×
Skakel na Engels

My oorgangsverhaal – Luke (13): “My oorgang van ’n meisie na ’n seun was bevrydend”

Vir Luke (13) was die oorgang lewensveranderend en bevrydend
oorgang

Lees die 13-jarige Luke Uria van Kaapstad se inspirerende verhaal.

“As jy klein is, dink jy nie eintlik aan geslag nie. Jy dink aan speelgoed en jou gesin, en sulke goed. Ek het amper altyd seunsklere gedra. Nie dat ek daarvan hou om klere aan ’n geslag toe te ken nie, maar jy weet wat ek bedoel. Ek het met aksiemannetjies gespeel – ek was behep met Spider-Man.

“Toe ek omtrent agt was, het ek ’n dokumentêr Tomboy gesien wat oor ’n transgender seun gegaan het. Dit het my gefassineer. Dit het bekend gevoel. Toe ek ouer word, het ek begin besef wat transgender is en dat dit iets is wat regtig bestaan. Ek kon my daarmee vereenselwig en het gedink: ‘Wel, dalk is dít wat ek is.’ Dit was die beste manier om te beskryf hoe ek gevoel het.

“… die angstigheid waarmee ek altyd geworstel het, het begin weggaan”

“Nadat ek my ma lank gesmeek het, is ek op 12 uiteindelik toegelaat om my hare te sny en seunsklere te dra. Dit was ongelooflik. Ek het my beste vriende en gesin gevra om die regte manlike voornaamwoorde te probeer gebruik. Uiteindelik het die angstigheid waarmee ek altyd geworstel het, begin weggaan. Nadat my ma op my soekgeskiedenis op YouTube ingegaan het, het sy opgemerk dat transgender mense my interesseer en dat ek die term opgesoek het. Sy het met my daaroor gepraat en ons het saam na dokumentêre begin kyk. Deur dit alles het sy baie gehuil.

“… jy moet jou ouers tyd gee om so ’n verandering te aanvaar”

“Ek was bang om vir my pa te sê – ek was nie seker hoe hy sou reageer nie. Aan die begin was hy glad nie ondersteunend nie. Hy het dinge gesê soos: ‘Ek gaan dit nie toelaat nie; dis nie waar nie. Dis net ’n fase – jy is my dogter.’ Al wat ek kon sê, was: ‘Pa, ek’s jammer, maar dit is hoe dit is. Ek is nou gelukkig.’ Dit het hom ’n tydjie geneem om aan my kort hare gewoond te raak en die manlike voornaamwoorde en my nuwe naam, Luke, te gebruik, maar hy het vinnig daarmee vrede gemaak toe hy sien hoe gelukkig ek is en dat my angstigheid weg was. Een van die beste oomblikke nóg was toe hy my as sy seun aan ’n kollega voorgestel het.

“Ek het besef dat ’n mens jou ouers moet tyd gee om so ’n verandering te aanvaar – dis moeilik, maar hulle moet soort van die verlies van een kind verwerk voordat hulle ’n nuwe kind ten volle kan aanvaar. Dis vreemd, maar dis hoe die oorgangsproses vir hulle kan wees. Sedertdien is my ouers fantasties en ondersteun hulle my ten volle.

“Jy hoef nie enige oorhaastige besluite te neem nie.”

“Daarna het ek ’n binddoek gekoop – ’n baie stywe band waarmee ek my bors ingebind het. As jy nie gemaklik met jou lyf is nie, wil jy dit laat lyk soos wat jy voel dit moet wees. Hierdie binddoek was ’n groot deel daarvan, en dit het my baie gemakliker laat voel. Die volgende stap was om hormoonblokkers te drink om al my vroulike hormone te keer.

“Die wonderlike ding van hormoonblokkers is dat dit die gevolge van puberteit uitstel – soos om te menstrueer of verder te ontwikkel – sonder dat jou liggaam permanente veranderinge ondergaan. Jy het dus tyd om aan te pas en jou oorgangsproses te deurdink. Jy hoef nie enige oorhaastige besluite te neem nie. Maar terselfdertyd is jy nie besig om ’n liggaam te ontwikkel wat nie pas by die geslag waarmee jy jou vereenselwig nie.

“Op die oomblik gaan ek elke ses weke vir my hormoonblokkerinspuiting, maar ek hoop dat ek binnekort vir ’n bolyfoperasie kan gaan en met testosteroonbehandeling kan begin.”

“Ek kan nie wag om met testosteroonbehandeling te begin nie! Van die belangrikste dinge is om seker te maak dat my stem breek. Anders as met die hormoonblokkers veroorsaak testosteroonbehandeling permanente veranderinge in jou liggaam, so dis ’n taamlike mylpaal in jou oorgang. Die ekstra testosteroon in my liggaam sal my help om manlike kenmerke te ontwikkel.

“Ek is nou openlik en ten volle Luke. Hoewel my voornaamwoorde reeds verander het, is dit ’n lang, stadige proses om my lyf te verander – en dis minder lekker. Dink hoe dit moet voel om ’n vrou te wees wat in ’n man se lyf vasgevang is? Dis jou brein in ’n ander lyf – dis verskriklik! Gelukkig het ek my hele familie se ondersteuning en mediese hulp vir my oorgang, soos die hormoonblokkers. Nie almal in Suid-Afrika is so gelukkig soos ek nie – baie transgender mense het nie toegang tot die nodige mediese sorg nie of kan dit nie bekostig nie, of erger nog, hulle word deur hul vriende, familie en gemeenskap geteiken omdat hulle transgender is. Ek kan my nie eens indink hoeveel swaarder dit ’n proses maak wat alreeds so moeilik en ingewikkeld is nie.

“Jy behoort net belang te stel in die mens wie ek vandag is.”

“Ja, ek kry nog met haat te doen. Gister het iemand op Instagram geskryf: ‘Hy’s ʼn meisie.’ Dit maak seer en dis so onnodig. Ek het ook al met heelwat godsdienstige nonsens te doen gekry, soos mense wat sê dat ek hel toe gaan. Maar weet jy, dit moet aaklig wees om op so ’n eng, onvriendelike manier grootgemaak te word. Ek voel jammer vir sulke mense.

“Een groot taboe is om my oor my doopnaam of enige iets oor my verlede uit te vra. Jy behoort net belang te stel in die mens wie ek vandag is. As ek kies om my verhaal te deel, sal ek. Nog iets waaraan baie mense hulle skuldig maak wanneer hulle ’n transgender persoon ontmoet, is om af te kyk [na hul geslagsdele toe]. Almal doen dit en ek wens hulle wil nie. Dit laat ’n transgender mens net ongemaklik voel.

“Etikette beïnvloed mense op ondenkbare maniere.”

“Ons moet as ’n samelewing ophou om in terme van binêre geslag te dink: Dogtertjies dra pienk; seuntjies dra blou. Dit is ’n eng, beswarende manier om na geslag – en die wêreld – te kyk. Die oomblik as jy nie inpas nie, voel jy afgesonder – selfs al kan jy eintlik enige iets doen en wees wat jy wil! Etikette beïnvloed mense op ondenkbare maniere. Ons moet meer sensitief hiervoor wees.

“As jy daaraan dink om die oorgang te maak, neem jou tyd – maak seker wie jy is en wat jy voel. Daar is niks wat jou jaag nie! Om transgender te wees is nie ’n begeerte om die teenoorgestelde geslag te wees nie; dit is om in jou brein reeds die teenoorgestelde geslag te wéés. Jy kan dit voel. Dít is vir my die verskil tussen iemand wat bloot ’n tomboy of ’n ‘vroulike’ seun is, teenoor ’n transgender persoon. Bespreek dan jou besluit met iemand wat jy regtig vertrou, want dit is ongelooflik om daardie las van jou skouers af te kry. LEEF JOU WAARHEID.” 

Transgender is nie ’n keuse nie

“Daar is al heelwat wetenskaplike navorsing oor die oorsake van transgender gedoen,” verduidelik dr. Simon Pickstone-Taylor, ’n psigiater wat by die Neurodiversity Centre naby Franschhoek in die Boland, en by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad werk. “Daar is herhaaldelik bewys dat oueropvoeding absoluut niks met transgender te doen het nie. Jou geslagsidentiteit is byna vir seker biologies; dit is nie ’n keuse nie.”

Watter mediese hulp is daar?

“Die World Professional Association of Transgender Health het sekere riglyne op grond van mediese bewyse opgestel wat ons aanmoedig om jongmense in hul geslagsuitdrukking te ondersteun en hulle deur middel van hormone te help om die liggaam te ontwikkel waarmee hulle hul vereenselwig. Almal in die mediese bedryf behoort hierdie riglyne te volg,” verduidelik dr. Pickstone-Taylor.

“Die behandeling met hormoonblokkers lewer oorweldigend positiewe resultate en ons het nog nooit tieners gehad wat spyt is oor hul besluit of oorgang nie. Die feit dat hul liggaam gedurende puberteit nie meer in teenstryd met hul geslagsidentiteit ontwikkel nie, verlaag die selfmoordkoers (wat 50% is by transgender tieners wat nie ondersteuning kry nie) tot amper 0%. Daar word eers in die tweede van vyf stadiums van puberteit met hormoonblokkers begin, nie voor die tyd nie. Kinders bereik hierdie stadium op verskillende ouderdomme. Hormoonblokkers is heeltemal omkeerbaar; dis net ’n manier om geslagsontwikkeling te stuit.”

Waarheen gaan ek in Suid-Afrika vir behandeling?

Gender Dynamix is ’n wonderlike hulpbron,” sê dr. Pickstone-Taylor. “Jy kan hulle bel – hulle ken transvriendelike praktisyns en kan ’n huisdokter, spesialis of endokrinoloog naaste aan jou aanbeveel, of selfs iemand by ’n staatsinstansie. Daar is ook goeie aanlyn hulpbronne wat jy kan google.

“As jy naby Kaapstad is, kan jy ’n terapeut of huisdokter vir ’n verwysing na die Rooikruis-kinderhospitaal vra. Dit is ’n staatshospitaal waar ons gedurende die oorgangsproses verdere sorg verskaf. Daar sal ek ’n evaluasie doen om regtig te verstaan wie jy is, te bepaal of jy ander ondersteuning nodig het (soos om jou ouers te betrek) en jou, indien nodig, na ’n pediatriese endokrinoloog by die Groote Schuur-hospitaal vir hormoonbehandeling verwys.

“Hoewel enige iemand ’n jongmens na die geslagsidentiteitsontwikkelingsdiens by die Rooikruis-hospitaal kan verwys, is ’n verwysing deur ’n huisdokter verkieslik. As jou of jou ouers se inkomste onder ’n sekere bedrag is, word hormoonblokkers en kruisgeslag-hormoonbehandeling (soos testosteroon) tans deur die staat betaal.” As jy aan ’n mediese fonds behoort of ’n hoë inkomste het, kan jy deur die endokrinoloog by die Groote Schuur-hospitaal gesien word, maar die staat sal nie vir hormone betaal nie. Jy sal dit met jou gesondheidsversekeraar moet uitklaar. Hoewel mediese fondse in Suid-Afrika nog nie vir hormoonbehandeling betaal nie, behoort dit binnekort te verander. Daar word gewoonlik op 16-jarige ouderdom met kruisgeslag-hormoonbehandeling begin, maar elke jongmens se situasie word individueel geassesseer.

“Wanneer dit by chirurgie soos bolyfchirurgie kom, is daar ook nie ’n streng ouderdomsbeperking nie en hang dit van die individu af,” verduidelik dr. Pickstone-Taylor. “Jy kan bolyfchirurgie in ’n staatshospitaal ondergaan as jy onder ’n sekere inkomstevlak val, maar daar is gewoonlik ’n waglys. Jy moet met jou spesialis gesels om meer oor hierdie proses uit te vind.” 

Transregte is menseregte

Volgens die LGBTQI+-organisasie Love Not Hate is 15% van transgender Suid-Afrikaners al met geweld gedreig en 13% oor hul geslagsidentiteit aangerand, terwyl 51% diskriminasie beleef het wat onderrig betref. ’n Skrikwekkende 41% van LGBTQI+-mense in SA sê dat hulle iemand ken wat as gevolg van hul seksuele oriëntering of geslagsidentiteit vermoor is.

Gender Dynamix is ’n plaaslike nieregeringsorganisasie wat hulle vir transgender en ander geslagsverwante menseregte en maatskaplike geregtigheid beywer, en wat transgender mense in Suider-Afrika bystaan wat die slagoffer van diskriminasie of viktimisasie was. Hulle kan jou ook adviseer oor ingeligte transvriendelike dokters en spesialiste oor die land heen met wie jy kan gesels as jy meer oor die oorgangsproses in Suid-Afrika wil uitvind. Bel hulle by 021 447 4797 of stuur ’n e-pos na info@genderdynamix.org.za.

Van: Cosmopolitan SA

FOTO: Valentina Nicol

LEES OOK

Leer só om transgender kinders beter te verstaan 

Nicole Kidman maak ’n kragtige stelling oor huishoudelike geweld in haar Emmy-toespraak 

Word jou kind deur ’n opvoeder geboelie?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 maniere om die perfekte eerste-skooldag-foto te neem

Probeer hierdie professionele wenke vir die perfekte foto

Close