×
Skakel na Engels

Kies die beste klei vir jou veltipe

Watter een is reg vir jou?
die beste klei vir jou veltipe

Die laaste paar jaar het klei ’n prominente bestanddeel in velsorgprodukte geword, veral in dié wat ons op ons gesig gebruik. Die rede hiervoor is dat dit onsuiwerhede uit die vel onttrek en die vel versag. Maar nie alle klei is dieselfde nie.

Daar is soveel verskillende soorte, almal met spesifieke voordele vir sekere veltipes, of dit nou jonk en geneig tot aknee is, of meer volwasse. Hier is drie van die algemeenste soorte en die veltipes waarvoor dit die geskikste is.

Porseleinklei

Hierdie kleisoort is ’n gewilde keuse vir kosmetiekhandelsmerke en word dus in verskeie velsorgprodukte gebruik. Porseleinklei kom in ’n paar verskillende kleure, waaronder wit, geel, rooi en pienk. Wit is die sagwerkendste en gewildste – die klein deeltjies dien as ’n sagte afskilferingsmiddel en aangesien dit nie so absorberend is nie, is dit ideaal vir ’n droë, sensitiewe en volwasse vel.

Die rooi soort is die absorberendste en dus ideaal vir ’n olierige of puisierige vel. Pienk porseleinklei is ’n mengsel van die bogenoemde twee en bied die beste van beide.

Lees: Jou gids tot afskilfering

Franse groen klei

Hierdie klei is taamlik diepwerkend en wonderlik vir meer deeglike afskilfering sowel as die verkleining van porieë en absorbering van oortollige olie. Dit is waarskynlik nie die beste keuse vir iemand met ’n sensitiewe vel nie, aangesien dit ’n bietjie aan die skerp kant kan wees, maar dis wonderlik vir iemand met ’n probleemvel en aknee.

Verder kan dit ’n dowwe gelaatskleur ophelder aangesien dit nie net absorberend is nie, maar die bloed na die veloppervlak bring en jou dus meer stralend laat lyk.

Lees: Die voor- en nadele van poriestrokies

Bentonietklei

Hierdie klei se kragtige akneebevegtende eienskappe maak dat dit waarskynlik die algemeenste kleitipe in velsorgprodukte is. Dit is uiters absorberend en raak van oortollige vetterigheid ontslae. Wanneer dit met water gemeng word, dien dit ook as ’n magneet wat gifstowwe uit die vel onttrek sodat dit saam met die klei afgespoel kan word.

Alhoewel dit sterk genoeg is om ’n akneevel te behandel, is dit ook sagwerkend genoeg om ander probleme soos ekseem en psoriase te verlig. Alles in ag genome is dit baie veelsydig en word dit graag deur mense met alle veltipes gebruik.

FOTO: iStock/Jacob Ammentorp Lund

LEES OOK:

Bekostigbare gesigmaskers vir ’n lieflike jy

Houtskool: Skoonheid se wondermineraal

5 goed wat jou vel olierig maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief