van sy 1973-treffer Candle in the Wind gesing, ’n lied wat aanvanklik oor Marilyn Monroe geskryf is, maar wat sedertdien met die prinses geassosieer word.

Die treffendste oomblik van die begrafnis het moontlik met Charles Spencer se lykrede aangebreek, ’n toespraak wat vandag nog ’n bron van fassinasie en kontroversie is. Die elegie is deur baie as ’n aanval op die koninklike familie beskou, veral toe hy gesê het dat sy suster nie ” ’n koninklike titel nodig gehad het” om haar liefdadigheidswerk voort te sit nie. Hy het hom ook persoonlik tot prinse William en Harry gerig en belowe om hulle te beskerm.

“Ek belowe dat ons, julle bloedfamilie, alles in ons vermoë sal doen om die kreatiewe en liefdevolle manier waarop [Diana] hierdie jong mans gelei het, voor te sit, sodat hul siele nie net deur verpligtinge en tradisie verswelg sal word nie, maar vry sal kan sing soos jy sou wou hê. Ons respekteer die erfenis waarin hulle albei gebore is … maar ons, net soos jy, besef dat hulle nodig het om soveel moontlik aspekte van die lewe te ervaar,” het hy gesê.

Graaf Spencer en prins Harry gaan saam die kerk binne. (Gallo Images/Getty Images)

Die graaf het die Britse media ook daarvan beskuldig dat hulle met Diana “gespot” het. Hy het meer onlangs gesê dat die pers en paparazzi “die [aanval in die elegie] verdien het”.

Spencer het baie eerlik oor sy suster gepraat en gesê dat alhoewel sy  ’n wêreldwye simbool van “onselfsugtige menslikheid”, glans en status was, sy “eintlik ’n baie onseker mens gebly het, amper kinderlik in haar begeerte om goed te doen aan ander sodat sy haarself van ’n diep onwaardigheidsgevoel kon bevry waarvan haar eetversteurings bloot ’n simptoom was.”

Aan die einde van sy toespraak het sy stem gebreek voordat die abdy deur ’n dawerende applous van toehoorders buite en binne die kerk gevul is, iets wat die graaf weens emosionele uitputting nie kan onthou nie. Hy het ’n uur en ’n half aan die elegie geskryf, met die ingesteldheid dat hy namens iemand praat “wat nie meer ’n stem het nie”.

“Ek dink nie ek het baie snedige dinge gesê nie,” het hy verlede maand aan BBC gesê. “Ek glo dat alles wat ek gesê het, waar was … Ek was nie daarop uit om enigiemand aan te val nie; ek wou Diana se lewe vier.”

As die koningin se peetseun het die graaf gesê dat hulle nog nooit oor die toespraak gepraat het nie. Hy het egter deur ’n gemeenskaplike party gehoor dat die monarg gesê het “dat hy alle reg gehad het om te sê wat hy gevoel het; dit was sy suster se begrafnis”.

Die teraardebestelling

Ná die diens is Diana se liggaam onder die gelui van Westminster-abdy se klokke na die lykswa gedra, en van daar af deur sentraal-Londen vervoer, weer eens onder applous en uitroepe van die skare wat hul laaste eer aan haar wou bewys. Die bestuurder moes die ruitveërs aanskakel om die blomme af te vee wat op die lykswa gegooi is, en op ’n stadium moes hy stilhou sodat van die blomme verwyder kon word.

Prinses Diana se graf op die Althorp-landgoed (Gallo Images/Getty Images)

Ná die stoet se roete deur Noord-Londen het die lykswa die snelweg bereik – onder polisiebegeleiding om te sorg dat ander voertuie op ’n afstand bly – en die res van die rit na die Spencers se landgoed Althorp in Northamptonshire afgelê. Die voetgangerbrug oor die snelweg was vol mense wat nog ’n laaste blik van die stoet wou kry.

Die teraardebestelling was ’n privaat aangeleentheid wat slegs deur die Spencer-familie, prins Charles, William en Harry bygewoon is. Diana is op ’n eiland in ’n meer begrawe op die landgoed waar sy as dogtertjie gespeel het. Sy was in ’n swart langmourok deur Catherine Walker, een van haar gunstelingontwerpers, geklee. In haar een hand was die gebedsnoer wat moeder Teresa slegs twee maande voor haar dood vir haar gegee het.

Haar laaste rusplek huisves ’n klein tempel en by die ingang van die landgoed is daar nog ’n gedenkstandbeeld opgerig.

Vroeër hierdie somer het die hertog en hertogin van Cambridge, hul kinders prins George en prinses Charlotte, en prins Harry saam met die Spencer-familie ’n privaat gedenkdiens by Althorp bygewoon om die 20ste herdenking van Diana se dood, en wat haar 56ste verjaardag sou wees, te gedenk.

In Augustus sal ’n standbeeld ter ere van Diana by Kensington-paleis onthul word.

“Dit is nou 20 jaar sedert ons ma se dood en dit is nou tyd om haar positiewe impak in Brittanje en regoor die wêreld met ’n permanente standbeeld te erken,” het prins William en prins Harry vroeër die jaar in ’n gesamentlike onderhoud gesê.

“Ons ma het soveel lewens aangeraak. Ons hoop die standbeeld sal almal wat Kensington-paleis besoek die geleentheid bied om oor haar lewe en haar nalatenskap na te dink.”

Uit: Town&Country US

HOOFFOTO: Gallo Images/Getty Images

LEES OOK:

15 foto’s wat wys hoe prinses Diana was voordat sy ’n koninklike geword het

Die Britse koninklikes hou ’n herdenkingsdiens vir prinses Diana

Prins William en prins Harry onthul hoe prinses Diana regtig as ’n ma was

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 van Kate Middleton se nuttigste stylgeheime

Jy hoef nie ’n koninklike te wees om hierdie wenke en kunsies in te span nie

Close