×
Skakel na Engels

Jou voorspelling: Maart 2013

Ons het op ’n sterrereis gegaan vir jou voorspellings. Wat hou Maartmaand vir jóú in?

Vis

20 Feb – 20 Mrt

 

Fokus daarop om ontvanklik vir mense en dit wat nóú saakmaak, te wees. Gevolglik kan jy nie by skedules hou of by alle praktiese take uitkom nie.

VERHOUDINGS Jy kan nie die wêreld red nie, maar daar is talle maniere waarop jy ’n verskil kan maak. ’n Glimlag, ’n paar vriendelike woorde of ’n omgeegebaar is al wat nodig is.

SELFSORG Jy moet jou af en toe van die wêreld onttrek en jouself weer vind.

GELDSAKE Sit geld weg vir noodgevalle.

PERSOONLIKHEID Visse maak op gevoelens en intuïsie staat om hul weg deur die lewe te vind. Sagtheid en deernis is ’n aangebore eienskap met ’n lewendige verbeelding en is aangetrokke tot musiek, gedigte en die visuele kunste. Jy is ’n sensitiewe maat en verbeeldingryke ouer en glo in die helende krag van liefde.

INNERLIKE KRAG Omdat jy soveel empatie het en nie maklik oordeel nie, neem mense jou graag in hul vertroue. Sonder om baie te sê, openbaar jy ’n diepte van begrip wat helend is.

SWAK PUNT Jy help mense te maklik, sodat jy gedreineerd en teleurgesteld raak omdat mense jou maklik vir eie gewin misbruik. Dit help om te leer grense trek.

KLEURE Seegroen en ligpers.

EDELSTENE Ametis en koraal.

 

Ram

21 Mrt – 20 Apr


Onsekerheid strem jou tot die 12de. Daarna is jy gereed om inisiatief te neem en veranderings bekend te maak. Moenie koppig wees nie, dink eerder aan wat volhoubaar sal wees.

VERHOUDINGS Vermy dit om al jou gedagtes aan familie of vriende uit te blaker. Sulke blatante eerlikheid kan misverstaan word en gevoelens seermaak.

SELFSORG Jy het baie fi sieke aktiwiteite, gevolg deur ligte ontspanning nodig.

GELDSAKE Jou beursie is vol gate – so gou soos die fondse inkom, so vinnig verdwyn dit weer.

 

Bul

21 Apr – 21 Mei


Betrokkenheid by groepsaktiwiteite toets jou groepsgees. Hoewel dit nie altyd maklik is om buigbaar te wees nie, kan jy ’n verenigde rol speel deur op jou instink vir harmonie te vertrou.

VERHOUDINGS Een van die kinders sukkel met gevoelens wat moeilik is om te verbaliseer. Lees geduldig wat tussen die lyne staan sodat jy ’n idee kan kry van wat aangaan.

SELFSORG Voed eerder jou siel in plaas van om jou aan soetgoed oor te gee.

GELDSAKE Gebruik jou gesonde verstand wat finansiële besluite betref.

 

Tweeling

22 Mei – 21 Jun


Al die op- en afdraandes laat jou moeilik fokus. Vat een dag op ’n slag en jy sal nie so oorweldig voel nie. Die wind sal ook mettertyd draai.

VERHOUDINGS Dade praat harder as woorde. Skenk aandag aan mense se dade pleks van hul woorde, veral as jy moet besluit op wie jy vir hulp kan staatmaak.

SELFSORG Wees goed vir jouself deur bewustelik jou pas te vertraag.

GELDSAKE Jy kan nie op ondeurdagte skattings vertrou nie. Kry behoorlike kwotasies voordat jy tot herstelwerk instem.

 

Kreef

22 Jun – 23 Jul


Die gras lyk groener aan die ander kant, maar inderwaarheid is geen plek perfek nie. Pleks van om oor jou onvergenoegdheid te tob, beklemtoon die positiewe in jou huidige situasie en bou daarop voort.

VERHOUDINGS Moedig jou maat aan om gesond te eet, gereeld te oefen en genoeg rus te kry. Hy sal dan sy huidige uitdagings doeltreffender kan bestuur.

SELFSORG Ontspan deur na jou verbeeldingswêreld te ontvlug; fantasieverhale en stories is ideaal.

GELDSAKE Begin om vir ’n droom te spaar.

 

Leeu

24 Jul – 23 Aug

 

Dinge buite jou beheer kleur vandeesmaand in. Aanvaar dinge eerder as om ontstig te raak en pas jou planne gewillig aan.

