×
Skakel na Engels

Jou seisoenale kosmaakgids

Wanneer jy nie seker is of iets die beste sal smaak as dit gerooster, geposjeer of gesoteer word nie . . .
seisoenale kosmaakgids

Jy het al gehoor van die voordele van seisoenale bestanddele, maar om jou kosmaakmetodes by die klimaat aan te pas, is net so ’n slim idee! Jy sal nie net die beste uit vars produkte put wat smaak en prys betref nie, maar die regte kooktegnieke kan jou boonop laat afkoel of ’n bietjie warmer maak.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hier’s ’n nuttige gids van Terry Harris, ’n dieetkundige vir Discovery Vitality, wat jou sal help om heeljaar die regte en beste kosmaaktegnieke te kies:

Slaan ligte maaltye vinnig aanmekaar in die lente en somer

Kook dit vinnig en oor hoë hitte 

Van rooster en braai tot soteer en roerbraai, vinnig en warm is die beste keuse vir dié tyd van die jaar. Vleis en groente is ewe geskik vir dié gaarmaakmetode. Maak dus plek vir ’n bietjie groente op die rooster wanneer jy weer braai. Mielies en sampioene werk veral lekker oor die kole, maar murgpampoentjies, eievrugte, aspersies en preie is ook goeie keuses.

Rou kosse 

Vars produkte is nou op hul beste. Pak dus skyfies somervrugte en peuselgroente, soos wortels, komkommer, seldery en kersietamaties, vir ’n ete uit. Dis ook nou die ideale tyd om jou eie doopsous van pikante tamaties of romerige eiervrug te maak pleks van ’n sous vol preserveermiddels en sout by die winkel te koop.

Hou dit koud 

Van koue soppe tot slaaie (rou of gaar) – sit dit vars en lekker koud voor. En gebruik genoeg donker blaargroente. (Voeg byvoorbeeld ’n hand vol vars babaspinasie of krulkool by jou volgende slaai.)

Oondrooster 

Dié metode werk heeljaar goed omdat jou vleis en groente alles op een slag gaargemaak word. En die oorskietvleis kan maklik die volgende dag as koue kos voorgesit word. Wanneer jy buite braai, rooster beet- en patatskyfies in foelie oor die kole.

Stoom 

Stoom is een van die gesondste kookmetodes en kan vir feitlik enige iets van vis tot hoenderborsies, aspersies, bone en broccoli gebruik word. Met ’n bamboes- of mikrogolfstoomkoker kan jy letterlik binne ’n paar minute ’n vars, ligte maaltyd op die tafel hê.

Lê dit in 

Peul die boontjies al by jou spens uit? Byna enige groente kan gepiekel in ingemaak word. En jy sal later baie dankbaar wees dat jy ekstra moeite gedoen het wanneer jy hierdie somersmake mis.

Koue nageregte 

Slaaie en roomyse propvol somervrugte is die ideale manier om ’n ete op ’n warm dag mee af te sluit.

Neem jou tyd om heilsame geregte in die herfs en winter te berei

Kook dit stadig en met vog 

Om kos stadig te laat kook of prut help om die kollageen in taaier vleissnitte af te breek sodat jy soppe en bredies kan maak. Heelgrane is die perfekte pasmaats vir dié geregte. Jy kan ook ’n bietjie geblikte peulgroente of ’n hand vol gekapte sopgroente byvoeg om ’n bredie te verdik en meer voedingswaarde te gee.

Oondrooster 

Oondbraaigeregte is ideaal vir wanneer dit koud is buite, en wortelgroente soos wortels, skorsies en baba-aartappels is veral lekker wanneer dit saam met ’n groot stuk vleis of hoender gerooster word.

Kook 

Sop bly die beste wintertrooskos en dis boonop ’n maklike manier om meer peul- en ander groente by jou dieet in te sluit. Peulgroente soos ertjies, boontjies, lensies en kekerertjies sal jou ook vir langer voller hou.

Bak 

Hierdie eenvoudige en bevredigende tegniek sluit eenskottelgeregte soos lasagne in (vervang gerus die pasta met skyfies eiervrug), herderspastei en gevulde groente.

Posjeer 

Dié metode word hopeloos te min gebruik, maar dis redelik gesond omdat die kos in ’n klein bietjie vloeistof, soos water, dun sop of selfs wyn prut totdat dit gaar is. Probeer dit met hoender, vis of groente, of wees ’n bietjie kreatief met geposjeerde pere!

Warm nageregte 

Die koue maande is ideaal vir gebaktevrugte-nageregte soos appelterte of warm gekookte poedings. Doen navorsing oor klein aanpassings wat nageregte gesonder kan maak, soos om van die suiker deur vrugte soos dadels of rosyntjies te vervang; deur vetvrye melk en minder suiker te gebruik wanneer jy tuisgemaakte vla maak; en deur meer neute en sade vir ekstra vesel by te voeg.

FOTO: iStock/RuslanDashinsky

LEES OOK:

Moet-hê-medisynes vir jou winter-tuisapteek

Hoekom jy EINTLIK gewig in die winter aansit

11 watertandlekker somernageregte

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Sakpas gesinsetes vir die week voor betaaldag

Kos is op die tafel!

Close