×

Só lyk prins Harry en Meghan Markle se “kothuis”

Die kothuis is een van die kleinste wonings op die landgoed … Deur Naomi Gordon
harry en maghan

Ná die opwindende aankondiging van hul verlowing is dit bevestig dat Meghan Markle by prins Harry in sy koninklike woning, Nottingham Cottage, sal intrek. Die paartjie is van plan om einde volgende jaar te trou.

 

Die bekoorlike kothuis is op die terrein van Kensington-paleis geleë en is al vier jaar lank die 33-jarige prins se tuiste. Dit word as die eenvoudigste blyplek beskou in vergelyking met die ander wonings in en om die paleis.
 
Dit het twee slaapkamers – ’n hoofkamer en ’n gastekamer – ’n klein leefkamer, ’n kleiner eetkamer, en twee badkamers, berig Hello!. Dit word volgens koninklike terme as “klein” beskou, veral teenoor die hertog en hertogin van Cambridge se ikoniese Apartment 1A langsaan wat ’n allemintige 22 kamers het.
 
William en Kate – wat tans hul derde kleinding verwag – asook prins George (4) en prinses Charlotte (2) sal dus Meghan se nuwe bure word.
 

Die kothuis het intussen ’n tweede tuiste vir die Suits-ster geword aangesien sy haar tyd tussen Londen en Toronto verdeel het waar sy aan dié gewilde dramareeks gewerk het.

Daar is geen twyfel daaraan dat die aktrise haar eie stempel op die kothuis sal afdruk en natuurlik binnekort haar twee hondekinders, Guy en Bogart, daarheen sal neem nie.

Meghan sal van 24/7-sekuriteit voorsien word wanneer sy tuis is, maar ook wanneer sy in en om Londen rondbeweeg. Sy is onlangs afgeneem waar sy in King’s Road in Chelsea saam met ’n vroulike metgesel inkopies gedoen het.

 
 

Kensington-paleis dien al sedert 1689 as ’n koninklike woning, en van die inwoners was onder meer George I, George II en koningin Victoria. Harry se oorlede ma, prinses Diana, het ook daar gebly.

Meghan het voorheen in ’n tweeslaapkamerhuis in ’n stil middelklasbuurt van Seaton Village in Toronto gewoon – dit het twee kamers, ’n woon- en eetkamer, ’n klein agtertuin en ’n motorhuis gehad.

Clarence House het vroeër die week (27 November) bevestig dat Harry en Markle verloof. Volgens ’n paleiswoordvoerder het die koningin gesê dat sy en prins Philip “verheug vir die paartjie is en hulle net mooi dinge toewens”.

Die paartjie gaan glo in die lente van 2018 trou.

 
Hooffoto: Gallo Images/Getty Images
 

Lees ook:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Meghan Markle onthul hoe dit was om die koninklike familie die eerste keer te ontmoet

Dit moet vreesaanjaend wees! Deur Sophie Hines

Close