×
Skakel na Engels

Neem kosfoto’s soos ’n kenner

Glanskok Jamie Oliver en die bekende fotograaf David Loftus onthul die geheime van kosfotografie. Of jy ’n kosblogger is en of jy dit net geniet om jou eie kosskeppings af te neem, dié wenke sal jou help om jou kosfoto’s professioneel te laat lyk

Om kos te fotografeer is ’n neiging wat die afgelope jaar oral op sosiale media-netwerke  kop uitgesteek het, en die onderwerp is veral gewild onder bloggers.

 

So hoe kan jy jou D-SLR-kamera (digitale enkellens-refleks-kamera) ten beste inspan om jou kosfoto’s goed genoeg te laat lyk om aan te smul, en jou fynproewer-vriende te beïndruk?

 

Om die kosfotografie-tendens te ondersoek en vas te stel presies hoe professionele kokke hul kookkunsskeppings so smullekker laat lyk, het Nikon saamgespan met die glanskok, Nikon-ambassadeur en D-SLR-aanhanger Jamie Oliver, en sy spanmaat – die professionele kosfotograaf David Loftus – om die geheime agter die kosfotografiebedryf te onthul.

 

Dit draai alles om spoed

Volgens David is spoed ’n kritieke element as dit by kosfotografie kom, waar vars bereide bestanddele of ’n stomende gereg ’n ‘fotoleeftyd’ van enkele minute het. Deur ’n D-SLR-kamera soos die Nikon D3200 te gebruik, kan jy jou vinger op die kamera se sluiter hou om seker te maak dat jy die volle drama van die skepping van die gereg vasvang, ’n storie met jou kos vertel, en bowenal al jou geregte watertandlekker laat lyk.

 

Die skoonheid van alles

As jy ’n D-SLR-kamera gebruik, kan die skiet van kosfoto’s baie meer as eenvoudige mik-en-druk-fotografie raak. Deur ’n veelsydige kamera vir alle geleenthede met ’n wye fokusspeling (‘focal range’) en verskeie skootstellings (‘shot settings’) te gebruik, behoort jy nie van lens te hoef verander nie as jy eers ’n nabyskoot van ’n gapermossel wil neem en dan wil uitzoem om die opgerolde spaghetti daaronder vas te vang nie. Kookkuns draai alles om “hoe morsig kosmaak eintlik kan wees”, sê Jamie. Deur die sluiterspoed stadiger te stel, kan jy die oomblik vasvang wanneer die sjef ’n knoffelhuisie met die kant van ’n mes pars, of ’n eier in ’n pan oopkraak.

 

Wees kreatief en begin ’n nuwe neiging

David en Jamie stem albei saam dat om voor in die kosfotografie-koor te bly, jy kreatief met jou fotografietoerusting te werk moet gaan. Met moderne lense kan jy jou kamera op verskeie kreatiewe maniere inspan. Volgens David sal ’n liggewig D-SLR-kamera jou in staat stel om goeie gehalte kosfoto’s enige tyd van die dag te skiet, selfs al kook jy net in jou eie kombuis.  “Met ’n D3200 hoef jy nie ’n flitstoestel (flash) te gebruik nie – draai net die ISO-stellings hoër en dan kan jy selfs in swak lig skiet”.

 

Die regte agtergrond

Die regte kleur op die agtergrond kan ’n eendimensionele kosfoto sommer hope beter laat lyk. Jamie en David beveel aan dat jy neutrale kleure soos natuurlike hout en staal gebruik om die tekstuur van die kos na vore te bring. David dra altyd houtsnyborde en katoenlappe in verskillende kleure met hom saam om ’n verskeidenheid van geregte met verskillende kleurkombinasies te kan afneem.

 

 

Topwenke om kosfoto’s soos ’n kenner te neem:

1. Gebruik neutrale agtergronde om die teksture in die kos na vore te bring.

2. Werk met natuurlike, sagte beligting om vars bestanddele te laat uitstaan.

3. Werk vinnig met die kameraskote, veral as daar hitte en stoom by betrokke is.

4. Skiet baie skote, en vang die “morsery” vas. Om te kook is morsig!

5. Neem aksieskote deur ’n stadige sluiterspoed te gebruik om só die energie van kosmaak vas te vang.

6. Stel die foto op met die doel om ’n storie te vertel en moenie bang wees om jou hande te gebruik nie.

7. Gebruik makro-stellings (‘macro settings’) om verrassende nabyskote vas te lê.

8. Gebruik kleurvolle bestanddele, en roomwit borde om die kos op te bedien.

9. Raak kreatief. Kry ’n interessante invalshoek, selfs al beteken dit jy moet op die toonbank klim om ’n pot stomende pasta van bo af af te neem.

10. Maak die skepper van die gereg se uitgangspunt jou eie. Dit geld ook voordat jy aan die kos begin weglê!

 

 

Hier demonstreer Jamie Oliver en David Loftus van hul wenke:

 

Met vergunning van Nikon.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Leser deel haar geheime vir suksesvolle gewigsverlies

Lynette Steyn vertel hoe sy 65 kilogram in 15 maande afgeskud het en hoe jý dit ook kan doen

Close