×
Skakel na Engels

Moenie bang wees om hierdie ses dinge met jou ginekoloog te bespreek nie

Jou ginekoloog kan nie jou gedagtes lees nie; praat reguit hierdie ses dinge.
ginekoloog

Dalk is jy en jou ginekoloog vriende en bespreek jy jou sekslewe tot in die fynste besonderhede met hom/haar. Maar realisties gesproke is dit waarskynlik nie die geval nie. Die meeste vroue benader hulle jaarlikse afspraak met vrees en bewing, die gehate stiebeuels ‘n simbool van foltering. En dalk hou jy nie daarvan om oor jou vagina te praat nie.

Dit is egter belangrik om te onthou dat jou ginekologiese besoek nie die geleentheid is om dinge te verswyg nie! Trouens, hoe meer inligting jy verskaf, hoe beter – en hier is ‘n paar goed wat jy nooit, ooit bang mag wees om met jou dokter te bespreek nie.

1. Hoe jou sekslewe lyk

Hoewel dit moeilik is om midde-in jou papsmeer aan die aangename dinge te dink wat jou vagina al beleef het, mag jy nie vergeet om te sê wat jou vrouedele doen wanneer hulle nié aan’t verkluim is terwyl jou voete in ongemaklike stiebeuels geposisioneer is nie.

Indien jou vagina die afgelope jaar verskeie besoekers ontvang het, moet jy nou daarmee uitkom. En as jy van nog altyd af net een kêrel gehad het, moet jou ginekoloog ook daarvan weet. Waarom? Dis nie sodat julle gemiddelde kan vergelyk of om jou in die verleentheid te stel of om jou op die afgelope frustrerende “maer jare” te wys nie. Dis sodat jou ginekoloog kan weet waarvoor jy getoets moet word!

“In die eerste plek moet jy sê hoeveel seksmaats jy al gehad het,” sê Laurie Birkholz, ginekoloog en verloskundige. “Net sodat ons ‘n pasiënt ten opsigte van risiko-assessering kan help – insluitend vir algemene dinge soos HPV, en meer ernstige toestande soos MIV. Ek moedig pasiënte altyd aan om openhartig te wees. Hulle voel dalk ‘n bietjie verleë, afhangende van die getal seksmaats, maar glo my, as dokters is ons alles gewoond.”

Nie alle ginekoloë wil grafiese beskrywings hoor nie – hulle wil net weet of daar enige iets riskant onlangs gebeur het. “Ek hoef nie al die detail te weet nie,” sê Laurie, “maar as jy onbeskermde seks gehad het en bekommerd is, moet jy eerlik wees daaroor.”

In teenstelling met wat jy iewers by ‘n partytjie gehoor het, kan ginekoloë nie jou gedagtes lees nie. Hulle kan ook nie bloot na jou vagina kyk en weet dat jy in ‘n … verhouding is en net een seksmaat het nie.

2. As jy rook

“Moet nooit oor jou rookgewoontes jok nie,” beklemtoon Streicher. “As iemand ‘n voorbehoedmiddel wil hê en ek moet besluit of dit veilig is, sal ek hulle daaroor uitvra.” Sommige mense is bang dit beïnvloed haar besluit rondom ‘n voorskrif vir voorbehoedmiddels, “maar die feit is, dit kan hul risiko beïnvloed – [met verhoogde risiko’s vir] bloedklonte, hartaanvalle of beroertes.”

Jy moet eerlik wees oor hoeveel alkohol jy gebruik — dis belangrik om te weet of jy byvoorbeeld vier drankies deur die loop van ‘n aand, teenoor net een, drink. Dis noodsaaklik om van ‘n pasiënt se drinkgewoontes te weet, verduidelik Dweck.

(Byvoorbeeld: As jy ‘n paar vrolike Saterdagaande agter die rug het en vergeet om jou 22:00-voorbehoedpil te neem, gaan jou dokter dalk voorstel dat jy ‘n ander soort voorbehoedmiddel gebruik.)

LEES NOG: 9 goed wat jou ginekoloog wil hê jy moet ophou doen

3. As jy vitamiene of aanvullings neem

Moenie na ouvroustories luister nie. Ongeag watter vitamiene of aanvullings jy gebruik, vertel. jou. ginekoloog. En as jy die soort vrou is wat verskeie pille drink, is dit belangrik om dit te noem.

“Iets wat my nogal dwars in die krop steek, is as ek nie weet watter aanvullings ‘n pasiënt gebruik nie,” sê Dweck. “Wanneer ek party oor medikasie uitvra, sê hulle: ‘Ek neem ‘n multivitamien,’ en laat na om te sê dat hulle vyf oor-die-toonbank-kruieaanvullings gebruik wat hul vrugbaarheid kan beïnvloed of bloeding veroorsaak.”

4. As daar enige geweld by die huis is

Birkholz raai vroue aan om te vertel as hulle enige huislike geweld ervaar, ongeag of hulle swanger is of nie. Swanger vroue is egter veral kwesbaar. Waarom moet jy jou ginekoloog vertel? Volgens ‘n studie wat in 2016 in Philadelphia onderneem is, is lewensmaatgeweld een van die vernaamste oorsake van swangerskapverwante sterftes. Al is jy nie swanger nie, kan jou ginekoloog jou in aanraking bring met iemand wat kan help.

LEES NOG: 10 vrae wat jy jou ginekoloog behoort te vra

5. As jy bang is dat jou biologiese uurglas uitloop

Jy is enkel, trots daarop en het besluit dat moederskap nie vir jou is nie, maar agter geslote deure vertel jy vir jou terapeut dat jy stokfiguurtjies van mammas en dogtertjies agterop jou besigheidskaartjie krabbel. Al kan jy dit tussen jou en jou terapeut hou, behoort jy vir jou ginekoloog te sê dat jy eendag dalk sal wil kinders hê — al is dit iets wat jy nie nou kan sien gebeur nie.

“Een ding waaroor pasiënte nie graag praat nie, is hul tydlyn,” sê Dweck. “Ons wil nie die venstertydperk mis nie. Ons behoort onsself af te vra of ons kinders in ons toekoms sien … want vrugbaarheid neem af.” Jy en jou dokter kan byvoorbeeld daaroor gesels om jou eiers te laat vries as jy wil kinders hê, maar moederskap nie nou al ‘n opsie is nie.

6. As jy enige vrae het

Om jou sekslewe te versuiker wanneer jou haarkapper daaroor uitvis, is een ding. Maar as jy enige vrae oor jou sekslewe of vrouedele het, moet jy dit altyd moet jou ginekoloog bespreek.

“Ek moedig pasiënte altyd aan om vrae oor seksualiteit te vra as hulle pynlike omgang het, as dit onaangenaam is of as hulle dit oorweeg om ‘n vibrator te gebruik of iets anders by hulle seksuele verhouding te betrek,” sê Birkholz. “Ek dink dis belangrik om daardie goed ook met jou dokter te bespreek sodat ons jou kan help en van die nodige inligting en raad kan voorsien.”

Onthou, ‘n ginekoloog kan nie jou gedagtes lees of in die verlede of toekoms van jou sekslewe sien deur ‘n inwendige ondersoek te doen nie. Hulle het leiding nodig sodat hulle jou kan voorsien van dit wat jy vir jou eie gesondheid nodig het.

Die slotsom? “Ons wil regtig net die waarheid weet,” sê Dweck. “Daar is geen veroordeling nie.”

Van: Redbook

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 moet-hê-goed vir jou draagbare noodhulpstel

Omskep ’n handige noodhulpstel in ’n heldhaftige een

Close