×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Wat de Whatsapp?

Ek’s nie seker hoe ek my tienerdogter se persoonlike assistent geword het nie, maar ek sal graag my bedanking wil indien, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
Maandelikse rubriek

Ek het hierdie week ’n bietjie van ’n ontnugtering gehad. Blykbaar is ek nie ’n vryskutskrywer en -blogger soos ek gedink het nie. Nee. Wat ek wel is, is my 13-jarige dogter se persoonlike assistent. En hiermee wil ek nie sê sy het nié ’n assistent nodig nie, want sy het beslis hulp nodig om haar ingewikkelde sosiale en skoollewe te bestuur. Dis net … omdat ek is wie ek is, het ek self ’n assistent nodig en ek het nie juis aangebied om dié tydrowende en veeleisende pos, en dit boonop met bitter min voordele, te aanvaar nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Wanneer jou kinders nog klein is, is dit moeilik, want jy ly alewig aan ’n gebrek aan slaap en voordat hulle ’n sekere ontwikkelingsfase bereik, is hulle eintlik regtig soos klein sosiopate. Maar as jy dink dit gaan makliker raak wanneer hulle hulself kan bad en self kan eet (soos ek gedink het), is ek bevrees dis nie die geval nie. Nee. Nou gaan dit só: Op enige tyd van die dag of nag is ek die onwillige, onentoesiastiese lid van sowat 11 verskillende WhatsApp-groepe (ek sweer ek oordryf nie) wat betrekking het op verskillende elemente van haar diverse jong lewe, van dansklasse tot sokker tot Kumon tot markdag tot rugbywedstryde en dan op enige gegewe tyd ook eindelose partytjies en mitswas wat haar 3 000 “naaste” vriende behels van skole oor die hele Kaapstad heen – baie van dié vriende het sy op Instagram ontmoet en nog net een keer mee op ’n partytjie gepraat.

En sodra ek verligting ervaar wanneer ek “nee” antwoord op ’n uitnodiging na ’n partytjie wat baie, baie ver van ons huis af is en saam met mense van wie ek nog nooit gehoor het nie en die groep verlaat en uitwis, word ek by nog ’n groep oor nog ’n partytjie gevoeg. En só gaan dit aan, ’n eindelose stortvloed van besonderhede – wie ’n rygeleentheid nodig het, wie nie kan uithelp nie, wie geld vir die geskenk wil bylas, wie wat koop om brownies te maak, hoe laat die wedstryd teen Bishops is en wie die kinders strand toe gaan neem sodat hulle die video vir hul Afrikaanse taak kan maak.

Lees: 5 wenke om jou Boomerang-vaardighede vir Instagram op te skerp

En soms wanneer iemand met die naam Esmeralda (wat ek van g’n kant af ken nie) my laataand by ’n groep van 120 ouers voeg en vra watter soort pizza ons kinders verkies, wil ek pleks van “Hawaiian, en dankie dat jy vra” eerder ’n paar lelike en kru woorde terugstuur. Want nou gaan ek minstens 120 boodskappe kry oor goed soos: “Geen sampioene nie, asseblief.” Gee ek om? Ek vra jou met trane in my oë: Gee ek enigsins om? Haal die goed af. Laat hulle sand eet. Los mý net uit.

Dis ’n werklikheid wat ek nie voorsien het nie en ek weet eenvoudig nie hoe om dit te hanteer nie. Dit was nie in my ma se tyd ’n kwessie nie, want daar was nie WhatsApp nie en die lewe was eenvoudiger as wat dit vandag is. Jy het skool toe gegaan, huis toe gekom en soms op ’n Saterdag met jou fiets na ’n maat toe gery. Hierdie ding – waar ons hele lewe op een of ander manier om ons kinders, wat skaars tieners is, se sake begin draai het – is malligheid in die hoogste graad. En tog blyk dit dat ek die enigste ma (of altans in my kring) is wat gefrustreerd en oorweldig voel oor die mate van betrokkenheid wat van ons as ouers verwag word. 

En terloops, dis nie asof my moeite waardeer word nie. As jy wil weet hoeveel liefde en waardering ek vir al dié inspanning kry, dink Anna Wintour in The Devil Wears Prada. Of hoe dit moes voel om Kim Jong-un se sekretaresse te wees. Sê net die verkeerde ding of kyk net verkeerd vir jou kind en jy beland in meer moeilikheid as wat jy kan dink. Hoe stel jy dus perke wat redelik en regverdig is? Hoe sê jy nee as al die ander ouers ja sê, want dit werk eenvoudig nie vir jou nie en jou lewe is ook belangrik? Ek weet eerlikwaar nie wat die oplossing is nie, maar ek weet – ver al aangesien my tweede kind feitlik ’n ampertiener is – dat dinge dubbel so dol in hierdie huishouding sal gaan. As iemand daar buite die antwoord het, deel dit asseblief tog met my.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

14 tekens dat jy ’n goeie ouer vir jou tieners is

Partytjie-idees vir tieners

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Hallo, onsekerheid

Ek het die laaste tyd besef dat ek die lewe nooit gaan verstaan nie. En dalk is dit oukei so,...

Close