×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Nuwe perspektief

Soms verloor ons dinge wat ons gedink het waardevol is net om ’n selfs waardevoller les te leer, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
Nuwe perspektief

Twee weke gelede, terwyl werkers twee nuwe hangkaste in my huis ingedra het, het iemand by my trappe opgestap, in my sitkamer in, en met my handsak en twee selfone padgegee. Dit moes binne minder as ’n minuut gebeur het – die dief was professioneel en vinnig – en ek dink baie van ons Suid-Afrikaners ken daardie nare beklemming wat jy kry wanneer jy besef wat gebeur as jy nie heeltyd op jou hoede is nie. Ons handsakke en selfone is vir baie vroue soos ’n verlenging van ons siel. Ek het alles op my foon gedoen, en my handsak (het ek geglo) het my hele lewe bevat. Dit was dus die vreemdste gevoel om met net my sleutels in die motor te klim om die kinders te gaan haal; om by die verkeerslig stil te hou en nie vinnig ’n WhatsApp te stuur nie; en om nie tyd op Twitter te verwyl terwyl ek buite Kumon gewag het nie.

Ek het gedink aan alles wat ek verloor het – ’n sonbril en grimering waaroor ek dol was, my beursie met elke kaart en belangrike telefoonnommer wat bestaan – asook die tyd en moeite wat dit sou verg om goed soos my bankkaart en rybewys te vervang, en dit het my kwaad en meer as ’n bietjie verontreg laat voel. My man het oorsee gewerk en ons maklike kommunikasie was dus daarmee heen, net soos my gunsteling-apps, twee jaar se notas, SMS’e van my pa wat vroeër vanjaar oorlede is en al my musiek. Ek vaar toe so ’n bietjie op Facebook uit waar ek die nodige simpatie gekry het, asook ’n aanmerking van ’n New Yorkse vriend wat – tot my groot ergenis – gesê het: “Hulle het daardie goed nodiger gehad as jy. Moenie so geheg wees nie!” Nadat ek hom in my gedagtes gevloek het, het ek oor sy woorde begin nadink.

Lees: 5 goed om te doen voordat jy vir jou kind ’n slimfoon gee

Hoewel dit nie die sensitiefste ding was om onder die omstandighede te sê nie, moes ek erken hy is reg. Ek was so geheg aan my selfoon en my handsak dat ek neuroties was, en nou is hierdie goed weg. En raai wat? Ek is nie dood nie. Ons fone is geweldig nuttig, ja, maar die oomblik dat ons dink dis onontbeerlik vir ons bestaan, begin dit ons lewe oorheers. En ek sou nooit kon dink dat toe ek later daardie dag weer by my huis instap ek eintlik soort van bevry sou voel nie. Ek kon nie op my boodskappe reageer nie; ek kon nie my aandete op Instagram deel nie. En steeds het die wêreld nie vergaan nie.

Terwyl ek oor die volgende paar dae die nodige administratiewe werk aangepak het, het ek besef dat ek nie gegrief voel oor al die toue en vermorste tyd nie, maar verbasend dankbaar dat ek net in my motor kon klim en ry na waar ek moes wees; dat mense behulpsaam en vriendelik was; en dat ek my 10-jarige se stokou foon kon leen en met my naaste geliefdes in aanraking kon wees. Ek kon die musiek en apps terugkry. Ek kon ’n eis instel en ’n beter selfoon koop. Ek het nie ou teksboodskappe nodig gehad om my dierbare pa te onthou nie. Ek was gelukkig dat hulle goed gevat het wat ek maklik kon vervang. En hoewel ek seker is die gehegtheidsangs waaraan so baie van ons ly, sal terugkeer sodra ek weer alles het, het die voorval my gedwing om my gehegtheid aan “goed” te erken.

Lees: 4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

En dis nie net ’n gehegtheid aan materiële dinge nie, maar ook aan uitkomstes. Ons vermoë om uitkomstes met behulp van ons mobiele toestelle in ’n mate te beheer, plaas ons onder ’n wanindruk dat ons in beheer van die wêreld is – en dis ’n gevaarlike aanname. Ek is besonder sleg daarmee om dinge te laat vaar en “saam met die stroom te gaan”. Ek moet presies weet by watter restaurant ons gaan eet en wat op hul spyskaart is, en ek sal drie keer van tafel verander totdat dit “reg” is. Dis ’n siekte wat in ons tegnologiegedrewe samelewing floreer. Ek het steeds nie my foon vervang nie. Dis irriterend, maar ook goed vir my. Ek weet nie wat almal elke oomblik van elke dag doen nie. Ek kan nie elke gedagte uitbasuin, alewig foto’s op Instagram deel en sinlose skinderstories met my vriendin deel terwyl ek eintlik moet werk nie. Dalk was hierdie vir my ’n les dat ek meer moet afskakel en onthou wat belangrik is. Ek hoop regtig ek het daaruit geleer.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Maandelikse rubriek: Klein monstertjies deur GH se rubriekskrywer Susan Hayden

Maandelikse rubriek: Oefen you regte uit

Maandelikse rubriek: Grootmens wees 101

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Oefen you regte uit

Wanneer hy ’n fiksheidsfanatikus is en jy, wel, nié een is nie, kan dit jul verhouding kompliseer, sê GH se...

Close