×
Skakel na Engels

Jou sterre Oktober 2017

Tracy Shaw kyk na wat jou voorspellings vir dié maand inhou
Jou sterre Oktober 2017

Weegskaal (24 Sept. – 23 Okt.)

Goeie voorbereiding is die sleutel tot sukses. Sorg dat jy die nodige aanvoorwerk doen en moenie in ander se agendas verstrik raak nie. Van die 15de af gaan jy die perfekte tydperk binne vir interaksie en om brûe te bou.

SELFSORG: Ektyd is noodsaaklik as jy jouself weer wil vind.

PERSOONLIKHEID: Die Weegskaal-vrou is intelligent, sjarmant en sosiaal. Jy het ’n gawe om raakpunte met ander te vind en is taktvol genoeg om enige verskille by te lê. Jy is ’n bedagsame maat en ouer en het ’n sagte aanslag in al jou verhoudings.

STERK PUNT: Jy kan maklik wen-wenoplossings vind wat al die betrokkenes tevrede sal stel.

SWAKHEID: Jy vergelyk jouself dikwels negatief met ander en moet leer om jouself meer na waarde te skat.

INSPIRASIE VIR DIE JAAR: Wanneer daar geleenthede opduik om jou gawes te gebruik, gryp dit met albei hande aan.

EDELSTENE: Diamant en opaal.

Skerpioen (24 Okt. – 22 Nov.)

Harde werk lewer resultate; byt dus vas. Moenie te trots wees om in die proses om hulp te vra nie. Dink rondom die 17de positief en ondersoek geleenthede wat jou belangstelling prikkel.

Selfsorg: Soek die geselskap op van vriende wat jou laat ontspan.

Boogskutter (23 Nov. – 22 Des.)

Jy kan jou loopbaan bevorder deur proaktief op te tree en meer verantwoordelikhede te aanvaar. Op sosiale gebied is daar geleenthede om eendersdenkendes te ontmoet.

Selfsorg: Sit tyd opsy vir ’n blaaskans en luister na jou innerlike stem.

Steenbok (23 Des. – 20 Jan.)

Een van jou ouers gaan deur ’n moeilike tyd. Dit sal goed wees om jou direkte aanslag met ’n tikkie diplomasie te versag. Lees die fynskrif voordat jy reisreëlings finaliseer.

Selfsorg: Moenie jouself te hard druk nie. Jy het tyd nodig om te ontspan.

Waterdraer (21 Jan. – 19 Feb.)

Emosies is nie altyd logies nie en kan nie weggeredeneer word nie. Dit kan jou wel lei na waar jy genesing nodig het. Wanneer jy praktiese sake met jou maat bespreek, hou dit eenvoudig.

Selfsorg: Maak tyd om elke dag iets te lees wat jou inspireer.

Vis (20 Feb. – 20 Mrt.)

Projekte wat saam aangepak word, sal goed uitwerk, veral as jy saamspan met iemand wat goed is met probleemoplossing. Jy en jou maat het ’n rustige tydjie nodig om saam te ontspan.

Selfsorg: Jy kan dalk nie altyd jou gevoelens in woorde uitdruk nie, maar jy kan met ’n kwas en verf, dans en sang.

Ram (21 Mrt. – 20 Apr.)

By die werk kan sake aanvanklik stadig vorder wanneer jy met ander begin saamspan, maar uiteindelik is dit beter as om iets alleen aan te pak. Neem in jou persoonlike lewe die ander persoon in ag voordat jy gevolgtrekkings maak.

Selfsorg: Doen iets speels en kreatiefs vir ’n tikkie pret.

Bul (21 Apr. – 21 Mei)

Allerlei takies verg jou aandag. Hou daarmee vol en jy sal alles teen die middel van die maand kan afhandel. Gebruik rondom die 19de jou kalmerende invloed om spanning op kantoor te verlig en moenie kant kies nie.

Selfsorg: Bederf jouself dié maand met mooi lentebykomstighede.

Tweeling (22 Mei – 21 Jun.)

Tot en met die 16de hou ander se behoeftes en veranderende omstandighede jou op jou tone. Daarna kom positiewe verwikkelinge by die werk. Volg jou instink en moenie vasskop nie.

Selfsorg: Maak ’n kopskuif en eet gesond vir beter welstand.

Kreef (22 Jun. – 23 Jul.)

Moenie stilbly as iets jou pla nie; jy gaan net nukkerig word. Dis beter om eerlik te wees en sake deur te praat. Dis lente – maak jou huis leër en ruk jou leefplek ’n slag reg.

Selfsorg: Al is jy ’n huishen, sal dit jou goed doen om ’n slag uit te kom.

Leeu (24 Jul. – 23 Aug.)

Jy hou daarvan om leiding te neem, maar verhoudingsdansies vra van jou om te skik en taktvol te kommunikeer. Sien dit as jou bydrae tot vrede en harmonie.

Selfsorg: Ontspan met musiek en ’n lekker boek.

Maagd (24 Aug. – 23 Sept.)

Dit kan voel asof jy vergeet het om die handrem los te maak. Moenie stres nie; probeer eerder die klein geskenkies van elke dag raaksien. Beplan gehaltetyd saam met jou maat rondom die 18de.

Selfsorg: Onthou dat pret noodsaaklik vir ’n gebalanseerde lewe is.

LEES OOK:

7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

6 dinge wat jy van aktiwiteitsmonitors moet weet

Hoekom kollageen goed vir jou gewrigte is

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kopkrapper-oplossings Oktober 2017

Hier volg die antwoorde van die kopkrappers wat in ons Oktober-uitgawe verskyn het

Close