×
Skakel na Engels

Kies só veilige plastiekhouers vir die opvang en bewaring van water

Maak seker jou plastiekhouers doen meer goed as skade
plastiekhouers

As jy ook besig is om water op te vang en te bewaar om Kaapstad se waterkrisis die hoof te bied, moet jy seker maak dat jy die regte plastiekhouers gebruik, skryf Diony Lalieu, wenner van die Roving Reporters 2017 Soul Surfer-prys en stigter van Surfers Pledge. Lees Diony se raad hier onder:

“Buiten die skerp laatsomerson, word ’n mens met jou aankoms heel eerste opgeval deur die konstante vloei van veelkleurige waterhouers wat geduldig (soms minder so) wag om volgemaak te word. Sommiges rooi, die meeste blou en baie wit.

Pin hierdie artikel vir later. Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Sommiges ingeduik, ander geknak. Sommiges emmers, ander bottels en heelwat rugbreekswaar 25-liter kanne. Die een ding wat almal gemeen het, is plastiek. Die een ding wat hulle nie gemeen het nie, is die sóórt plastiek.

Alhoewel ons almal as gelykes voor dié kosbare hulpbron staan, is daar ’n groot verskil in die soorte plastiek waarin ons hierdie element bewaar. Voordat jy dus jou kosbare geld aan die immergewilde plastiekhouer bestee, is dit ’n goeie idee om jou van die volgende te vergewis . . . 

Nie alle plastiek is van dieselfde stoffasie nie

Plastiek verskil in struktuur en chemiese samestelling en nie alle soorte is geskik vir die bewaring van kos of water nie. Wees op die uitkyk vir voedselgraad-plastiek. Hierdie plastiek voldoen aan veiligheidsregulasies, wat beteken dat dit nie kleurmiddels of plastiek bevat wat skadelik vir mense is nie. BFA (bisfenol A) wat in sommige plastiek voorkom, is byvoorbeeld ’n hormoonontwrigter wat met kanker en ander gesondheidsverwante probleme geassosieer word. Voedselgraadnommers is maklik identifiseerbaar as die herwinningskodes #1, 2, 4 en 5 wat in die driehoekige groen pyltjies agterop die houer of op die etiket aangebring is.

Wat elke nommer beteken

#1: PET (poliëtileentereftalaat): gewone fonteinwaterbottels (dikwels ligblou of deurskynend) en koeldrankbottels. Volgens Cheri Scholtz, hoof van die herwinningsmaatskappy PETCO word PET as veilig vir bewaring en hergebruik beskou; dit bevat nie BFA of ander endokrien-ontwrigtende gifstowwe nie en kan maklik vir ’n magdom nuttige produkte herwin word.

#2: HDPE (hoëdigtheidpoliëtileen): wit melkbottels en vrugtesapbottels. Dis die veiligste vorm van plastiek, want dit is chemies bestand, struktureel gesond, slytwerend en bestand teen afbreking weens sonblootstelling of uiterste temperature soos verhitting of bevriesing. Verder kan dit maklik herwin word.

#5: PP (polipropileen): byvoorbeeld jogurt-, margarien- en roomysbakke, houers, drukbottels en bottelproppe. Hierdie sterk, liggewig en hittebestande plastiek word as veilig vir hergebruik beskou en is hoog in aanvraag vir herwinning.

#4: LDPE (laedigtheidpoliëtileen): Dit word hoofsaaklik in buigsame verpakking soos aftrekdeksels en kleefplastiek gebruik. JoJo-tenks word gemaak van hierdie vorm van plastiek (wat met ’n geakkrediteerde voedselveilige voering afgewerk is). Dit word as veilig beskou, want dit reageer nie met voedsel nie. Dit is baie gewild vir herwinning.

Probeer #3, #6 en #7 vermy

#3: PVC (polivinielchloried) is bekend as “gifplastiek”. In die vorm van tuinmeubels is dit sonbestand, maar dit behoort nie vir water- of voedselbewaring gebruik te word nie. Dié plastiek bevat baie bymiddels wat tot die uitloog van gifstowwe kan lei. Dink aan deurskynende toedraaiplastiek, kookoliebottels, en selfs tanderinge vir babas, kinder- en troeteldierspeelgoed en borrelverpakking vir verskeie gebruiksgoedere. Dit word oor die algemeen nie in waterhouers gebruik nie.

#6: PS (hoë-impak sowel as uitgebreide polistireen) Gewone en hoë-impak polistireen is meer rigied en word in die vervaardiging van weggooibare items soos plastiekeetgery gebruik, terwyl uitgebreide polistireen minder gestruktureerd is en minder weeg. Dit word vir wegneemhouers en -koppies gebruik. Laasgenoemde is ’n omgewingsnagmerrie, want dit word maklik in kleiner mikrone afgebreek. Dit behoort nie gebruik te word om kos op te warm nie aangesien dit tydens verhitting stireen vrystel.

#7: Ander vorms van plastiek wat nie onder #1 tot #6 val nie, word met ongespesifiseerde grade van toksiese uitloging geassosieer.

Wat om te vermy:

1. Vermy dit om enige plastiek vir kook en verhitting te gebruik.

2. Moenie kos/water in houers bewaar wat voorheen chemikalieë bevat het nie.

3. Vermy hergebruik as ’n plastiekhouer ingeduik of geknak is. Stuur dit eerder vir herwinning.

4. As iets “mikrogolf-/skottelgoedwasserbestand” is, impliseer dit nie dat dit veilig vir bewaring of menslike gebruik is nie. Dit beteken net dat dit nie sal skeeftrek of breek wanneer dit verhit word nie.

5. Onthou, indien daar staan “nie vir drinkwater nie”, moet jy dit nie vir drinkwater gebruik nie!

Gesondheidsaanvulling

Oorweeg dit om jou dieet met glutatioon aan te vul, ’n anti-oksidant wat jou immuniteit versterk en siektes voorkom wat van reaktiewe suurstofspesies afkomstig is.

Verseker veilige drinkwater

1. Maak seker dat jou hande skoon is.

2. Sorg dat jou waterhouer deeglik gewas en gesteriliseer is.

3. Bewaar jou water in ’n lugdigte houer, verkieslik op ’n koel, donker, droë plek om alge en mikrobiese groei te voorkom.

4. Die gehalte van die water by ikoniese waterpunte soos Kalkbaai en Nuweland word nie gereeld getoets nie. Aangesien dit van ’n lewende bron afkomstig is, sal alge waarskynlik vinniger daarin as in behandelde water begin groei. Dit is die gebruiker se verantwoordelikheid.

5. As jy onseker is, behoort jy die water voor gebruik (vir minstens twee tot drie minute) te kook, maar wag totdat die water afgekoel het voordat jy dit ’n plastiekhouer gooi.

6. Anders kan jy twee druppels nie-additiewe, ongegeurde chloor by elke twee liter water voeg en die water vir 30 minute laat staan voordat jy daarvan drink.

7. As gevolg van kalsiumhipochloriet se langer rakleeftyd is dit beter as ’n vloeibare bleikmiddel wanneer dit by die bewaring van water kom.

Beskerm jou omgewing

Wees op die uitkyk vir die herwinningsimbool om seker te maak dat jy ná gebruik op ’n volhoubare manier met jou plastiek kan wegdoen. Gebruik die regte kanale – herwinningsdromme, aflaaisones en informele herwinners wat jou rommel vir geld by herwinningsdepots kan ruil – om seker te maak dat jou herwinning nie in ’n stortingsterrein beland nie. 

Dankie vir water!

Ons was nog nooit so dankbaar vir elke druppel water nie, en ons verstaan nou eers hoe skaars hierdie hulpbron regtig is. Laat elke druppel tel. Wees dankbaar. Moenie mors nie. En onthou, gun elkeen sy deel. Ons is almal saam hierin.

Meer oor Diony Lalieu

Diony Lalieu is die stigter van Surfers Pledge – ’n veldtog om bewustheid te skep oor die impak wat plastiek op ons oseane en uiteindelik die planeet het. “Surfers Pledge moedig jou aan om een optrede te identifiseer waaraan jy persoonlik kan werk. As almal net ’n bietjie doen, sal ons ver kom,” sê Diony. Dit is haar doel om branderplankryers regoor die wêreld so ver te kry om die Surfers Pledge te onderteken – ’n eed om hul gedrag en gesindheid teenoor plastiek te verander.

Volg Surfers Pledge op Facebook en Instagram vir nog inligting.

FOTO: iStock/RapidEye

LEES OOK:

5 waterbesparende produkte onder R150

10 goed wat jy moet weet oor die hergebruik van gryswater

6 maniere om in die kombuis water te bespaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 redes om nie meer plastiekstrooitjies te gebruik nie

Teen 2050 gaan daar waarskynlik meer plastiek as visse in die see wees! Só kan jy dit help voorkom ......

Close