×
Skakel na Engels

Leer hoe om hierdie 9 dinge te takel wat ons selfvertroue knou

Nuttige wenke om jou selfvertroue vinnig ’n hupstoot te gee. Deur Martha Roberts
selfvertroue

Jy is besig om jou lewe te leef wanneer jy skielik ’n krisis met jou selfvertroue het, en jou hoop en drome voel minder moontlik as tevore. Kate Tojeiro, ’n kenner op die gebied en die skrywer van The Art of Possible: New habits, neuroscience and the power of deliberate action, verduidelik: “Om vryheid van keuse te hê, ons drome en passie na te streef  en ons potensiaal te verwesenlik kan alles platval as ons toelaat dat dinge wat ons selfvertroue knou, beheer oorneem.”

Hier is nege algemene faktore wat ons selfvertroue vernietig, asook nege dinge wat ons selfvertroue kan verbeter en herstel.

1. Dít knou jou selfvertroue: Om konstant aan die magtige “hulle” te dink

Of dit nou die gemeenskap, mense op sosiale media, jou familie, vriende of kollegas is, “hulle” is die mense wat ons dink dinge nie sal goedkeur nie, krities na ons sal kyk of ons bespot oor wat ons wil bereik. Kate sê: “Dit is nie die mense wat jy rondom jou wil hê of te veel aan wil dink wanneer jy ’n doelwit wil bereik nie.”

Dít bou jou selfvertroue:

Dink wie jou inspireer en wie die beperkings van konvensie oorkom het om hul eie pad te volg. “Dink aan Maya Angelou, Angelina Jolie en voeg ’n paar van jou eie rolmodelle by,”  sê Kate. Studies toon dat rolmodelle veral doeltreffend kan wees om ons te help om sukses te behaal as hulle verband hou met ’n doelwit wat ons probeer bereik.

In ’n studie wat in die Journal of Experimental Social Psychology gepubliseer is, is bevind dat dit vroue se selfvertroue versterk wanneer hulle na foto’s van vroueleiers kyk en die waarskynlikheid verhoog dat meisies nietradisionele vroulike rolle in die lewe sal kies.

2. Dít knou jou selfvertroue: Mense wat ons afbreek eerder as opbou

“Die eeue-oue analogie van mense wat soos uitstralers of dreineerders is, hou waarheid in,” sê Kate. Uitstralers straal warmte, geesdrif en welwillendheid uit, teenoor dreineerders, wat negatief is en die glas as halfleeg beskou. Uitstralers bring die beste in mense na vore, terwyl dreineerders veeleisend kan wees en nooit iets teruggee nie.

Dít bou jou selfvertroue:

As jy min selfvertroue het, dink mooi oor wie jy rondom jou wil hê. “As jou selfoon lui en die naam op die skerm laat jou hart sing, antwoord. As jou hart sink, bel terug wanneer jy sterker voel.”

Beplan jou dag om saam met of naby “uitstralers” te wees. Kan jy nie saam met hulle wees nie? Bel hulle, stuur ’n teksboodskap of kyk selfs net na ’n foto van hulle op sosiale media. “Die krag van ’n glimlag op ’n foto is dieselfde as die krag van ’n glimlag in persoon,” sê Kate.

In ’n studie aan die Universiteit van Kalifornië in 2016 is bevind dat om selfies te neem en foto’s met jou vriende te deel jou ’n gelukkiger mens kan maak. Om ’n foto te deel en te ontvang is goed vir jou welstand en positiwiteit.

Lees ook: 16 dinge wat jy sal weet as jy dieselfde beste vriendin sedert skool het

3. Dít knou jou selfvertroue: As jy nie die regte goed eet en drink nie

Navorsing toon dat wanneer dit by ons gemoed en gedrag kom, is ons wat ons eet. ’n Voedsame dieet kan angstigheid help verminder, jou gemoed verbeter en jou help om meer selfversekerd te voel (om nie eens te praat van die ekstra selfvertroue wat saam met gewigsverlies kan kom nie).

