×
Skakel na Engels

Ons 10 beste Kersfeeskoekie-resepte

Hier’s ons lys van die lekkerste koekies om self te geniet of as geskenke te gee

Tuisgebakte koekies maak lieflike Kersgeskenke, veral as jy dit verpak in flesse wat mooi feestelik versier is. En geen familievakansie is volmaak sonder ’n blik van almal se gunstelingkoekies nie. Daar is net meer as ’n maand oor tot Kersfees, wat beteken dis nou die ideale tyd om jou baklysie op te stel! 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Met soveel watertand-lekker koekies op ons webwerf, was dit moeilik om net 10 te kies. (Ons het so ’n aaklige werk!) Maar hier is dit – die 10 koekies wat soos soetkoek opgeëet sal word:

1. Murgpampoentjie-en-klapperkoekies

Murgpampoentjie in ’n koekie? Dit smaak baie lekkerder as wat dit klink – belowe! Dis die perfekte kombinasie van “gesond” en “njammie” en word van heilsame hawermout en klapperolie gemaak.  

2. Grondboontjiebotterkoekies

Maak hierdie koekies ’n bietjie gesonder deur suikervrye grondboontjiebotter of makadamianeutbotter te gebruik, wat albei goeie bronne van proteïen is, en vervang die suiker deur xilitol of heuning. Geniet dié koekies saam met ’n koppie koffie of tee vir ’n heerlike bederf.

3. Frambooslepelsteeltjies 

Hierdie outydse lekkernye het geen fieterjasies nodig om dit vir Kersfees op te dollie nie – pak dit in ’n mooi koekieblik wat met bak- of sneespapier uitgevoer is, sit die deksel op, en siedaar! Probeer gerus ander variasies ook, soos verskillende geure konfyt of rol die balletjies (stap 2) in fyngekapte neute voordat jy die resep verder volg.

4. Klapperkoekies 

Toe die sanger en liedjieskrywer Amy Jones klein was, het sy altyd haar ouma gevra om dié klapperkoekies te bak. Sy sê die geur herinner haar aan haar kinderdae. Sy het dié resep met ons gedeel toe sy as ’n Bekende Bobaas-bakker in ons tydskrif verskyn het.

5. Pistasie-biscotti

Marian Keyes, een van Brittanje se mees geliefde skrywers, vertel van hierdie resep wat sy met ons gedeel het: “Dié resep vra ’n eetlepel pistasie-olie omdat ek – per toeval eendag lank, lank gelede – ’n blik daarvan in ’n deli ver weg gekry het en ek ’n kans gesoek het om dit te gebruik. Die waarskynlikheid dat jy dit in die hande kan kry, is klein. Jy kan dus gerus olyfolie gebruik.” Lekker bak . . . en eet!

6. Koekies met bosbessies en neute 

Die selebsjef en een van ons Bekende Bobaas-Bakkers Siba Mtongana het hierdie resep met ons gedeel. “Hierdie heerlike koekies moet beslis bros wees, nie sag nie. Ek sit dit met roomys en grenadillasous voor.”

7. Sjokolade-hawermoutkoekies

Hierdie vinnige en maklike koekies sal beslis ’n teetydgunsteling word! Vervang die melksjokolade met donker of wit sjokolade vir ’n ander smaak – die keuse is joune! 

8. Gemmerbroodkieries

Hierdie stokkies is die bros, gesofistikeerde weergawe van gemmerbroodmannetjies. (Volg die wenk aan die einde van die resep as jy eerder gemmerbroodmannetjies wil maak.) En niks sê Kersfees soos die geur van kaneel, neutmuskaat en gemmer nie. Versier dit met eetbare balletjies in feestelike kleure.

9. Versierde ringe

Hierdie koekies (onversier) kan vir tot twee weke hou as dit in ’n lugdigte houer gebêre word. Sodra dit versier is, moet dit verkieslik binne twee dae geëet word. Hou dit dus in gedagte as jy dit as ’n Kersgeskenk wil gee.

10. Suurlemoen-ricottadonskoekies

Ons het dié Italiaanse gunsteling met mooi ligblou versiersel bedruip. Eetbare sterre (by bakwinkels te kry, maar gebruik enige ander silwer versierings) gee hierdie sagte lekkernye ’n ekstra feestelike voorkoms. 

LEES OOK:

5 nuttige selfdoen-Kersgeskenke 

’n Koekieresep vir elke dag van die week 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Virtuele Santa Shoebox-projek: Jy kan nou alles aanlyn doen!

Die Kersfeesvrolikheid begin vanjaar vroeg!

Close