×
Skakel na Engels

ʼn Handige 9-stap-gids vir wanneer jy jou eerste motor koop

Dit kan ’n senutergende ervaring wees om jou eerste motor te koop, maar dit kan ook pret wees as jy weet wat om te doen en waarna om te kyk … Deur Caira-Lee Durand
eerste motor

 

Dit is maklik om meegevoer te raak en impulsiewe besluite te neem wanneer jy jou hart op ’n motor gesit het. Ons het hierdie handige 9-stap-gids saamgestel om seker te maak dat jy die regte keuse maak wanneer jy jou eerste motor koop …

1. Waarom wil jy ’n nuwe motor hê?

Dink mooi oor jou motiewe vir die aanskaf van ’n nuwe motor en presies waarvoor dit gebruik gaan word. As jy byvoorbeeld ’n nuwe werk as verkoopsverteenwoordiger het, sal jy ’n ekonomiese motor wil hê wat lig op brandstof is.

2. Toetsbestuur en doen navorsing

Neem jou tyd om al die beskikbare opsies te oorweeg. Moenie oorhaastig wees wanneer jy jou eerste motor koop nie, maak nie saak of dit nuut of tweedehands is nie. Onthou, jy staan op die punt om ’n groot bedrag uit te gee en dit is belangrik om alles oor jou nuwe ryding te wete te kom.

3. Bekostigbaarheid

Dit gaan oor meer as die maandelikse huurkooppaaiemente wat jy vir jou eerste motor moet betaal. Dit sluit maandelikse brandstofkoste, versekering en onderhoud in.

4. Rentekoersskommelings

Die meeste eerstekeerkopers vergeet dat daar rentekoersskommelings gedurende hul finansieringstydperk van drie tot ses jaar sal wees; moenie vergeet om vir moontlike hoër maandelikse terugbetalings te begroot nie.

Lees ook: Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

5. Versekering

Moenie onderskat hoe hoog versekeringsbetalings vir eerstekeerkopers is nie, en doen jouself ’n guns deur ’n paar verskillende maatskappye se kwotasies te vergelyk. Sorg egter dat jy die fynere besonderhede noukeurig deurgaan om seker te maak dat jy omvattend verseker is.

6. Veiligheid

In hul haas om ’n nuwe motor te koop, maak sekere kopers die fout om veiligheidskenmerke vir koeler ekstras te verruil. Moet dit nie doen nie. Veiligheid moet ’n prioriteit wees en jou nuwe motor moet oor sekere basiese veiligheidstelsels beskik. Kenmerke soos ’n sluitweerremstelsel, elektroniese remkragverspreiding met ’n remhulpstelsel en twee lugsakke behoort voldoende te wees.

7. Onderdeelpryse

Dit gebeur dikwels dat motors wat met die eerste oogopslag billik geprys is, op die lange duur meer kos omdat hul onderdele duurder is as wat mense besef. Doen deeglike navorsing en bereken hoeveel jy aan onderdele gaan bestee wanneer jou diensplan tot ’n einde kom.

8. Herverkoopwaarde

Dit voel vreemd om aan verkoop te dink terwyl jy nou eers gereed te maak om jou motor te koop, maar dit is die moeite werd om vooruit te dink en vas te stel of jou motor oor ’n paar jaar steeds iets werd gaan wees.

9. Belangrike kenmerke

Soos reeds gesê, behoort veiligheidskenmerke jou hoogste prioriteit te wees, maar die lewe gooi soms onvoorspelbare draaie. Moet dus nie die belangrikheid van kenmerke soos ’n afstandbeheerde sentrale sluitstelsel, spoedsensitiewe outomatiese deurslotte en ’n immobiliseerder onderskat nie.

Uit: WOW

FOTO: iStock/Photo_Concepts

LEES OOK:

7 beproefde maniere om veilig in die donker te bestuur

7 dinge wat jy by ’n deurryvenster moet vermy

Tien maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Basiese instandhouding verseker dat jou voertuig nie later probleme gee nie ... Deur Caira-Lee Durand

Close