×
Skakel na Engels

Jou gids tot afskilfering

Dis maklik om ’n gloeiende vel te verkry!
Jou gids tot afskilfering

Ons almal weet teen dié tyd dat dit belangrik is om dooie selle te verwyder en so ’n gesonde, gloeiende vel te verseker. Daar is egter so baie verskillende produkte beskikbaar dat dit moeilik kan wees om te kies. Hier is hulp: 

’n Velskrop

Daar is verskeie reinigers vir die vel en gesig wat ontwikkel en bemark word vir die verwydering van dooie vel. Dié produkte bestaan gewoonlik uit bestanddele soos klein persentasies salisiel- en glikolsuur, skuimmakende stowwe, opaktiewe middels, alkohol, natuurlike stowwe soos plantekstrakte, en fyn skuurstowwe soos gemaalde appelkoospitte of suikerkorrels.

Wanneer jy ’n gesigskrop kies, lees die verpakking – baie produkte bevat stowwe wat die vel kan irriteer, soos geurmiddels of skuimmakende stowwe. Vermy ook enige plastiekkrale wat as skuurstowwe in sekere produkte dien, aangesien die plastiek laedigtheidpoliëtileen kan bevat, wat ons oseane besoedel.

HOE GEREELD MOET EK ’N VELSKROP GEBRUIK? Gewoonlik nie meer as twee keer per week nie.
WIE KAN DIT GEBRUIK? Daar is ligte velskropprodukte beskikbaar wat vir die meeste mense geskik is, maar vermy dié produkte as jy ’n uiters droë of sensitiewe vel het. Sommige bestanddele soos opaktiewe middels en plantekstrakte kan die vel verder benadeel.

’n Borsel


Gewoonlik word ’n droë borsel gebruik om die lyf te borsel, nie die gesig nie. Tog het soniese borsels vir die gesig die laaste paar jaar in die skoonheidsbedryf ál meer aandag begin trek. ’n Borsel is ideaal om dooie selle te verwyder en porieë oop te maak.

Met ’n soniese borsel het jy nie ’n velskrop nodig nie – gebruik bloot jou gewone gesigreiniger saam met die borsel. Heelwat kenners meen jy hoef nie ’n klomp geld op ’n soniese borsel uit te gee nie en dat afskilfering deur sure en mikrodermabrasie doeltreffender is. As jou vel egter ’n borsel kan hanteer en jy goeie resultate kry, hoekom nie?

HOE GEREELD MOET EK ’N BORSEL GEBRUIK? Daagliks, as jou vel dit kan hanteer. Andersins elke tweede dag.
WIE KAN DIT GEBRUIK? Enige iemand.

Sure soos AHS en BHS


Kom ons gesels ’n bietjie oor sure, die groot rolspelers in afskilfering. Om suur op jou gesig aan te wend is genoeg om selfs die mees geharde skoonheidsfanatikus af te skrik, of hoe? Tog is suur belangrik en dalk selfs die doeltreffendste manier om van dooie selle ontslae te raak.

Alfahidroksisure (AHS) is sure wat van natuurlike bronne afkomstig is, soos melksuur, sitrosure in vrugte of glikolsuur van suikerriet, om maar ’n paar te noem. Betahidroksisure (BHS) is chemies vervaardigde sure soos salisielsuur. Hoewel albei die vel glad maak, is AHS meer geskik vir ’n droë vel, terwyl BHS meer geskik is vir ’n olierige vel wat geneig is tot aknee.

Hoewel AHS en BHS dieselfde voordele vir die vel inhou, hoef jy nie albei te gebruik om die beste resultate te kry nie. Velsorgprodukte met dié sure is geredelik beskikbaar, maar sukkel jy met ’n sensitiewe vel, is dit wys om eers ’n dermatoloog te raadpleeg of by ’n gesertifiseerde mediese spa aan te klop.

HOE GEREELD KAN EK ’N SUUR GEBRUIK? Vir sommige mense is die daaglikse aanwend van ’n AHS of BHS voordelig. Eksperimenteer met jou produk om te bepaal hoeveel daarvan jou vel kan hanteer.
WIE KAN DIT GEBRUIK? Enige iemand kan en behoort baat te vind by dié verjongende sure. Of jy AHS of BHS kies, en in watter konsentrasie, sal van persoon tot persoon afhang.

FOTO: iStock/Tassii

LEES OOK: 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief