×
Skakel na Engels

Nadat #MeToo-veldtog soos ’n veldtog versprei, reageer mans met #ItWasMe

“Ek was ‘daai ou’ wat die bewerings van slagoffers ondermyn het. Jul deursettingsvermoë het my laat verander.” Deur Samantha Brodsky
#MeToo-veldtog

Op 5 Oktober het ’n New York Times-exposé dekades se aantygings van seksuele teistering teen Harvey Weinstein aan die lig gebring, waarvan agt buite die hof geskik is. The New Yorker het vyf dae later met nog ’n hele paar aantygings gevolg.

Angelina Jolie en Gwyneth Paltrow was van die beroemdste aktrises wat gesê het dat hulle deur Weinstein geteister is. En Jennifer Lawrence en Reese Witherspoon was twee van die hordes ander vroue in Hollywood wat oor hul eie ervaring van seksuele teistering in die bedryf gepraat het. Baie vroue het gesê dat hierdie openbare bekentenisse hulle aangemoedig het om hul swye te verbreek.

Die aktrise Alyssa Milano, wat saam met een van Weinstein se vermeende slagoffers, Rose McGowan, gewerk het, het vroue aangemoedig om die hutsmerk #MeToo te gebruik in ’n poging om te bewys hoe verreikend hierdie probleem vandag nog is.

Met meer as 21 000 hertwiets en 61 000 reaksies het Milano se oproep gou tot ’n volskaalse beweging op sosiale media gelei. (Volgens Madam Noire het die blogskrywer en kampvegter Tarana Burke die #MeToo-hutsmerk vir bewusmaking van seksuele geweld reeds 10 jaar gelede ingespan.)

Die hutsmerk het ook op Instagram en Facebook opslae gemaak en daar is tot op hede ’n geskatte 12 miljoen deelnemers. Hier is net ’n paar reaksies:

“Ek is taamlik seker dat ek nie ’n vriendin het wat dit nie deurgemaak het nie. Ek het ook heelwat mansvriende wat dit oorgekom het,” skryf een vrou op Facebook. “Ek hoor dit meestal by my vriende in die vermaakbedryf. Die oudisiekantoor is so ’n ou tradisie. En dis walglik.”

Een punt van kritiek teen die #MeToo-veldtog is dat dit net ’n herhaling is van wat ons reeds weet: Vroue word elke liewe dag seksueel geteister. Volgens die American Society for the Positive Care of Children word een uit vier vroue voor hulle 18de verjaardag seksueel geteister, en dis belangrik om daarop te let dat dit ook met een uit ses mans gebeur. Een uit vyf vroue sal in haar leeftyd verkrag word, en een uit 71 mans.

Bygesê, daar is reeds mans wat met ’n hutsmerk van hul eie reageer: #YesIHave en #ItWasMe:

“Ek onthou een spesifieke geval waar ek die oortreder was,” het een man met die hutsmerk #ItWasMe op Facebook geskryf. “Dis nie te sê dit was die enigste keer nie, maar ek hoop dit was. Ek het met ’n meisie uitgegaan toe ek 19 was en sy het herhaaldelik vir my gesê dat sy nie gereed was om seks met my te hê nie. Een nag het ek oorgeslaap, en nadat sy aan die slaap geraak het, het ek ’n ereksie gekry en haar probeer penetreer. Sy het wakker geword, my nonchalant weggestoot en gesê ek moes slaap. Ek het eers jare later besef dat sy moes ‘kalm bly’, want in haar gedagtes kon ek net sowel aggressief op haar verwerping reageer het.” Sien sy volledige plasing hier onder:

“Ek was óf ’n deelnemer óf ’n getuie van honderde arrogante, chauvinistiese, kortom vieslike  ‘kleedkamergeselsies’ “, het nog ’n #ItWasMe-plaser geskryf. Hy het vervolg deur te sê dat hy vir minstens een “me too” verantwoordelik was. Is jy?

Een man het op Facebook geskryf: “Ek was ‘daai ou’ wat die bewerings van slagoffers ondermyn het. Ek het die vroue met wie ek uitgegaan het, emosioneel afgetakel. Ek was ongevoelig oor die gevolge van verkragting.” Hy het vervolg met: “Jul deursettingsvermoë het my laat verander. Hou aan om daaroor te praat. Hou aan om dit oop te vlek.” Lees gerus sy volledige plasing:

Daar is ook net soveel wat ’n hutsmerk kan doen, maar dit is ’n tree in die regte rigting — ’n tree na ’n wêreld waar almal hul stemme sal kan hoorbaar maak, en belangriker nog, kan veilig voel.

Van: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/lzf

LEES OOK:

Frankryk wil wolwefluite en onwelvoeglike aanmerkings onwettig verklaar

7 dinge wat dokters wil hê vroue van hul seksuele gesondheid moet weet

Maandstonde-verlof kan dalk ’n werklikheid word

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief