×
Skakel na Engels

Is jy straatslim wanneer dit by sosiale media kom?

Ons lewe in ’n era van sosiale netwerke, maar doen jy genoeg om jouself aanlyn te beskerm? Deur Lucy Kehoe
sosiale

 

Dis amper onmoontlik om jou die lewe sonder sosiale media voor te stel; van “kuier” met vriende in die buiteland tot soektogte na nuttige tuiswenke op Pinterest, en ’n paar video’s van skaatsplank-ryende honde tussenin!

Maar deel ons nie dalk te veel aanlyn nie? Dit is moontlik dat jy jouself, jou werk en selfs vriendskappe in gevaar stel met jou sosiale media-gewoontes. “Dit is die moderne vrou se dilemma,” se dr. Mariann Hardey, assistentprofessor van digitale tegnologie aan die Durham-universiteit in Brittanje, “want as jy jouself aan sosiale media onttrek, word jy dalk as ’n tegnofoob beskou.”

Waar lê die balans? Hier is ’n paar goeie wenke oor hoe jy sosiale media op ’n veilige manier kan gebruik.

Moenie sensitiewe inligting deel nie

“Ons lewe in die era van sosiale netwerke,” sê Hardey. “Ons almal plaas, deel en redigeer [foto’s] meer as ooit tevore.”

Maar jy moet versigtig wees oor watter persoonlike besonderhede jy aanlyn deel. ’n Foto van jou motorlisensieplaat, jou huis of selfoonnommer, jou volledige adres en jou geboortedatum is alles besonderhede wat deur ’n identiteitsdief gebruik kan word. Om meer uit te vind kan jy die South African Fraud Prevention Service-webwerf besoek.  

Moenie oorboord gaan nie

Om te veel te deel is nog ’n sosiale media-gewoonte wat jou kan blootstel. Om op Facebook by ’n vakansieoord “in te boek” kan ongure karakters in kennis stel dat jy nie by die huis is nie, en aanhoudende plasings waarin jy met jou prestasies spog, kan sommige van jou vriende verkeerd opvryf. Wees bewus van wat jy deel en wie dit kan sien.

“As jy te veel deel, loop jy die gevaar om onder kritiek, aanlyn afknouery en teistering deur te loop,” waarsku Hardey. “Privaatheidsverstellings is gewoonlik die opsie wat die minste aandag op sosiale media kry.”

Dink aan privaatheidsverstellings

Indien jy van sosiale media wil gebruik maak, maar jouself nie onnodig wil blootstel nie, moet jy seker maak dat jy jou privaatheidsverstellings gereeld nagaan.

As jy ’n Facebook-rekening het, kan jy alles monitor, van die plasings waarin jy gemerk word tot wie jou status kan lees. Jy het ook beheer oor hoeveel van jou profiel vir vriende en vreemdelinge sigbaar is. Leer meer hieroor met GH se gids vir Facebook-privaatheidsverstellings.

As jy bekommerd is oor wie jou Twitter-rekening kan sien, kan jy jou twiets beskerm sodat slegs jou vriende daarna kan kyk. Vind meer uit by support.twitter.com/articles. Jou Instagram-rekening kan ook privaat gehou word sodat mense ’n versoek moet rig om jou te volg. Sien help.instagram.com.

Blokkeer of ontvriend mense

Baie mense is skrikkerig om die aanlyn wêreld te betree, maar sosiale media kan baie pret wees as jy jouself behoorlik beskerm. “Daar is heelwat voordele,” sê Hardey. “Daar is ’n ondersteunende kultuur, ’n openheid, en met behulp van ’n platform soos LinkedIn kan jy byvoorbeeld selfs jou professionele profiel uitbou.”

Soms wys die internet egter sy donker kant, soos met aanlyn afknouery.

Beskerm jouself aanlyn deur nooit vriendskapsversoeke te aanvaar van mense wat jy nie ken nie, en vind uit hoe om jouself te beskerm indien jy deur iemand geteister word. Jy kan mense op Facebook blokkeer as jy nie wil hê dat hulle jou moet kan kontak nie – sien die Facebook-hulpblaaie daarvoor. Jy kan dit ook op Twitter doen, en sodoende keer dat hulle jou rekening sien of vir jou kan twiet.

As jy bekommerd is, google jouself!

Het jy jouself al gegoogle? Om jou eie naam te google is ’n maklike manier om uit te vind wat werkgewers en vreemdelinge sal uitvind indien hulle jou naam aanlyn soek. Maak seker dat jy enige inligting op jou sosiale media-rekeninge verander of uitvee wat jy nie wil hê op ʼn Google-soektog moet opduik nie. ’n Goue reël vir sosiale media-aanhangers, is om nooit iets te plaas wat jy nie wil hê jou ma moet sien nie!

Uit: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/Prykhodov

LEES OOK:

6 maklike maniere om jou privaatheid aanlyn te beskerm

 7 dinge wat jou tiener wil hê jy nié op sosiale media moet doen nie

Jou sosiale media-profiel kan jou volgende werkgeleentheid maak of breek

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 wenke om in ’n spanningsvolle tyd kalm te voel

Ja, dit ís moontlik. Deur Lucy Fry

Close