×
Skakel na Engels

Jou selfoon is dalk 10 keer vuiler as ’n toiletsitplek!

Dis grillerig, maar dis waar … Deur Becky Fletcher
selfoon

 

Aan watter voorwerp raak jy die meeste? Jou selfoon is waarskynlik onder die topdrie. Aan die Nottingham Trent-universiteit in Engeland is bereken dat ons ’n volle 85 keer ’n dag aan ons selfone raak. Dis ook geen verrassing nie dat navorsing aan die Universiteit van Arizona in die VSA gevind het dat jou selfoon tot 10 keer meer bakterieë kan bevat as die toiletsitplek in jou huis.

Prof. Emily Martin, assistent-professor in epidemiologie aan die Universiteit van Michigan in die VSA, verduidelik: “Aangesien mense altyd hul foon by hulle het, selfs in situasies waar hulle gewoonlik eers hul hande sal was voordat hulle verder iets doen, kan selfone taamlik besmet word.”

Volgens navorsing aan die Universiteit van Surrey in Engeland kan bakterieë veral op die “tuis”-knoppie op jou selfoon gevind word.

Maar sal jou foon jou siek maak?

Prof. Martin sê dit is onwaarskynlik dat jy sal siek word weens kieme op jou foon, ongeag hoeveel daar is. Die meerderheid mikrobes en natuurlike bakterieë wat op jou vel voorkom en na jou foon oorgedra kan word, sal nié siektes veroorsaak nie. Staphylococcus epidermidis kan byvoorbeeld voorkom, maar sal nie ’n infeksie veroorsaak nie.

Probleme kom wanneer jy jou in ’n omgewing bevind waar jy skadelike bakterieë op jou hande kan kry en dit na jou foon oordra, bv. in openbare plekke en openbare vervoermiddels, of wanneer jy siek is en jou selfoon met ’n vriend deel, en omgekeerd.

Prof. Martin waarsku ook dat jy glad nie jou foon moet saamneem wanneer jy die toilet besoek nie, aangesien kieme oral versprei wanneer die toilet spoel, insluitend ontlastingsbakterieë soos E. coli. Sy sê dit is net so goed jy was nie jou hande nadat jy die toilet besoek het nie!

Volgens navorsing deur BuzzFeed kom patogeniese bakterieë (m.a.w. bakterieë wat potensieel siekte tot gevolg kan hê) relatief min op selfone voor, en hou dit nie veel van ’n gevaar vir jong, gesonde volwassenes in nie. Daar is dus geen rede om paniekerig te raak nie.

Hoe om jou selfoon skoon te hou

Dit is natuurlik altyd goed om goeie higiëne toe te pas. Kenners stel voor dat jy jou selfoon elke paar weke skoonmaak met ’n lappie wat spesiaal vir fone ontwerp is of met ’n lappie en ’n oplossing van 40% alkohol en 60% water.

Die beste wenk vir goeie higiëne bly egter eenvoudig: Was jou hande gereeld en moenie aan jou mond en oë raak as jy nie ’n kans gehad het om dit skoon te maak nie. 

Van: netdoctor.co.uk

Foto: iStock/Manuel-F-O

LEES OOK:

4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

6 wenke om jou slimfoon se battery ’n hupstoot te gee

5 newe-effekte van jou selfoonverslawing

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

Wat is al hierdie skermtyd *regtig* besig om aan ons verstand te doen? Deur Kate Faithfull-Williams

Close