×
Skakel na Engels

Kies só die beste gesinsmotor

Die langpad hoef nie langer uitputtend te wees nie! Deur Juliet McGuire
gesinsmotor

Daar is baie faktore om in ag te neem wanneer jy ’n nuwe gesinsmotor aanskaf, soos grootte, brandstofverbruik, gerief en gemak. Hoewel die mark propvol moontlikhede is, fokus Juliet McGuire, redakteur van Women on Wheels (WOW), op haar twee keuses vir die maand.

Eerstens is daar die Honda CR-V. Die motor is steeds een van die beste gesinsmotors op die mark, en sedert sy bekendstelling in 1995 is meer as 9 miljoen eenhede in meer as 150 lande wêreldwyd verkoop. “Ek is ’n groot aanhanger van die Honda CR-V. So ’n groot aanhanger dat my ma een bestuur, en sommer ook my tante,” sê Julia. “Dis dus veilig om te sê dat my familie ook aanhangers is. En met goeie rede.”

Die buitekant van die Honda CR-V

Die nuwe Honda CR-V wat vanjaar bekendgestel is, is heeltemal nuut ontwerp en vervaardig. Die CR-V is gebou op ’n nuwe onderstel, dié van die Honda Civic, dis ruimer as vorige modelle én die bagasiebak is verleng.

Dié motor het ’n lang lys geriewe, soos meer beenspasie en ’n groter bagasiebak, asook ’n plat laaivloer en moderne kajuit. Volgens Julia kry die CR-V ongelukkig nie al die regmerkies nie: “Oor die algemeen vertoon die kajuit meer modern en vars, hoofsaaklik danksy die sentrale vertoonpaneel (12,5 cm of 18 cm, na gelang van die model). Die probleem is dat dit wonderlik lyk, maar die raakskerm is ingewikkeld en nie juis gebruiksvriendelik nie.”

Die kajuit van die Honda CR-V

Kliek hier om meer te lees van die nuwe Honda CR-V.

Tweedens is daar die nuwe Peugeot 3008 SUV. Dié sportnutsvoertuig is net die ding vir ’n avontuurlustige gesin en is perfek vir naweekkampeeruitstappies. Peugeot noem dié model wat pas bekendgestel is die mees gevorderde voertuig tot nou toe uit sy stal. Die nuwe 3008 is die eerste model met die jongste-generasie- Peugeot iCockpit.

As voorkoms vir jou en jou gesin belangrik is, is hierdie motor vir jou! Die buitekant het al die kenmerke van ’n sportnutsvoertuig, en die agterkant spog met ’n moderne swart glansband wat die LED-ligte insluit.

Die buitekant van die Peugeot 3008-sportnutsvoertuig

“Ek wil my verstout om te sê die interieur van die 3008 gaan sy mededingers op hul neuse laat kyk,” sê Julia. “Daar is net mooi niks gewoon of vervelig aan dié binnekant nie, en boonop pas alles netjies in die kajuit om ’n gesofistikeerde en eersteklas-gevoel te skep.”

Die bestuurder van dié motor kan selfs die lug in die kajuit verfris terwyl jy bestuur. “As jy enigsins soos ek is en daarvan hou dat jou motor altyd vars en heerlik ruik, kan jy die aroma van die 3008 verander deur die aroma-verspreier te gebruik,” sê Julia. “Die drie keuses is ‘Cosmic Leather’, ‘Aerodrive’, en ‘Harmony Wood’.”

Die kajuit van die Peugeot 3008-sportnutsvoertuig

Kliek hier om meer te lees oor die spesifikasies van die nuwe Peugeot 3008 SUV.

FOTO’S: Met vergunning van WOW

HOOFFOTO: iStock/LuckyBusiness

Van: WOW & WOW

LEES OOK:

5 redes om ’n nuwe motor te koop

10 maniere om jou kar se interieur op te gradeer

Wenke om veilig in die reën te bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief