×
Skakel na Engels

Motorresensie: Die nuwe Volkswagen Polo

Daar is niks ordinêr aan die nuwe Polo nie … Deur Caira-Lee Durand

Sedert sy bekendstelling in 2010 was die Volkswagen Polo Suid-Afrika se tweede beste verkoper in die passasiermotorsegment, net ’n kortkop agter die Polo Vivo. Met meer as 14 miljoen Polo’s reeds op die pad, vertrou Volkswagen dat die nuwe Polo ’n groot indruk op die mark sal maak.

Caira-Lee Durand, motorskrywer van Women on Wheels (WOW), het die bekendstelling van die sesde generasie Polo in Port Elizabeth bygewoon om uit te vind of die nuweling die sukesverhaal gaan voortsit . . . 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Bron: VW

Meer spasie, meer tegnologie, meer styl

Daar is niks ordinêr aan die nuwe Polo nie. Dit is groter en het ’n meer sportiewe voorkoms. Die bakwerk is langer en breër, die bagasieruim heelwat groter (350 liter teenoor die vorige 280 liter), daar is baie beenspasie agter, en vars en meer manlike lyne. Opmerkings op sosiale media dat die nuwe Polo soos ’n VW Golf lyk, is volop, en dit maak sin, aangesien baie van die nuwe kenmerke by die Golf geleen is.

Net soos die Golf, Touran, Tiguan, Passat en Arteon, is die sesde geslag Polo op die nuwe gemeenskaplike modulêre platform (MQB-platform) gegrond, wat ’n verskeidenheid voordele soos kompakte proporsies en tegniese verbeterings onder die bakwerk inhou.

Verskeie diep stileerlyne beklemtoon die Polo se meer sportiewe bakwerk, terwyl die kajuit met sy unieke en moderne instrumentpaneel, opwindende skermvertoonopsies en verfynde ontwerp van VW se veel moderner aanslag getuig. 

Meer om uit te kies

Die nuwe Polo is in drie afwerkingsvlakke beskikbaar: Trendline, Comfortline en Highline, sowel as ’n spesiale weergawe, die Polo Beats. Laasgenoemde spog met ’n klankstelsel van 300 W. ’n R-line-pakket is ook beskikbaar vir diegene wat ’n nog meer sportiewe voorkoms verlang met ekstra syskorte, ’n drukvin op die bagasieruimklap en ’n lugvloeier agter aan die onderkant, terwyl die verrigtingsweergawe, die Polo GTI, binne die volgende vier maande sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark sal maak.

Caira-Lee het die Polo se Comfortline met Polo Beats (wat in 2008 deur dr. Dre en Jimmy Lovine gestig is) bestuur, wat VW se gevorderde Composition Media Radio met AUX- en USB-koppeling, Bluetooth-verbinding en App Connect vir iPhone-selfone insluit.

Aan die buitekant byvoorbeeld, pryk verskeie Beats-logo’s op syskorte en binnekant verras die Polo met ’n treffende en baie moderne voorpaneel in “Velvet Red”. Die hele binneruim is byderwets afgewerk en sluit bekleedselontwerp in Aqua Graphite, Vevet Red en Ceramique in. Die Polo Beats se kajuit sal beslis jou vriende beïndruk op ’n aandjie uit en sal jou van voor af jonk, energiek en “in” laat voel.

Bron: VW

Die nuwe Polo is in 10 kleure beskikbaar: Pure White, Flash Red, Dark Petrol, Reflex Silver Metallic, Limestone Grey Metallic, Pale Copper, Reef Blue, Energetic Orange, Deep Black Pearl Effect en White Silver Metallic. Wat die binneruim en instrumentpaneel betref, kan kopers kies uit Limestone Grey Metallic, Deep Iron Metallic, Velvet Red en Reef Blue.

Krag en werkverrigting

Die nuwe Polo se 1.0 TSI-enjin is in twee weergawes beskikbaar. Die kleinste van die twee van die kry die 70 kW / 175 Nm-weergawe van die driesilinderturbo-enjin. Die motor versnel van 0-100 km/h in 10,8 sekondes en bereik ’n topsnelheid van 187 km/h, volgens VW. Kopers kan tussen ’n 5-spoed-handratkas en ’n 7-spoed-DSG kies. Die ander 1.0 TSI-enjin lewer 85 kW en sal met ’n 6-spoedratkas as standaard en ’n opsionele 7-spoed-DSG uitgebring word, met ’n maksimum wringkrag van 200 Nm.

Ons het die Polo se handratmodel bestuur en alhoewel 70 kW genoeg krag was om te versnel wanneer stadigbewegende voertuie verbygesteek word, het ons gevoel dat ’n sesde rat ’n verskil op die oop pad sou maak. ’n Prysenswaardige brandstofverbruiksyfer van 4,5 liter/100 km word vir die handrat aangegee, terwyl die DSG-weergawe op 4,7 liter/100 km lê.

Bron: VW

Nuwe bestuurhulptoerusting

Die nuwe Polo het ’n wye verskeidenheid bestuurhulpkenmerke, onder andere die nuutste parkeerhulpstelsel vir daai moeilike parallel- en gangparkerings. Die Highline is met vier ritmodusse toegerus waarmee die bestuurdersprofiel verstel kan word. Afhangende van jou omgewing en voorkeure kan jy uit Eco, Normal, Sport en Individual kies.

Wat van veiligheid? Die nuwe Polo spog met ’n verskeidenheid veiligheidskenmerke soos ’n blindekolmonitor met kruisverkeerswaarskuwing, ’n proaktiewe beskermingstelsel vir insittendes en noodremhulp.

Agter die stuur van die nuwe Polo

Wanneer dit kom by wat jy van die nuwe Polo se bestuurgehalte kan verwag, is dit moeilik om nie opgewonde te raak nie, veral nadat jy ’n smakie van die motor se aantreklike buite- en binnekant gekry het. Met soveel fokus op ’n speelse en sportiewe voorkoms, binne én buite, sou jy hoop dat dieselfde geld wanneer jy op die pad is. Die nuwe Polo hanteer dan ook baie goed en Caira-Lee was in haar noppies met hoe gemaklik sy agter die stuur was, selfs vir ’n motor in ’n “klein motorklas”.

Die sitplekke is gemaklik en ondersteunend en die algehele ergonomie van die kajuit maak die nuwe Polo ideaal vir ’n reisvakansie. Danksy groot voor- en agterruite en vensters is daar onbelemmerde sigbaarheid, wat dit onnodig maak om te buk of te rek vir ’n beter uitsig op die pad.

Alhoewel dit geensins ’n sportmotor is nie, is die nuwe Polo se 1.0-liter turbo-petrolenjin net so verfynd as wat dit kragtig is, en nadat ons die 70 kW-model bestuur het, het Caira-Lee nie gevoel dat dit nodig was om die 85 kW-enjin te bestuur nie. Dit is ’n heerlike pakket vir daaglikse kort afstande en bied die bestuurder ook meer as genoeg bevrediging op die lang pad.

Hou dit in die familie

En vir ingeval jy van plan was om die Volkswagen Golf te koop – dalk moet jy eers daaraan dink om die nuwe Polo, volgens óns sy grootste mededinger, uit te toets.

Pryse

1.0 TSI 70kW Trendline: R 235 900

1.0 TSI 70kW Comfortline: R 264 700

1.0 TSI 70kW Comfortline DSG: R 280 700

1.0 TSI 85kW Highline: R 286 200

1.0 TSI 85kW Highline DSG: R 302 200

Die nuwe Volkswagen Polo-modelle word almal gedek deur ’n 3 jaar/45 000 km-diensplan, ’n 3 jaar/120 km-waarborg en ’n 12 jaar-waarborg teen roes. Diensintervalle is 15 000 km.

Uit: WOW

FOTO’S: Met vergunning van VW

LEES OOK:

Kies só die beste gesinsmotor

10 nuwejaarsvoornemens wat jou veiliger op die pad sal hou

10 gewoontes van ’n goeie bestuurder

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kies só die beste gesinsmotor

Die langpad hoef nie langer uitputtend te wees nie! Deur Juliet McGuire

Close