×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Leef met verlies

Een van my grootste lewenslesse is dat jy nooit regtig die dood van ’n geliefde “verwerk” nie, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
Leef met verlies

Vandag is die eerste dag van my pa se verjaardagmaand, en dis ook die eerste keer in my volwasse lewe dat ek nie vir my ma ’n boodskap stuur wat vra: “Wat wil Pa vir sy verjaardag hê?” nie. Snaaks genoeg het ek met sy laaste verjaardag die tradisie verbreek en hom direk gevra. Sy antwoord? “Ek weet nie, hartjie. Vra jou ma.” Wat nogal snaaks is, en netjies opsom hoe hul huwelik gewerk het. Dit was ’n vreemde, moeilike jaar vir ons gesin. Die eerste 12 maande nadat jy iemand verloor het, is soos ’n hindernisbaan waar jy net probeer om in een stuk deur familievierings – Paasfees, herdenkings, verjaardae, Kersfees – te kom. Dié spesiale dae is nie meer dieselfde nie, en dit sal nooit weer wees nie. 

Sy dood was so ’n verpletterende gebeurtenis in ons lewe dat dit moeilik is om te dink dat hy verlede jaar dié tyd nog by ons was, besig om te gesels, te lag, stories te vertel, besig om Pa te wees. Ek onthou die laaste keer toe ek vir hom ’n geskenk gekoop het – pantoffels van Woolworths – en gewonder het hoeveel keer ek nog die kans sou kry om dit te doen. Ek het geweet hy is oud, al was hy oënskynlik so gesond en sterk soos altyd. En al het ons gekies om die werklikheid te ontken, het hy jare lank ’n stryd teen vaatsiekte gevoer, en sou sy gesondheid nooit verbeter nie.

Jy word baie dinge wys wanneer jy ’n verlies ly, maar die grootste les vir my is dat jy dit nooit “verwerk” nie. Natuurlik word die rou en die seer mettertyd minder, maar nog ’n verlies gaan hiermee gepaard, en dit is van jou ou self. Jy sal nooit weer dieselfde mens as voorheen wees nie. Jy het verander. Vir altyd dra jy binne-in jou die las van jou pyn, weggebêre op ’n plek waar die wêreld dit nie sal sien nie. Nou en dan, wanneer niemand kyk nie, sal jy dit van nader bestudeer, opnuut getref deur die intensiteit van jou liefde en verlange. Dan sal jy opstaan, jou gesig was en die kinders by hul sokkeroefening gaan haal.

Dit het my ook verras hoe verhoudings verander onder diegene wat agterbly. Wanneer my ma dwarsgetrek het, sou ek en my pa vir mekaar kyk en ons oë rol. Ek is seker as ek dwarstrekkerig was, sou sy weer by hom gaan kla. Nou is dit net ek en sy en ons moes leer om op ’n heel nuwe manier by mekaar aanklank te vind, iets wat ’n uitdaging is, en met tye uitputtend. Nou het ons net mekaar en die druk op ons albei kan besonders erg voel. Maar jy gaan aan omdat jy moet. Dit is nou maar eenmaal hoe dié besigheid wat ons die lewe noem, werk.

My ma en pa was 54 jaar lank onafskeidbaar. Haar dapperheid te midde van die verlies aan haar lewens- en sielsmaat laat ’n mens nederig voel en ek het ’n heel nuwe kant gesien van die mens wat ek gedink het ek ken. In een van ons laaste gesprekke het ek vir my pa gesê: “Pa, ek dink nie dis ’n goeie idee dat Pa nou al doodgaan nie, want ek is nie seker dat Ma dit sal kan hanteer nie. Dit was so half skertsend, want ek het nie regtig gedink hy sou nie, ek wou maar net seker maak. Ek dink eerlikwaar nie hy wou self nou al gaan nie, want daar was ’n rugbywedstryd wat hy nog die volgende Saterdag wou kyk, maar sy ou hart het ander planne gehad. En ondanks my vrese hét my ma die mas opgekom. Ons almal het.

Dit gaan moeilik wees om op sy verjaardag bymekaar te kom terwyl hy nie daar in sy stoel sit nie, maar ons gaan dit in elk geval doen, want om dit nie te doen nie, sal erger wees. Ons sal sy geliefkoosde vis en tjips eet en stories oor hom met mekaar deel – dit is hoe jy die mense vir wie jy lief is, lewend hou. Ons mense is taaier as wat ons dink. Jy val, jy staan op en jy dans verder saam. Die lewe is niks anders as ’n oefening in moed nie. Laat ons dus sagkens met die siele om ons te werk gaan. Dit het ’n cliché geword, maar ons almal worstel inderdaad met die een of ander iets. Ek hoop die nuwe jaar is gevul met meer lag en minder seer as die een wat so pas verby is, maar ek weet ook dat, ongeag wat die lewe na ons kant toe slinger, ons sal oorleef.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Hoe om met kinders oor die dood te praat

Maandelikse rubriek: Nuwe perspektief

Maandelikse rubriek: Oefen you regte uit

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Wat de Whatsapp?

Ek’s nie seker hoe ek my tienerdogter se persoonlike assistent geword het nie, maar ek sal graag my bedanking wil...

Close