×
Skakel na Engels

Ly jou dogter aan adolessente endometriose?

Dis moontlik. Moet haar nie in stilte laat ly nie. ’n 15-jarige meisie deel haar storie om bewustheid van dié pynlike toestand aan te wakker

 

 

Adolessente endometriose raak al hoe meer algemeen, maar dit word dikwels verkeerd gediagnoseer of gewoon as erge menstruele pyn afgemaak.

 

Vier jaar gelede, op die ouderdom van 11, het Demi Puttergill erge menstruele krampe en pyn begin kry. Ná verskeie besoeke aan dokters, pediaters en spesialiste is prikkelbare-derm-sindroom in 2010 by haar gediagnoseer. Maar ondanks behandeling en veranderinge aan haar dieet het die pyn erger geraak.

 

In 2012 was die pyn so onhoudbaar dat dié Port Elizabethse tiener inderhaas na ’n chirurg geneem is. Hy het gedink dis haar blindederm, maar haar die volgende dag ontslaan en gesê: “Sommige kinders kry net maagpyn.” Ná ’n tweede mening is haar blindederm verwyder. Die chirurg het siste op haar Fallopius-buise gesien en haar na dr. Gary Solomon, ’n ginekoloog, verwys.

 

Die siste is verwyder, haar Fallopius-buise skoongespoel en endometriose is by haar gediagnoseer. “Uiteindelik is my gebede beantwoord,” het Demi gesê. Maar haar stryd was nie verby nie.

 

Sy is ook vir angs en depressie behandel, en haar sielkundige het voorgestel dat sy tuis onderrig word totdat sy sterker is en meer selfvertroue het. “Voordat [endometriose by my] gediagnoseer is, het ek nie geweet wat [dit] is of hoe om die ongemak wat ek ervaar het te verduidelik nie. Die pyn is onbeskryflik. Dit het ’n invloed gehad op wie ek is, my ingesteldheid en my vermoëns,” verduidelik sy.

 

Demi gebruik nou medikasie wat onlangs in Suid-Afrika bekend gestel is en dit het haar lewe verander. “Behalwe vir die ongelooflike pynverligting, het dit my ook gehelp om aan meer dinge deel te neem, geselliger te wees, skool by te woon en aan sport deel te neem,” sê sy.

 

 

Algemene tekens en simptome van endometriose kan die volgende insluit:

 

  • Pynlike maandstondes.
  • Pyn gedurende ontlasting of urinering.
  • Oormatige bloeding (selfs tussen maandstondes).
  • Ander simptome. (Jy kan ook moegheid, diarree, hardlywigheid, opgeblasenheid of naarheid ervaar, veral gedurende maandstondes.)

 

 

Help om bewustheid aan te wakker

 

 

Verlede jaar het Demi ’n endometriose-bewustheidspretloop georganiseer wat met Wêreld-endometriosemaand in Maart saamgeval het. Die geld wat met inskrywings ingesamel is, is aan die inisiatief vir die genesing en bewustheid van bekkenpyn (HAPPI) geskenk.

 

Vir meer inligting oor HAPPI, kontak Madge Blignaut by info@happi.org.za.

 

Die pretloop sal vanjaar op Sondag 9 Maart by die Crossways Farm Village buite Port Elizabeth plaasvind.

 

Vir meer inligting kontak Demi by 042 286 0764 of haar ma, Nicky, by 082 576 1382 of e-pos bluegums@igen.co.za.

 

 

 

Demi Puttergill

 

 

Demi en haar ginekoloog, dr. Gary Solomon

 

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief