×
Skakel na Engels

Is tronkstraf ons voorland vir Facebook-foto’s van ons kinders?

’n Nuwe wet in Frankryk wat Facebook-gebruikers verbied om foto’s van mense sonder hul toestemming te plaas, kan tot tronkstraf lei – selfs vir ouers! Deur Brie Schwartz
Facebook

Om foto’s van jou laggende, kwylende bondeltjie vreugde op Facebook te deel is elke ouer se reg, maar in Frankryk gaan dit moontlik binnekort verander weens streng privaatheidswette wat dit onwettig maak om foto’s van mense sonder hul toestemming op Facebook te plaas.

Hoewel hierdie maatreëls waarskynlik ingestel word om gebruikers van sosiale media teen wraakpornografie te beskerm, en nie soseer teen stuitige foto’s van jou peuters gerig is nie, is dit tegnies gesproke binne ’n kind se regte om sy of haar ouers vir enige ongewenste foto’s te dagvaar.

Luidens die Daily Mail kan ouers met tot R600 000 beboet word of ’n jaar lank tronk toe gaan.

“Oor ’n paar jaar sal kinders hul ouers maklik kan hof toe neem vir Facebook-foto’s van toe hulle jonger was,” het Eric Delcroix, wat in internetreg en -etiek spesialiseer, aan die koerant Le Figaro vertel.

“Kinders op sekere ouderdomme wil nie afgeneem word nie, laat staan nog dat hul ouers daardie foto’s op sosiale netwerke plaas.”

Die Franse weermag het ’n boodskap op hul eie Facebook-blad gedeel waarin hulle ouers waarsku om versigtig te wees: “Onthou dat dit nie veilig is om foto’s van jou kinders op Facebook te plaas nie,” berig The Local. “Dit is belangrik om minderjariges se privaatheid en beeld op sosialemediawebwerwe te beskerm.”

Natuurlik stem ons saam met hierdie boodskap. Ouers behoort voorsorg te tref om seker te maak dat hul kinders se foto’s nie in die verkeerde hande beland of dat iemand ’n wrede grap daarvan maak nie, maar as jy ’n lawwe foto wil plaas wat jou dogter op haar troue bloedrooi van skaamte gaan hê, staan dit jou vry om jou ongefiltreerde lewe te geniet. Maar as jy in Frankryk is, moet jy dalk sorg dat jy vir haar ’n baie duur geskenk koop sodat sy jou nie met ’n allemintige boete vir jou indiskresie terugkry nie. 

Foto: iStock/Liderina

Uit: Good Housekeeping US

Lees ook:

Behoort jy foto’s van jou kinders op Facebook te plaas?

25 vrae om jou kind te vra in plaas van “Hoe was jou dag?”

6 maklike maniere om jou privaatheid aanlyn te beskerm

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Keer dat jy hierdie algemene Facebook-fout begaan

Maak met ons stap-vir-stap-gids seker alles wat jy op Facebook plaas is nie vir die publiek beskikbaar nie. Deur Carrie-Ann...

Close