×
Skakel na Engels

Julia Roberts gesels oor die rolprent “Wonder” en hoe dit haar lewe verander het

Dié A-lys-aktrise verskyn eersdaags in hierdie rolprent. Hier gesels sy, die regisseur en die skrywer van “Wonder”, die boek waarop die film gegrond is, oor die impak van dié projek. Deur Lindsey Benoit
Julia

Met die eerste oogopslag lyk hulle soos enige drie vriende wat saam koffie drink. Dis net: Een is die beeldskone Oscar-bekroonde aktrise, Julia Roberts; die tweede is Stephen Chbosky, ’n gevierde regisseur, draaiboekskrywer en die outeur van The Perks of Being a Wallflower; en die derde is R.J. Palacio wat Wonder geskryf het, ’n jeugroman waarvan volwassenes ook sal hou en wat al vir meer as twee jaar op topverkoperlyste is.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Wonder is die verhaal van Auggie Pullman, ’n tienjarige seuntjie wat met erge gesigsafwykings gebore is en tot nou toe deur sy ma (gespeel deur Julia) onderrig is. Auggie gaan nou vir die eerste keer skool toe – ’n angswekkende verandering vir enige kind, maar veral vir iemand wat sy lewe lank moes sien hoe ander mense wegkyk. Die verhaal word beurtelings uit die perspektiewe van Auggie, sy suster en ander kinders vertel, ’n tegniek wat die leser insig gee in die manier waarop ander mense deur ons optrede en woorde geaffekteer word. Die verhaal is ook rondom ’n onderwyser se lesse oor sagmoedigheid gebou, woorde wat die uitdagings weerspieël waarmee die verskillende karakters worstel – en wat lesers aanmoedig om ’n vriendeliker wêreld te help skep.

Terwyl Auggie se verhaal nou in teaters gesien kan word, gesels Julia, R.J. en Stephen oor die betekenisvolste lesse wat hulle in hul eie gesinne geleer het.

Maak jou hart jou kompas

Julia het oorspronklik van Wonder te hore gekom toe sy ’n lys van die beste kinderboeke deurgekyk het. “Dit raak nou al hoe moeiliker om ’n slaaptydboek te kry waarvan almal hou,” sê sy. “Ek het uiteindelik op Wonder besluit en ek kon dit nie neersit nie. Ek het dit vir ons drie kinders (Hazel en Phinneaus, nou 13, en Henry, nou 10) gelees en hulle was net so meegevoer. Nadat ek die boek gelees het, het ek my agent gebel en gesê: “Ek sal die ma speel!”

Interessante Julia-feit: “Ek is die aangewese leser van die gesin,” sê sy, en sy gebruik verskillende stemme om die verskillende karakters te speel. Een van die kinders vra gereeld: “Mamma, kan jy nie net in jou gewone stem praat nie?” “My weergawe van Julian, ’n boelie in Wonder, is baie donker.”

Dis nie net gemene mense wat ander seermaak nie

Die idee vir Wonder het by R.J. ontstaan nadat sy en haar jongste seun, toe 3, in ’n roomyswinkel naby ’n dogtertjie gesit het wat erge kraniofasiale afwykings gehad het. Haar seuntjie het beangs begin huil en in ’n poging om die klein dogtertjie se gevoelens te spaar, het R.J. haar so vinnig moontlik uit die voete probeer maak. In haar haas het sy hul melkskommels gemors en onopsetlik ’n hele onaangenaamheid geskep. “Terwyl ek die stootwaentjie wegstoot, het ek die ma in die sagste en rustigste stem denkbaar hoor sê: ‘Kom, julle, ek dink dis tyd om te gaan,’” sê R.J. “Dit het my aan die hart geruk … hoe kon ek my kinders leer om in die toekoms beter te reageer? Ek was teleurgesteld in myself. Ek het daardie selfde aand nog begin om Wonder te skryf.”

RJ Palaciio

R.J. Palacio, die outeur van Wonder en Auggie & Me. Foto: Robert Trachtenberg

Wees altyd vriendeliker as wat nodig is

Stephen, wat Wonder geregisseer het en saam aan die draaiboek geskryf het, vra Julia hoe ons daaraan kan werk om beter mense te wees. “Ek dink ons moet ophou om so krities te wees,” sê sy. “Eerlikwaar, dit het ’n sport geword – aan tafel, aanlyn, oral. ‘Ek kan nie glo sy dra haar hare só nie,’ of ‘Hy lyk só …’ Dis kleinlik en ons is grootmense. Daar moet interessanter dinge aan die mense rondom ons wees … en ek praat ook met myself, want die sarkasme en kritiek kan soms baie snaaks wees. Maar daar is ’n tyd om te sê: ‘Waarom praat ek nie oor alles wat waar en mooi is nie?’”

Moet nooit, ooit moed opgee nie

Toe R.J. aan Wonder begin skryf, was haar oudste seun pas klaar met graad 5, en sy het besluit dat haar hoofkarakter min of meer so oud sou wees. “Dit was nie die maklikste jaar vir hom nie,” sê R.J. “Hulle is op daardie ouderdom iewers tussen kind en tiener. Dit is ’n kwesbare tyd in hulle lewe. Daar was ’n paar keer dat maats hom seergemaak het … Wanneer jy dit saam met jou kinders beleef, raak dit jou baie dieper. Ek doen baie moeite om my seun met die besef groot te maak dat sagmoedigheid die heel belangrikste waarde is … maar ek het bly dink: As ek die enigste ouer is wat dit doen, gaan ek nie hond haar-af maak nie. Ek onthou ’n keer toe my seun se gevoelens seergemaak is, en ’n ander ma se antwoord daarop was: ‘Wel, dalk moet jy nie so sag met hom wees nie.’ Dis nie die antwoord nie. In plaas daarvan om ons kinders te boelie, moet ons ’n hoër standaard stel vir dit wat ons van hulle verwag.”

Glo jy kan

Ironies genoeg het die werk aan hierdie goedvoel-fliek Julia en Stephen, wat albei baie ure op stel deurgebring het, skuldig teenoor hulle kinders laat voel. Om ’n filmrol te aanvaar is deesdae “wiskundige vergelyking,” sê Julia oor wat dit behels om die eise van ouerskap te balanseer  met die feit dat sy weke op ’n slag op ’n filmstel moet wees. “Maar ek het geweet dat ek hierdie keer oorgesien word, want die kinders het my so te sê gesmeek om hierdie rolprent te laat werk.”

Sagte woorde kos nie veel nie

Werk aan die film het gemaak dat Stephen sy dogtertjie se verjaarsdag misgeloop het, maar ’n dierbare kaartjie van Julia het getroos: “Jou dogtertjie sal nie haar vierde verjaarsdag onthou nie, maar sy sal altyd onthou dat haar pappa Wonder gemaak het.” Stephen sê: “Ek sal dit nooit vergeet nie, want dit was regtig ’n slegte dag vir my. Glo my, pa’s voel ook skuldig.” Later, gedurende verfilming, het Stephen sy dogtertjie ingevlieg om Auggie se sussie, Via, te speel in ’n toneel waar sy toevallig haar vierde verjaarsdag vier. “Ek het op die ou einde die verjaarsdag gevier wat ek gemis het!” sê hy.

wonder

Auggie (Jacob Tremblay) gaan kyk vir die eerste keer na sy nuwe skool saam met sy ma, gespeel deur Julia Roberts. Foto: Lionsgate

Wees jou beste self

“Ek moet my definitief losmaak van my foon,” sê Julia. “Want wanneer die kinders van die skool af kom, gebeur alles gelyk. Daardie tyd van die dag kry ek altyd ’n klomp boodskappe, ek moet kosmaak en met die kinders praat. Maar dis nie die soort gesprekke waaraan hulle behoefte het nie. Ek probeer gereeld te veel dinge gelyk doen, iets waarmee ek nie baie goed is nie. Daarom is daar tye wanneer ek ’n doelbewuste poging aanwend om my foon neer te sit wanneer hulle by die huis kom en probeer om dit nie op te tel voordat hulle bed toe gaan nie. Maar dan is ek toegegooi onder boodskappe.”

’n Mens het baie min nodig om gelukkig te wees

Ten spyte van haar selferkende afhanklikheid van haar slimfoon, trek Julia ’n strenger streep wanneer dit by haar kinders kom. “Ek het ’n graad 5 wat nie ’n foon het nie,” sê sy. “Ek dink dit oorkompliseer die uitdagings van graad 5 … ’n foon is nie meer ’n eenvoudige toestel waarmee direk gekommunikeer word nie. Ons kry nie meer ’n besettoon en bel later terug nie. Nou is daar so baie indirekte maniere om jou waardering aan iemand te wys – of haar by te kom. Daar is vandag ’n klomp klein sydeurtjies na mense se gevoelens … Ek wil sosiale media nie slegpraat nie, maar dit maak mense ongeduldig vir antwoorde en inligting. Niemand wag meer terwyl hulle foto’s by die apteek ontwikkel nie; ons het vergeet hoe om geduldig te wees.”

Niks is so sterk soos sagtheid nie

“My ma was onvoorwaardelik lief vir my,” sê R.J. “Ek dink dit is die een ding wat ons regtig vir ons kinders kan doen. Dit beteken nie jy is blind vir hulle geite en foute nie, maar dit help hulle in die lewe.” Julia stem saam, maar voeg by: “Ek dink sommige mense verwar onvoorwaardelike liefde met bederf. My kinders weet dat ek nie ’n probleem met daardie onderskeid het nie. Ek is onvoorwaardelik lief vir hulle, en wanneer hulle iets verkeerd doen, probeer ek altyd sê: ‘Dit verander niks aan hoe lief ek vir jou is nie, maar jy moet jou huiswerk doen.’ Ek dink dit laat ’n kind veilig voel.” Die les is duidelik: Stel sagmoedigheid eerste, en die res sal volg.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Desember 2017-uitgawe van Good Housekeeping US verskyn.

Uit: Good Housekeeping US

Hooffoto: Robert Trachtenberg

LEES OOK:

Word jou kind deur ’n opvoeder geboelie?

Vriendelikheid maak jou beeldskoon

Word jou kind geboelie?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
17 goed wat jy nie oor Pretty Woman geweet het nie

Het jy geweet hoe die fliek oorspronklik veronderstel was om te eindig of wie anders die rol van Vivian kon...

Close