×
Skakel na Engels

Kan konjaksponse die sleutel tot ’n volmaakte vel wees?

’n Silwerskoon en lieflike vel is dalk binne jou bereik!
konjaksponse

As jy jou vinger op die pols van die skoonheidsbedryf hou, is daar ’n goeie kans dat hierdie ronde dingetjie al op jou nuustoevoer opgeduik het. Die konjakspons het sy oorsprong in Korea, die land van interessante en innoverende skoonheidsneigings, en dit het ongelooflik gewild geraak. Volgens aanhangers het dit die amper bonatuurlike vermoë om jou vel op te klaar en te verhelder.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Lees: Maklike maniere om jou vel in ’n kits op te kikker

Wat is dit?

Konjaksponse is baie soos loefas, maar is sag genoeg om op jou gesig te gebruik. Anders as ander sponse wat uit die see kom, word hulle van die super-absorberende wortels van die konjakplant gemaak. Wat die konjakspons so wonderlik maak, is die feit dat dit, in teenstelling met skerper afskilferaars, nie jou vel skuur nie, wat beteken dat dit vir alle veltipes geskik is, selfs ’n sensitiewe vel en ’n vel wat tot ekseem en rosacea geneig is. Ander spesiale eienskappe sluit in dat dit dooie vel verwyder en porieë reinig.

Lees: 3 geheime vir ’n mooi vel

Hoe gebruik jy dit?

Aangesien dit van harde plantvesels gemaak word, moet die spons vooraf vir vyf tot 10 in water week sodat dit kan sag word. Dan druk jy die oortollige water uit, sit gesigreiniger aan, maak jou gesig nat en begin om jou gesig met sagte sirkelbewegings te skrop. Wanneer jou vel silwerskoon is, spoel jy die spons uit en laat dit lugdroog word. Kinderspeletjies!

Is dit in Suid-Afrika beskikbaar?

Goeie nuus – dit is! En die sponse kom in ’n verskeidenheid kleure om aan te dui watter bestanddele hulle bevat en vir watter veltipe hulle die geskikste is. Die pers spons bevat laventel wat ideaal vir ’n sensitiewe vel is; die swart een bevat houtskool, wat help om ’n olierige vel en aknee op te klaar, en die groen een bevat groentee, wat strelend op ’n droë vel inwerk. Dit beteken dat jy die spons kan kies wat spesifiek by jou pas en wat jou vel beter en gloeiender sal laat vertoon. Is dit nie maar wat ons almal wil hê nie?

FOTO: iStock/Tinatin1

LEES OOK:

5 wenke vir hoe om ’n Beautyblender® skoon te maak

Hoe om vinnig van puisies ontslae te raak

Houtskool: Skoonheid se wondermineraal

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief