×
Skakel na Engels

Leer hoe om ’n wiel te ruil met hierdie vinnige en maklike stappe:

Dit is belangrik om te weet hoe om ’n wiel te ruil indien een die gees gee terwyl jy alleen iewers heen op pad is … Deur Juliet McGuire
wiel

’n Pap band is nie regtig iets waarvoor ons kan beplan nie. Maar as sterk, onafhanklike vroue van die 21ste eeu is dit noodsaaklik om te weet hoe om ’n wiel te ruil indien een die gees gee terwyl ons besig is om die wêreld vrou-alleen te oorwin.

Ons kan ’n kennis of die AA skakel om te kom help, maar tyd is nie altyd aan ons kant nie – en dis nie noodwendig veilig om langs te pad te sit en wag totdat hulp opdaag nie.

Hier is ’n vinnige en maklike stap-vir-stap gids om ’n wiel te ruil. Dit is nie naastenby so moeilik soos die sterker geslag ons wil laat glo nie – en daar is beslis ’n gevoel van sukses wanneer jy as iets vrou iets regkry wat gewoonlik as ’n “man se werk” beskou word.

As jy in ’n stedelike omgewing is, kan jy stadig tot by ’n openbare plek ry waar jy kan aftrek. Indien jy op ’n snelweg is, parkeer op die rand van die pad of in ’n noodbaan. Indien moontlik, maak seker dat die pap wiel aan die buitekant van die pad is, nie aan die verkeer se kant nie. Wanneer jy op ’n veilige plek is, skakel die rat oor in neutraal/parkeer, trek die handrem op en skakel jou noodligte aan.

Eerstens moet jy jou nooddriehoek ongeveer 20 meter agter jou motor opstel. Kry dan iets om agter die ander wiele te sit om te keer dat die motor beweeg, soos bakstene, ’n tak of klippe. Gaan haal jou spaarwiel en die gereedskap uit wat jy gaan nodig kry – dié is gewoonlik onder die vloer van jou kattebak of soms onder die motor.

Plaas die domkrag onder die metaalraam naby die wiel wat geruil gaan word en lig die wiel van die grond af, net genoeg om die motor se gewig van die band af te haal. Verwyder die naafdop en gebruik die wielsleutel om die wielmoere los te maak deur dit antiklokgewys te draai. Moet hulle nog nie afhaal nie; draai hulle net losser.

Wanneer die moere los is, kan jy die motor verder oplig totdat die voertuig hoog genoeg is om die moere te verwyder en die pap wiel af te haal. Plaas die pap wiel onder die motor vir ingeval jou domkrag meegee, sodat dit ten minste op die ou band sal en nie op jou of jou motor se onderstel nie. Sit die nuwe wiel op, sorg dat die velling van die nuwe wiel netjies oor die skroewe pas en plaas die moere terug.

Gebruik jou hande om die moere vas te draai totdat hulle stewig sit. Draai die boute nou in ’n sterpatroon vas om eweredige wringkrag te verseker – moenie die boute in ’n ry vasdraai nie. Gebruik jou wielsleutel om dit verder vas te draai (maak vir oulaas seker dat die wielmoere styf vas is voordat jy jou motor laat sak). Nou kan jy die motor laat sak, die hefboom uithaal en die pap wiel saam met jou gereedskap weer in jou kattebak bêre.

As jou spaarwiel ’n “mariebeskuitjie-wiel is en nie ’n behoorlike plaasvervanger nie, kan jy jou diensboekie vir die maksimum aanbevole rysnelheid (gewoonlik ongeveer 80 km/h) raadpleeg om jou veiligheid te verseker. Gaan so gou moontlik na jou naaste bandeplek toe om die pap wiel te laat herstel of te vervang – jy wil nie met ’n beskadigde spaarwiel sit as jy weer ’n pap wiel kry nie.

As jy ’n ouer motor het wat jou deur die jare getrou gedien het en jy nie seker is wat jy in die kattebak gaan aantref indien jou motor onklaar raak nie, kan jy dié artikel as ’n oproep beskou om jou gereedskap na te gaan en alles aan te skaf wat jy in ’n noodgeval mag nodig kry. Dit is ook ’n goeie idee om ’n pakkie natlappies te koop wat jy in jou kattebak kan hou sodat jy jou hande kan skoonmaak wanneer jy weer padvaardig is …

Uit: WOW

FOTO: iStock/Jay_Zynism

LEES OOK:

Is jou motor gereed vir die feestyd?

9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

 
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 goed wat jy moet weet voordat jy vir jou kind ’n bromponie koop

’n Bromponie is dalk net wat jou tiener nodig het ... Deur Juliet McGuire

Close