×
Skakel na Engels

Maak ’n goeie man groot

Wat kan ouers doen of sê sodat hulle vriendelike, sensitiewe en eerbare seuns die wêreld instuur?

 

 

Leer hulle om hul gevoelens in woorde uit te druk

 

Duisende jare gelede is vroue geprogrammeer om moederlik en versorgend te wees, terwyl mans sterk en dapper moes wees om roofdiere en die elemente vir oorlewing te trotseer. Dis nie langer die geval nie. Soos die behoefte aan hande-arbeid en meganiese arbeid afneem, moet ons daardie manlike krag en energie neem en ’n nuwe soort held daarmee skep.

Deur middel van taal moet ons seuns met die vaardighede toerus om hulself uit te druk en hul gevoelens te verstaan en toepaslik te kommunikeer − sodat hulle mans kan word wat oor moed en vasberadenheid beskik en ook sensitief is vir ander se behoeftes. Seuns se liggame is van nature meer gespierd as meisies s’n en hulle moet spesifiek geleer word om nie ander met geweld te benader wanneer hulle ontstig is nie. Bemagtig hulle om minder impulsief op te tree deur te gesels oor alternatiewe maniere van optrede om hul probleme op te los.

– Anel Annandale, opvoedkundige sielkundige

 

Dis noodsaaklik dat jou seun ’n gesonde selfbeeld moet kweek

 

’n Man sonder ’n selfbeeld is ’n gevaarlike verskynsel; hy is onseker en selfsugtig omdat hy gedurig sy eie ondergang vrees. Daarom maak hy keuses wat die behoeftes of waardigheid van ander uitsluit. Vir ’n [gesonde] selfbeeld moet jy as mentor geduldig én daadwerklik wys dat gesonde kommunikasie met waar- digheid en konflikoplossing gepaardgaan – moet ook nooit ’n etiket om ’n kind hang nie, sonder net sy optrede uit. Sê eerder dat dit ’n onverstandige ding was om te doen, pleks van, “Jy’s darem dom!”

Ons móét ons seuns leer hoe om hulle voorkeure en behoeftes te identifiseer, en hoe om daarna te streef sonder om ander se menswaardigheid te ontken. Hulle moet leer om eerder ánder teleur te stel as om hul eie waardes prys te gee. Hulle moet besef as jy jou eie beginsels prysgee, skaad jy jou eie selfbeeld, want jy staan nie op vir jouself wanneer jy dit die nodigste het nie.

– Beverley Milun, selfbeeld-ontwikkelaar, kommunikasie-afrigter, skrywer van The survival guide of parenthood: through the eyes of a single mother, en ma van een seun

 

Dade spreek harder as woorde

 

Ek staan vas by ’n aanhaling wat ek gelees het: “die grootste nalatenskap wat ’n man vir sy kinders kan gee, is die manier waarop hy hul ma behandel”. ’n Seun- tjie beskou sy pa as sy rolmodel. As Pa sê die maan is van cheddarkaas gemaak en die ruimtevaarder neil Armstrong sê nee, sal die seuntjie sy pa glo. ’n Pa mag nie ’n sofa-pokkel wees nie; hy mag nie dronk by die huis aankom of sy vrou slaan of disrespekvol behandel nie. Selfs al verpes hy wat sy pa doen, sal ’n seun dikwels nes sy pa optree. Pa’s moet voorloop.

– Angus Buchan, evangelis, skrywer van Faith LIke potatoes, pa van twee seuns en drie dogters

 

Kommunikasie en eerlikheid help vestig ’n diep onderliggende respek

 

My seuns se karakter was met geboorte al gevorm – ek verwonder my altyd daaraan. Ek en my man het ’n belangrike rol in hul sosialisering op laerskool gespeel, en ons was gelukkig genoeg om hulle na goeie openbare skole te kon stuur.

Ons het probeer om altyd vir hulle ’n voorbeeld te stel, maar so baie van hulle mens-wees is reg van die begin af geskep. Die oudste van ons twee seuns het empatie getoon nog voordat hy kon praat. Ons jonger seun, wat ook ’n hart van goud het, het nog voordat hy kon loop, elke uitdaging aangepak. Ons het as ouers ’n fasi- literende rol gespeel.

My man was vir hulle as man, pa en landsburger ’n uitstekende rolmodel. Ek het probeer om my deel te doen. Ons het albei beroepe gehad wat groot eise aan ons gestel het, en ons was nog altyd dankbaar vir die toegewyde steun van ons huishulp, Grace Voyiya Mputing, wat vir my kinders lief is soos vir haar eie.

Die tienerjare was dikwels moeilik, maar ons grondslag as gesin was gevestig en ons het al die uitdagings saam aangepak. Ons vertrou elke dag op God om die volgende tree te gee.

Ons seuns is nou volwassenes, maar dis net die helfte van die reis. Ek is seker dat hulle eendag uitstekende rolmodelle vir hul eie gesinne sal wees.’

– Helen Zille, Premier van die Wes-Kaap en ma van twee seuns

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jou sosiale media-profiel kan jou volgende werkgeleentheid maak of breek

Ons moet versigtig wees oor wat ons aanlyn doen en sê, en ons moet veral nadink oor wat ons wil...

Close