×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Oefen you regte uit

Wanneer hy ’n fiksheidsfanatikus is en jy, wel, nié een is nie, kan dit jul verhouding kompliseer, sê GH se rubriekskrywer Susan Hayden
Maandelikse rubriek

Dit kan nogal lastig wees as jy jouself in ’n huwelik bevind met iemand wat, anders as jy, ’n diep en onwrikbare liefde vir strawwe oefening het. En dis nie juis iets wat jy aan die begin oorweeg om oor navraag te doen wanneer julle lekker knus oorkant mekaar sit met flikkerende kerse en wyn nie. Maar dis op die ou einde ’n belangrike faktor en hierdie verskilletjie tussen julle kan op allerhande eienaardige maniere in jul gesamentlike lewe manifesteer. Jy sal byvoorbeeld altyd na plekke toe wil ry en hy sal altyd wil stap. Jy dink dalk ’n kabelkar is ’n uiters sinvolle manier om bergpieke te bereik, terwyl hy sal volhou dat ’n stewige drie uur lange opdraande stappie uitstekend is om jou lyf aan die gang te hou. En só sal julle van mekaar verskil, en só sal dit aangaan.

En hoewel ek glad nie ’n sofapokkel is nie en ek en die trapmeul by Virgin Active dik pelle is (grootliks te danke aan my voorliefde vir alles wat koolhidrate bevat), deel ek Jerry Seinfeld se “geen pyn, geen pyn”-uitgangspunt oor oefening. En ek glo sterk in die uitdrukking “minder is meer” wanneer dit by oefening kom. Vir my is “minder is meer” beslis ’n riglyn wat jy wil volg wat fisieke oefening van enige aard betref. Matigheid is die sleutel, en ek bewonder mense wat verkondig dat 20 minute se oefening per dag al is wat jy ooit sal nodig hê. Want enige iemand – selfs dié wat erg teen oefening gekant is – kan darem 20 minute se ongemak verduur.

Lees: Maandelikse rubriek: Die mite van die volmaakte huwelik deur Susan Hayden

Dit is wel moeilik om onwrikbaar in jou matigheidsfilosofie te glo wanneer manlief uit die bed spring, ’n lycrabroek aanpluk en voor sonop 20 km kafdraf. Teen die tyd dat hy by die huis kom en bloesend en deugdelik op die dek staan en strek, is jy besig om jou vyfde stuk beskuit te eet, het jy reeds op almal se Facebook-inskrywings kommentaar gelewer – ook mense wat jy nie eens ken nie – is jy al twee keer deur Instagram, en het jy nie meer verskonings oor om nié uit die bed te klim nie. Dit beïnvloed nogal ’n vrou se selfbeeld taamlik negatief so op ’n Saterdagoggend.

In die ou dae, voordat ek op die harde manier geleer het, het ek probeer  byhou.  “As hy kan draf, kan ek verdomp ook!” het ek myself probeer oortuig. Maar ek’s ongelukkig die soort drawwer wat vinnig my limiet bereik, omtrent so ná 500 meter. Ek weet nie wat gebeur nie, maar die stemmetjie binne-in my begin goed sê soos: “Dit voel sleg. Dit voel regtig sleg. Draf is sleg. Jy moet nou ophou!” En dan doen ek dit, want as ek dit nie doen nie, verloor ek die lus om te lewe. Die ding is, ná 500 meter is hy skaars opgewarm. Wanneer hy uiteindelik agterkom ek hou nie heeltemal by nie en dat my gesig ’n uitdrukking van intense pyn het en een van my bene so half begin sleep, is ek reeds in so ’n slegte bui dat ek my maniere vergeet – en daarvandaan loop dinge lelik skeef.

Deesdae – en soms vat dit in ’n huwelik lank (soos in 20 jaar) om dié dinge te besef – neem ek so ’n rasionele treetjie terug en dink: Oukei, jy is stapelgek en ek gaan nie in hierdie malligheid deel nie. Draf jy gerus Kommetjie toe, swem Robbeneiland toe en terug, doen ’n vinnige 100 km-fietsrit, en as jy klaar is, sal ek jou met ’n baguette en ’n lieflike verskeidenheid kase inwag. Op dié manier is almal gelukkig. Maar ek wens nogal ek was daardie vrou – die een wat vir driekamp oefen, wat in die voorste bondel by die Argus is, en wat soggens vir die pret teen Tafelberg op- en afhardloop. Ek het groot bewondering en respek vir sulke vroue. Maar dis net nie wie ek is nie. Ek het my beperkinge aanvaar en fokus eerder op dit wat ek wel kan doen – om vir vyf minute te draf, ’n lekker jogaklas te doen en dan die Comrades met ’n groot pak Lay’s te kyk. Dis omtrent so atleties as wat ek ooit sal wees. En my verskoning bly deurgaans dat die lewe reeds genoeg uitdagings het!

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

12 wenke vir ’n platter magie sonder oefening of dieet

17 vrae om jou maat te vra om seker te maak hy of sy is gelukkig

Die 5 beginsels van vroeë kinderontwikkeling wat ouers moet bemeester

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Grootmens wees 101

Steek jou hand op as jy dink jy weet hoe die lewe werk, sê GH se rubriekskrywer Susan Hayden

Close