VERHOUDINGS ’n Paartjie kan intimiteit maklik tussen werk, ouerskap en ’n huishouding verwaarloos. Gee spesiale aandag aan dié aspek van jou huwelik.

SELFSORG Verbind jou om aan plesiere te dink wat niks of min kos en jou hart sal laat blom.

GELDSAKE Dis nie ’n gunstige tyd vir beleggings nie, want daar is verskuilde slaggate.

 

Maagd

24 Aug – 23 Sept


Teleurstellings is op die oomblik deel van die lewe, maar moenie dat dit jou onderkry nie. Teen die einde van die maand sal die situasie stabiliseer. En wat meer is, jý sal ook okei wees.

VERHOUDINGS Jou maat sukkel met selfvertroue. Moenie hom met hulp stormloop nie, ondersteun eerder stilweg terwyl hy sélf dinge uitsorteer.

SELFSORG Hou op om perfek te probeer wees – jy sal nie so moeg wees nie.

GELDSAKE ’n Aangeleentheid oor gesamentlike finansies moet gou aandag kry.

 

Weegskaal

24 Sept – 23 Okt


Moenie nou te veel vorentoe kyk nie. Wag en laat dinge hul loop neem. Van die 22ste af betree jy ’n dinamiese fase wat ’n nuwe begin moontlik maak.

VERHOUDINGS Jou maat is siek en sat vir oponthoude. Gee hom ruimte en moenie in ’n geveg betrokke raak as hy nie na rede wil luister nie.

SELFSORG Balanseer die eise van elke dag met oomblikke wat meer oor ‘wees’ as ‘doen’ gaan.

GELDSAKE Dis die moeite werd om op ander gebiede te bespaar vir onderhoud aan jou huis.

 

Skerpioen

24 Okt – 22 Nov

 

Verwarring maak gou plek vir hernieude motivering. Uitdagings besiel jou en stel jou in staat om vindingryk te wees.

VERHOUDINGS Dit maak nie saak hóé volwasse kinders blyk te wees nie, hulle moet hul hoop en vrese met ’n volwassene wat begrip daarvoor het, kan deel. Wat vir jou ’n kleinigheidjie is, is vir hulle dikwels ’n berg.

SELFSORG Frustreerdheid toon dat jy jou behoeftes nie behoorlik uitdruk nie.

GELDSAKE Dis ’n versoeking om jou geld op slim geriefi es uit te gee, maar probeer om nie toe te gee nie!

 

Boogskutter

23 Nov – 22 Des

 

Jou rustelose geaardheid bemoeilik sake en gedagtes van hervestiging en loopbaanveranderings vat by jou pos. Dis egter idees van verbygaande aard. Soek ander maniere om die lewe meer stimulerend te maak.

VERHOUDINGS Reik uit na familie wat jy vir ’n ruk nie gesien het nie. Selfs al het julle nie veel in gemeen nie, is hulle deel van die sirkel waaruit jy stam.

SELFSORG ’n Rustige naweek weg sou perfek gewees het, andersins kan jy interessante daguitstappies beplan.

GELDSAKE Fokus daarop om geld te spaar.

 

Steenbok

23 Des – 20 Jan


Vermy misverstande deur besonderhede na te gaan en reëlings te bevestig. Emosies besoedel kommunikasie, moenie wat mense sê té ernstig opneem nie. Wees sensitief vir onderstrominge.

VERHOUDINGS Later dié maand verg ’n familiekrisis vinnige reaksie. Die ou antwoorde is uitgedien, wees ontvanklik en ’n oplossing sal vorendag kom.

SELFSORG Vat negatiewe gedagtes wat jou selfbeeld ondermyn, vas – voed hoop, nie vrees nie.

GELDSAKE Onverwagte huishoudelike uitgawes gooi jou begroting omver, maar daar’s darem ’n sprankie hoop.

 

Waterdraer

21 Jan – 19 Feb


Jy’s verplig om jou voorkeure weer na te gaan. Neem ‘gevoelsfaktore’ ook in ag, nie nét wat redelik uitvoerbaar is nie. Wees geduldig terwyl jy antwoorde soek. Dis deel van ’n proses.

VERHOUDINGS Sprankel-idees of slim antwoorde sal nie by alle familielede goed inslag vind nie. Hulle het empatie en begrip nodig. Sê minder en luister meer.

SELFSORG Maak dit ’n gewoonte om lig, maar gereeld te eet.

GELDSAKE Jy kán daardie sterk drang om geld uit te gee, hokslaan.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief