×
Skakel na Engels

Onderhoud met MC-deelnemer Sarel

Ons het ’n bietjie met Sarel, een van die deelnemers aan MasterChef SA, gesels oor sy lewe, sy passie vir kosmaak én die kompetisie

@GoodHouseSA: Ons hoor dat behalwe vir die avontuurruskamp, besigheid en museum wat jy bedryf, is jy ook ’n pastoor. Jy’s omtrent bedrywig! So, wat het jou laat besluit om aan MasterChef deel te neem?

@SarelvanSabie: Ja, ek’s ’n ‘busy body’! Kosmaak was nog altyd my passie en MasterChef het my die geleentheid gebied om te kóók.

 

@GoodHouseSA: So, waar presies kom jou passie vir kook vandaan? Het iemand jou beïnvloed of geïnspireer?

@SarelvanSabie: Ek maak al kos sedert ek 10 jaar oud is. My ma moes dikwels van die huis af wees, so ons kinders moes maar leer kook. Ek het altyd die “Kook en Geniet” gebruik. TV-kokke soos Nigella het my geïnspireer asook kosmaakprogramme soos MasterChef VK – die Australiese een was by verre die beste!

 

@GoodHouseSA: “Kook en Geniet” bly maar ’n wenner! Wat was vir jou tot dusver die moeilikste uitdaging op MasterChef?

@SarelvanSabie: Ek dink die eerste een – die oudisies was baie moeilik omdat ons nog geen idee gehad het wat om te verwag nie. Die moeilikste aspek van die kompetisie is egter die verstandelike uitdagings. 

 

@GoodHouseSA: Ons kan ons net voorstel! En wat was tot dusver die hoogtepunt vir jou?

@SarelvanSabie: Die ‘Salmon Three Ways’-uitdaging. Daarna het ek net gewéét ek kan wen. Dit het my baie selfvertroue gegee, maar terselfdetyd was dié uitdaging ook ’n laagtepunt vir my. Dit was die dag dat Lwazi uitgestem is én ek het gehoor dat my ma baie siek en in die hospital is.

 

@GoodHouseSA: Dit moes ’n baie moeilike dag vir jou gewees het.

@SarelvanSabie: Ja, dit was nie my beste dag nie, maar die vervaardigers was so gaaf. Hulle het my baie goed laat lyk – daar’s nie eens één traan in daardie episode nie! Dankie!

 

@GoodHouseSA: Ons hoor jy spesialiseer in nagereg. As die volgende MasterChef-uitdaging is om jou beste nagereg voor te berei, wat sal jy vir die beoordelaars maak?

@SarelvanSabie: Ek sal karamelsuiker-en-neut-geur roomys op ’n brandewyngeur koekie bedien met ’n bessiesous daarby.

 

@GoodHouseSA: Sjoe, ons monde water! Gepraat van uitdagings, wie dink jy is jou grootste kompetisie op hierdie stadium?

@SarelvanSabie: Daar is fantastiese kokke in die program. Ek dink Samantha en Deena het baie koskennis, maar Ilse en Lungi is ook baie talentvol.

 

@GoodHouseSA: Inderdaad ’n klomp talentvolle kokke! Dink jy die feit dat jy ’n bietjie ouer as die meeste van die ander deelnemers is, gee jou ’n voorsprong?

@SarelvanSabie: Ouer? Ek en Deena spot dat ons die “ouderlinge” is. Meer tyd in die kombuis, meer ondervinding – ja, ek dink dit gee ons ’n effense voorsprong. Dit help ons ook om die verstandelike uitdagings van die kompetisie beter te hanteer.

 

@GoodHouseSA: So as jy die eerste Suid-Afrikaanse MasterChef is, watter deel van die prys dink jy sal jy die meeste geniet? Dalk jou eie restaurant?

@SarelvanSabie: Ek droom al daarvan dat mense by my restaurant kom eet en die kos geniet wat ek voorberei. Dis tog waaroor kosmaak vir my gaan – om mense se magies volt e maak!

 

@GoodHouseSA: Dis baie waar. En dan laastens, Sarel, watter raad het jy vir iemand wat nie kan kook nie, maar wat wil leer hoe.

@SarelvanSabie: As jy kan lees, kan jy kook. Jy moet net probeer. Maak elke week iets anders – party geregte gaan vrot uitkom en ander gaan fantasties wees. As jy glad nie regkom nie, lees die resep weer of bel my en ek sal help!

 

@GoodHouseSA: Dankie vir die raad, Sarel. Ons gaan jou by jou word hou!

 

Vind meer uit oor Sarel en die MasterChef SA -kompetisie.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Resep vir pret

Die Table Bay Hotel by die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad vier sy 15de verjaardag dié maand en Goeie...

Close