×
Skakel na Engels

Ma waarsku ander ouers: Vroetelspinners is báie gevaarlik

Verstikking is ’n groot gevaar, en dis nie die enigste een nie. Deur Lindsey Murray
Vroetelspinners

Johely Morelos het haar seun Cayden oor die gevare van vroetelspinners (fidget spinners – noem dit wat jy wil: ’n woelwoer, ’n vroeteltol, ’n fieterspinner) gewaarsku nadat sy in die nuus gehoor het van ’n meisie van Texas wat aan ’n los deeltjie van dié speelding verstik het, maar dit het nie haar vyfjarige gekeer om ’n stuk van sy eie spinner te verwyder en in te sluk nie.

“Ek het vir hom foto’s gewys en gesê: ‘Moet dit nooit in jou mond sit nie!’ het die 32-jarige ma van Albany, Oregon aan BuzzFeed News vertel. “Maar lyk my nie hy het mooi geluister nie.”

Morelos het met haar seun na die hospitaal gejaag, maar die personeel kon nie die voorwerp uit sy bors kry nie. Hy is toe na ’n ander hospitaal in Portland geneem waar hulle hom moes opereer om die skyfie te verwyder. “Dit was vreesaanjaend,” sê Morelos. “Toe hulle die buis in sy keel insit, het hy bloed opgebring. Dit was aaklig om hom in soveel pyn te sien.” 

Cayden het vinnig ná sy operasie herstel, maar volgens BuzzFeed wil Morelos nou hê dat hierdie vroetelspinners herroep moet word en die nodige waarskuwings vir verstikking op hul verpakking moet kry. Sy het haar tot Facebook gewend om ander ma’s oor die verstikkingsrisiko van hierdie gewilde speelgoed te waarsku.

 

En verstikking is nie die enigste gevaar nie. Carol Woods, ’n ma van Missouri, het aan BuzzFeed vertel dat haar driejarige seun beseer is nadat ’n stuk van sy spinner in sy middelvinger beland het. Woods het dit probeer verwyder, maar moes eindelik haar seun na ’n ongevalle-eenheid neem waar dokters dit met verskeie gereedskap moes verwyder.  

Ná haar vreesaanjaende ervaring hoop sy dat ouers meer bewus sal word van die gevare wat hierdie gewilde speelgoed inhou. “Ek dink dit sal goed wees as hulle weet dat van die onderdele kan loskom wanneer kinders dit laat val,” het sy aan BuzzFeed News gesê. As gevolg van hierdie beserings het die Consumer Product Safety Commission (CPSC) nou aangekondig dat hulle hierdie produkte deeglik gaan ondersoek.

“CPSC het ’n ondersoek geloods nadat twee kinders in Texas en Oregon dele van hul vroetelspinners ingesluk het,” het die agentskap in ’n verklaring aan ABC News geskryf. “Ons waarsku ouers om dit van jong kinders weg te hou omdat hulle aan klein dele daarvan kan verstik. Waarsku ook ouer kinders om nie die spinners in hul mond te sit nie.”

Hierdie soort beserings vind plaas omdat baie van die vroetelspinners op die mark nie die behoorlike etikette of beskrywings bevat wat sê vir watter ouderdomme dit geskik is of dat dit moontlik verstikking kan veroorsaak nie. Volgens die CPSC moet enige speelding wat op kinders gemik is ’n etiket hê wat aandui dat dit moontlik tot verstikking kan lei.

Ons kenners het ontdek dat nagemaakte en handelsmerk-spinners in klein stukkies kan breek wat moontlik verstikking by kinders jonger as drie kan veroorsaak. Hulle stel voor ouers hou vroetelspinners, of enige ander speelgoed met klein dele of skroewe, van babas en kleuters onder die ouderdom van drie af weg.

“Ouers kan dit by die huis toets deur ’n leë toiletrol te gebruik: As die deeltjie daardeur pas, kan dit gevaarlik wees,” sê Rachel Rothman, die Good Housekeeping Institute in die VSA se hooftegnoloog en ingenieursdirekteur.

Rothman sê ook dis belangrik dat jy die gevaar van verstikking selfs by ouer kinders in gedagte hou, soos met Morelos se vyfjarige seun. “Vir kinders tussen drie en ses, maak seker daar is ’n volwassene by wanneer hulle die spinners gebruik. Bespreek die moontlike gevare met kinders wat ouer as ses is.”

As jou kinders met vroetelspinners speel, stel ons voor dat jy die volgende voorsorgmaatreëls tref:

1. Kyk uit na klein onderdele:

Enige iets met klein dele of selfs iets wat in kleiner dele gebreek kan word, hetsy as dit val of omdat dit opgespeel word, moet van jong kinders weggehou word. Gebruik die toiletrolwenk hier bo om dit by die huis te toets.

2. Raak ontslae van stukkende speelgoed:

Behalwe vir die gevaar van verstikking kan dit ook tot skerp voorwerpe en rande lei wat beserings kan veroorsaak.

3. Lees die etiket:

Let op die aanbevole ouderdom op die speelding om seker te maak die speelding is geskik vir jou kind. Oppas veral wanneer jy jonger kinders by die huis het wat dalk met ’n ouer broer of suster se speelgoed wil speel.

4. Toesig is noodsaaklik:

Selfs al is daar nie ’n waarskuwing op ’n speelding nie, kan jy nooit te versigtig wees nie – en ouertoesig is nooit oorbodig nie. Verstikking is een van die grootste oorsake van besering en sterftes onder jong kinders. Dit is dus baie belangrik om te weet watter speelgoed klein dele bevat of moontlik gevaarlik kan wees.

Van: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/J2R

LEES OOK:

Lees dít voordat jy vir jou kind hierdie “speelding” koop 

Ontdek jou kind se huiswerkpersoonlikheid 

Kry jou kinders om hul tablet eenkant te sit sonder ’n geveg 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 dinge wat ouers nie in eksamentyd moet doen nie

Dis natuurlik vir ouers om te wil hê dat hul kinders sukses behaal

Close