×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Maak bekwame kinders groot

Jy doen jou kinders ’n reuse-guns as jy hulle af en toe vir hulself verantwoordelikheid laat aanvaar, skryf Susan Hayden
Maak bekwame kinders groot

Ek het iets interessants ontdek vandat ek ’n ouer is, en dis hoe baie my ouerskapstyl verskil van hoe ék grootgemaak is. Dit blyk ’n algemene verskynsel te wees. Ek het al gesien hoe vriende oor wie se ontspanne, hippie-ouers ek as kind dol was in streng byna outokratiese ma’s en pa’s verander. En dis ’n interessante ding om waar te neem. My moederlike ouma se Victoriaanse ingesteldheid het beteken dat haar vyf kinders met die huiswerk moes help, hulself moes gedra en hul kant moes bring, anders het hulle ’n pak slae gekry. My ma, daarenteen, het alles in haar vermoë gedoen om my kinderdae so idillies moontlik te maak. In so ’n mate dat ek teen die tyd dat ek universiteit toe is en in ’n koshuis ingetrek het, feitlik nog nooit huistake gedoen het nie en geen idee gehad het hoe om wasgoed te was of ’n toilet skoon te maak nie. 

Ek sien hoe my ma my verbaas en soms selfs ’n bietjie geskok aankyk wanneer ek my dogters vra om die kombuis aan die kant te maak, die sitkamer op te ruim en die wasgoed in te bring. Ek doen dit nie opsetlik of om hulle doelbewus lewensvaardighede te leer nie. Ek voel net dis onregverdig dat ek altyd hulle goed moet optel en alleen al die husiwerk moet doen. En omdat ons huishouding nog altyd só gewerk het, dink hulle nie dis vreemd nie en is hulle gevolglik heel bekwame klein mensies. Hulle kan ’n paar eenvoudige geregte berei en hulle neem maklik inisiatief wanneer dit by skoolgoed kom, wat ook maar goed is, want dis nie my sterk punt nie. En ek neem aan hulle het self uitgevind dat as hulle nie die vorm vir my gee om te teken en dit betyds vir hul onderwyser teruggee nie, gaan hulle nie op daardie uitstappie nie, want ek het gewoonlik nege miljoen ander goed waaraan ek dink. Die vorm is hul eie indaba.

Lees: Maandelikse rubriek: Klein monstertjies deur GH se rubriekskrywer Susan Hayden

Hoewel hierdie status quo eintlik meestal spruit uit my eie verstrooidheid, my werkverpligtinge en die oortuiging dat my lewe nie net om my kinders kan draai nie, moet ek ook met ’n bietjie trots sê dat hierdie minder oppieperige benadering tot ouerskap tot twee baie onafhanklike kinders gelei het. Hulle pak hul eie goed vir kampe, maak seker hul skoolklere is skoon en die afgelope jaar (halleluja!) het hulle ook begin om hul eie wekkers te stel en hul eie ontbyt en toebroodjies vir skool te maak, wat my toelaat om in vrede koffie te drink en Facebook te lees totdat my brein wakker genoeg is om te funksioneer. En hoewel die kosblikpakkery ’n onverwagse bonus is, dink ek regtig kinders moet ’n bietjie verantwoordelikheid aanvaar vir wat in hul lewe aangaan. 

As ons by die skool aankom en een van die meisies ontdek dat sy haar taak/swemklere/sokkerskoene by die huis vergeet het, sal ek dit later bring as ek kan, maar ek los dit as ek nié kan nie. En dis iets wat hul skoolhoof van die begin van hul skoolloopbaan af vir ons ouers aanbeveel: Moenie te haastig wees om alles reg te stel wanneer jou kind aangejaag het nie. Kinders moet leer om dinge vir hulself te doen en vir hulself te dink. As hulle nooit die gevolge van hul eie foute ervaar nie, ontneem jy hulle ’n belangrike lewensles. Hulle moet maar ’n bietjie honger raak of by ’n onderwyser raas kry sodat hulle nie weer daardie fout maak nie. Dit kan vir ouers moeilik wees, want ons instink maak dat ons ons kinders wil beskerm, maak nie saak wát nie. Maar as jy wil hê hulle moet eendag bekwame en goed funksionerende volwassenes word, moet jy soms ’n bietjie terugstaan en hulle die lewe laat ervaar. 

En ’n ekstra voordeel van hierdie soort ouerskap is dat dit lyk of dit selfvertroue kweek. Kinders weet waartoe hulle in staat is en dit gee hulle ’n gevoel van mag en ’n geleentheid om die wêreld volgens hul eie voorwaardes aan te pak. Hulle weet hulle is nie hulpeloos nie en as jý hulle vertrou en glo dat hulle goed vir hulself kan doen, glo hulle dit ook. Dis oukei – solank dit redelik is – om jou kinders hul eie sake te laat hanteer. Dis oukei om hulle af en toe hul eie kos te laat maak en dis heeltemal oukei om van hulle te verwag om te help om die huis wat julle almal deel te onderhou. Hulle moet van hierdie goed weet en die onafhanklikheid wat jy hulle só leer, sal hulle later goed te pas kom wanneer dit tyd is om die huis te verlaat en op hul eie twee voete te staan.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Die mite van die volmaakte huwelik deur Susan Hayden

Brasiliaanse Bloutjie deur Susan Hayden

My kind die suikerslaaf deur Susan Hayden

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief