×
Skakel na Engels

Is jou motor gereed vir die feestyd?

Baie bestuurders waag bewustelik hul lewe deur agter die stuurwiel van ’n motor in te skuif wanneer hulle weet daar is ’n probleem met die motor … Deur Caira-Lee Durand
feestyd

Verantwoordelike bestuurders maak seker dat hul aandag nie afgetrek word terwyl hulle bestuur nie, hulle gee aandag aan padreëls en, baie belangrik, hulle maak seker hul voertuig is te alle tye padwaardig. Baie bestuurders waag egter bewustelik hul lewe deur agter die stuur van ’n voertuig in te skuif wanneer hulle weet daar is ’n probleem met die motor.

“Die skoolvakansie is om die draai en ons paaie gaan al hoe besiger raak. Onpadwaardige voertuie op ons paaie in hierdie tyd is ’n resep vir ’n ramp,” sê Pieter Niemand, direkteur van die werkwinkelvereniging vir die motorbedryf (Miwa), ’n sustervereniging van die organisasie vir die kleinhandelmotorbedryf (RMI).

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Hy wys daarop dat dit ’n wetlike vereiste in Suid-Afrika is dat alle motors in ’n padwaardige toestand moet wees. “Taxi’s en busse moet elke jaar ’n padwaardigheidstoets ondergaan en ’n padwaardigheidsertifikaat moet getoon word voordat ’n nuwe motor geregistreer kan word.”

Die feit dat padwaardigheidsertifikate vir motors net uitgereik word wanneer dit van eienaar verander, beteken dat padwaardigheid vir baie bestuurders nie iets is waaraan hulle onmiddellik dink nie. “Periodieke toetse vir padwaardigheid is nie in Suid-Afrika verpligtend nie, maar om ’n motor te bestuur wat onpadwaardig is, is nie net gevaarlik op die paaie nie; dis ook ’n risiko wanneer dit by finansies kom. Die meeste motorversekeringseise sal nie uitbetaal word as vasgestel word dat die motor wat in ’n ongeluk betrokke was nie padwaardig was nie,” sê Niemand.

“Om jou motor padwaardig te hou sal jou trouens op lang termyn geld spaar omdat dit doeltreffender sal werk en jy kan moontlik duur herstelwerk vermy wat ’n gevolg van nalatigheid is.”

Lees: 9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Die onus berus by die motoris om te verseker dat sy of haar voertuig veilig is om in te ry. Daarom is dit belangrik om die voertuig gereeld te laat versien en dit in stand te hou, en ’n volledige veiligheidsinspeksie van ’n opgeleide meganikus en tegnikus te versoek. Gereelde instandhouding sal verseker dat die skokbrekers in ’n goeie toestand is, dat die remme behoorlik werk en dat veiligheidstegnologie soos ABS en lugsakke in orde is.

Daar is egter sommige dinge wat motoriste gereeld kan en behoort na te gaan, selfs sonder die hulp van ’n meganikus. “Verseker dat daar geen gekraakte spieëls of voorruite is nie en dat al die ligte behoorlik werk. Gaan die nommerplaat-, flikker-, stop- en remligte na,” sê Niemand.

“Werk die reënveërs behoorlik? Kan al die vensters en deure maklik oopmaak? Toets die veiligheidsgordels en gaan jou bande na. Die loopvlak moet minstens 1,6 mm diep rondom die hele band wees, en die lugdruk moet voldoende wees. Gaan gereeld jou voertuig se vloeistofvlakke na om te verseker dat daar geen lekplekke is nie … en maak seker jou toeter werk, al sê ons nie daarmee dat jy dit aanhoudend moet gebruik nie!

“Dis tyd dat ons as Suid-Afrikaners saamstaan en help om ons lewe daagliks te verbeter. Om jou motor padwaardig te hou is ’n belangrike deel van verantwoordelike burgerskap. Dit sal voordelig vir die individu én ander padgebruikers wees, en sal help om die ontstellend hoë padsterftesyfer in die feestyd te verlaag,” sê Niemand.

Van: WOW

FOTO: iStock/monkeybusinessimages

LEES OOK:

Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

Die 10 bekostigbaarste motors in SA

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

Nuttige raad en wenke oor jou regte as jy dalk afgetrek word . . . Deur Caira-Lee Durand

Close