×
Skakel na Engels

Nageboortelike haarverlies: Wat vroue moet weet

Jy word dalk ’n bondeltjie vreugde ryker, maar verbeel jy jou of raak jou kop al hoe yler?
haarverlies

Die liggaam ondergaan drastiese veranderinge tydens swangerskap. Party van dié veranderinge is dinge waarvan ons dikwels hoor, en ander – soos nageboortelike haarverlies – is minder bekend. Maar wat omtrent swangerskap en geboorte maak dat vroue se hare in bosse uitval? En kan hulle enige iets doen om dit te keer of te herstel?

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Telogeen gravidarum, of telogeen effluvium, is die uitermatige verlies van hare ná geboorte en dit begin gewoonlik tussen twee tot vier maande nadat jou baba gebore is. Ondanks die feit dat dit nie ’n bekende onderwerp is nie, word 40 tot 50% van nuwe ma’s daardeur geraak.

Lees: Hoe om jou vel tydens jou swangerskap te versorg

Die oorsaak

Wanneer ’n vrou swanger is, gaan haar hormone op hol en een hormoon wat veral aktiewer as gewoonlik is, is estrogeen. Die estrogeen keer dat die hare uitval, maar nadat die baba gebore is, daal die ma se hormoonvlakke skielik en dít is wanneer haarverlies kan voorkom.

En ons praat nie van ’n paar haartjies nie – dit val sommer in bosse uit. Borsvoeding kan ook daartoe bydra omdat dit die liggaam se vlakke van prolaktien verhoog wat ook met haarverlies verband hou.

Lees: Val jou hare uit? Dis nie net jy nie

Voorkoming

Ongelukkig is daar geen manier om dié haarverlies te keer nie. Die goeie nuus is dat dit slegs tydelik is en jou hare gewoonlik binne ’n jaar weer normaal sal wees. In die tussentyd is daar ’n paar maniere waarop jy jou haargroei kan verhoog en jou hare dikker en voller kan laat lyk:

1. Gebruik ’n sjampoe wat volume skep: Dit bevat silikoon polimere met ’n silikoonbasis wat die hare bedek en ’n voller voorkoms skep.

2. Vermy produkte wat die hare te veel opknap: Dié produkte kan bestanddele bevat wat die hare afrem en plat maak, wat dit meer opsigtelik sal maak dat die hare dunner is.

3. Wees jou hare genadig: Dra dit soveel moontlik los en as jy dit moet vasmaak, moet dit nie te styf agtertoe trek nie, want dit veroorsaak spanning en kan die hare uittrek.

4. Neem ’n aanvulling: Biotien bevat natuurlike ensieme wat haargroei help bevorder en kan jou hare dikker en gesonder as voorheen laat teruggroei. 

FOTO: iStock/Mehmet Hilmi Barcin

LEES OOK:

5 bestanddele van skoonheidsprodukte wat swanger vroue moet vermy

Die voor- en nadele van haarverlengings

15 interessante skoonheidsfeite

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 skoonheidsdilemmas tydens swangerskap en hoe om dit op te los

Swanger en mooi!

Close