Maar ’n dieet propvol suiker en kafeïen kan skerp energiestygings en gemoedskommelings veroorsaak en lei tot ’n laagtepunt in hoe jy oor jouself voel. Kate sê: “Ons voel fisiek en geestelik beter wanneer ons die regte kosse eet, maar wanneer ons suikerryke kos en koolhidrate eet, kan dit ons vir ’n oomblik goed laat voel, en dan weer ’n laagtepunt veroorsaak.”

Dít bou jou selfvertroue:

Bly gehidreer. In ’n studie wat in 2016 in The American Journal of Clinical Nutrition gepubliseer is, is bevind dat breinfunksie onder selfs ’n geringe mate van dehidrasie kan ly.

Kate beveel ook aan dat jy gemoedsverbeterende kosse soos komplekse koolhidrate eet vir energie wat stadig vrygestel word, asook kosse ryk aan vitamien D (soos eiers en gefortifiseerde graankosse), vitamien B (soos suiwel en vleis) en seleen (soos volgrane, neute en sade), en kosse ryk aan omega 3-vetsure soos olierige vis.

Kate sê: “As jou brein nie optimaal werk nie, sal jy meer geneig wees om ’n swak geheue en gemoedskommelings te hê en foute te begaan wat ’n invloed op jou selfvertroue sal hê.”

4. Dít knou jou selfvertroue: Liggaamstaal wat sê “ek gee op”

Die raad van Amy Cuddy, maatskaplike sielkundige en skrywer van Presence: Bringing your boldest self to your biggest challenges, is “fake it until you become it”. “As jy nie selfversekerd voel nie, sit of staan jy dalk gebukkend of ineengedoke,” sê Kate. Verskeie studies het al bevind dat ons liggaamstaal ’n invloed het op hoe ons voel. 

Dít bou jou selfvertroue:

Staan regop. Prof. Sir Cary Cooper, sielkundige en medeskrywer van The Crisis Handbook, sê jy moet hierdie oefening probeer: “Staan en verbeel jou jy is ’n eikeboom met wortels wat uit jou voete in die grond ingroei. Dit laat jou sterk, geaard en selfversekerd voel.”

Lees ook: Hoe om te weet of iemand vir jou jok

5. Dít knou jou selfvertroue: Vrees

“Vrees het die vermoë om ons drome te bewaarheid of ons heeltemal in ons spore te stuit,” sê Kate. Vrees is in werklikheid vals bewyse wat werklik voel (“False Evidence Appearing Real”, oftewel FEAR). Met ander woorde, wanneer jy op ’n doelwit afstuur, sal jy dalk vind dat jou onderbewuste vals bewyse produseer wat soos die werklikheid voel, en dit kan jou maklik van stryk bring. “Wat as ek dit nie kan doen nie? Wat as hulle nee sê?”

Dít bou jou selfvertroue:

Erken jou vrese en dra dit saam met jou eerder as om weg te hardloop. Kate sê vrees is soos om ’n verkoue te hê; dit sal nie keer dat jy doen wat jy moet doen nie, maar dit maak dit net ’n bietjie moeiliker. Soos Susan Jeffries gesê het: “Voel die vrees en doen dit in elk geval.” Erken jou vrees, neem dit saam met jou en balanseer dit met jou dryfkrag, ambisies en begeertes.

6. Dít knou jou selfvertroue: Jou binnestem 

Daardie binnestem is so kragtig, maar ons kan kies om daarna te luister of dit om te swaai. Die onderbewuste onderskei nie tussen feit en fiksie nie. As jy binnestem dus vir jou sê jy kan iets nie doen nie, is dit wat jy sal glo.

Net so is die kans goed dat jy iets kán doen as jou binnestem vir jou sê dat jy kan, selfs al is jy bang om dit te doen.

Dít bou jou selfvertroue:

Positiewe bevestiging maak ’n groot verskil. Kate sê: “Wanneer jy vir jouself sê ‘ek kan hierdie voorlegging doen’, ‘ek sal daarna streef om my eie onderneming te bedryf’ of ‘ek sal fiks word en 10 km hardloop’, kan dit regtig help om daardie binnestem stil te maak en jou selfvertroue terug te kry as jy vir jouself sê jy kán dit doen.”

7. Dít knou jou selfvertroue: Stres en druk

Wanneer ons onder stres of druk verkeer, skop ons veg-of-vlugmeganisme in. Kate sê: “As ons oorlewing bedreig word, is hierdie meganisme fantasties, maar as dit is omdat ons gedurig bekommerd is oor goed soos werk, geld of ons gesin, kan die kortisol en adrenalien in ons gestel ons eindelik siek maak.”

Die Britse Health and Safety Executive (HSE) het “stresstandaarde” gepubliseer wat ses belangrike bronne van stres identifiseer: eise, beheer, ondersteuning, verhoudings, rol en verandering.

Dít bou jou selfvertroue:

Prof. Cooper sê: “Hoewel dit op die werkplek gemik is, is dit ook op ons persoonlike lewe van toepassing.” Wanneer jy gestres is, beheer die situasie deur na dié ses punte te kyk. Vra jouself: Het ek te veel hooi op my vurk? Het ek genoeg beheer oor wat ek doen? Het ek genoeg ondersteuning om te bereik wat van my verwag word? Het ek ondersteunende verhoudings? Verstaan ek my rolle en verantwoordelikhede? En hoe kan ek verandering beheer? Dit sal jou help om stressors te identifiseer en veranderinge aan te bring om jou te help om minder gedruk en meer selfversekerd en in beheer te voel.

Lees ook: Nuttige wenke vir introverte by ’n netwerkgeleentheid

8. Dít knou jou selfvertroue: Jy jaag ander mense se definisie van geluk na

“Om te wag dat iemand anders jou gelukkig maak, is die beste manier om terneergedruk te wees,” sê Kate. “Geluk is ’n baie persoonlike ding en sal jou geloof in jouself aandryf.” As jy iemand anders se idees van geluk op jouself van toepassing maak, kan jy dalk uit die oog verloor wat jóú gelukkig maak en dit kan jou geloof in jouself en jou selfvertroue skaad.

Dít bou jou selfvertroue:

Doen wat jou regtig gelukkig maak. Dit sal jou geaard hou en jou innerlike selfvertroue versterk. In sy boek Authentic: How to be yourself and why it matters, sê prof. Stephen Joseph die gelukkigste mense is dié wat eg is – wat sê en doen wat hulle regtig voel.

Hy sê egte mense ken hulself en weet wat hul motiverings is, hulle aanvaar verantwoordelikheid vir hul eie besluite en kom oor as opreg, eerlik en deursigtig. Sy formule vir ’n outentieke lewe is dus: Ken jouself + aanvaar jouself + wees jouself = die outentieke lewe.

9. Dít knou jou selfvertroue

’n Mens sou dink dat mense, as natuurlike kommunikeerders, nie sal sukkel om hulp te vra nie. Maar verskeie studies het getoon dat ons dit uit vrees vir vernedering of verleentheid nie sal doen as ons dit enigsins kan verhelp nie. Wat as iemand nee sê?

In dieselfde navorsing, gelei deur prof. Frank Flynn van die Stanford-universiteit, is bevind dat ons grootliks onderskat – met tot 50% – hoe gewillig ander mense is om ons te help. As dit dan so moeilik is, hoe kan ons beter daarmee raak om hulp te vra?

Dít bou jou selfvertroue:

“Mense dink dikwels hulle sal beheer verloor as hulle ander om hulp vra,” sê prof. Cooper. “Maar jy doen die teenoorgestelde: Jy neem beheer terug. Ons het almal soms hulp nodig.” In ’n studie in 2015 deur Alison Wood Brooks aan die Harvard-sakeskool is bevind dat mense nie minder van jou dink wanneer jy raad vra nie; hulle dink trouens jy is slimmer.

Sy het ook bevind dat dit die persoon wat om hulp gevra word, gewaardeer laat voel wanneer jy wel hulp vra. Deur hulp te vra sal nie net jy dus beter voel nie; ander sal ook. Dís mos nou iets wat jou selfvertroue ’n hupstoot sal gee!

Van: NetDoctor UK

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

10 reise waarop elke vrou behoort te gaan

11 tekens dat jou beste vriendin jou sielsuster is

9 wenke vir gesonde happies

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
JY MOET DIT SIEN: ’n Storie van verkragting, verantwoordelikheid en vergifnis

“Om vir Thordis te sê ek het haar verkrag, het my siening van myself en van haar verander. Maar die...

Close