×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Hallo, onsekerheid

Ek het die laaste tyd besef dat ek die lewe nooit gaan verstaan nie. En dalk is dit oukei so, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
onsekerheid

Ek het onlangs my 46ste verjaardag gevier, wat beteken dat die groot vyf-nul op die horison wink, en 50 – beslis in vergelyking met 40, en vir seker in vergelyking met 30 – is tog ’n ernstige ouderdom. Op dié ouderdom word van jou verwag om jou lewe agtermekaar te hê. Jy is veronderstel om belangrike dinge te weet, soos hoe die heelal werk en met hoeveel glase merlot jy op ’n weeksaand kan wegkom. Wat my ietwat ontsenu, is die feit dat dit hoogs onwaarskynlik is dat ek binne die volgende vier jaar meer sal weet as op hierdie oomblik, hier waar ek op ’n reënerige Dinsdag in my sitkamer sit en skryf. Ek dink ek het seker maar aanvaar ek sal eendag wakker word en besef dat alles uiteindelik vir my sin maak. Ek het beslis nie gedink ek sal in dié stadium van die wedstryd nog net so verward en onseker as ooit te vore wees oor hierdie besigheid wat ons die lewe noem nie.

Al moet ek toegee dat ek darem sekere brokkies wysheid langs die pad bekom het (soos dat jy nooit, óóit iets anders as olie en asyn vir ’n slaaisous nodig het nie), voel dit terselfdertyd vir my asof ek nog 10 jaar oud is. Ek onthou hoe ek op die mat in my ouers se huis in Somerset-Wes langs ’n groot, swart luidspreker gelê en luister het na iemand met die naam Polly Brown wat “Do you know where you’re going to?” sing terwyl my ouers buite saam met hul vriende kuier. Die meevoerende lirieke het my saggies laat huil. ’n Paar dae gelede het ek op Instagram op ’n plasing van ’n vriendin afgekom wat tans in Bali joga doen (soos ’n mens kan maak wanneer jy g’n kind of kraai het nie). Haar instrukteur het die woorde in die jogaklas voorgelees en dit het daaroor gegaan dat ’n mens nie altyd al die antwoorde het nie. Dit het my diep geraak.

Lees: Ses geheime voordele van joga

Ons hou daarvan dat dinge duidelik is en dat ons weet wat kom, en gewoonlik doen ons groot moeite om te verseker dat dinge nie verander nie. Die illusie dat ons in beheer is, vorm die paradigma van ons dag-tot-dag-bestaan en laat ons hart in vrees ineenkrimp wanneer die onbekende skadufiguur van onsekerheid aan die deur kom klop. Ons doen wat ons kan om van hom ontslae te raak en gee voor dat hy nie bestaan nie sodat ons nie moeilike vrae aan onsself hoef te beantwoord nie. Die waarheid is dat hy nooit werklik verdwyn nie; hy gaan skuil bloot in die skadu en wag om weer raakgesien te word. Dit laat my wonder: Wat as ons hom binnenooi, ’n stoel aanbied en in stilte by hom gaan sit, bereid om na te dink eerder as om die deur in sy gesig toe te maak? Wat as ons ’n pot tee maak, Onsekerheid vierkant in die oë kyk en hom toelaat om sy sê te sê? Want die waarheid oor wie ons is kan dalk net te midde van al hierdie ongemaklike vrae skuil. En solank ons ons gesig wegdraai, sal ons nooit weet nie.

Ons kan so vinnig sê “alles is oukei” en dikwels nie erken dat ons glad nie so seker oor die stand van ons lewe voel nie. In teenstelling met die Westerse kultuur vier die Boeddhistiese leerstellings hierdie onsekerheid omdat dit die potensiaal het om ons te laat groei en verander. Boeddhisme moedig ons as mense aan om te mediteer en dinge te aanvaar soos dit is: deurmekaar, chaoties, onbepaald. Dit sê dis oukei om van tyd tot tyd ietwat verward te voel. Miskien is dit oukei om nie die antwoorde op al die vrae te hê nie. Miskien is dit heeltemal aanvaarbaar om te sê: “Ek weet nie” en dit daar te laat, om die “weet nie” as ’n integrale deel van die lewe en die menslike toestand te aanvaar. En dalk is dit glad nie so belangrik as wat ons gedink het om sin uit alles te maak nie. Ek luister steeds van tyd tot tyd na daardie liedjie. Ek weet steeds nie waarheen ek op pad is nie. En heel moontlik sal ek nooit weet nie.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Maandelikse rubriek: Klein monstertjies

Maandelikse rubriek: Nuwe perspektief

Maandelikse rubriek: Oefen you regte uit

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Nuwe perspektief

Soms verloor ons dinge wat ons gedink het waardevol is net om ’n selfs waardevoller les te leer, skryf GH...

Close