×
Skakel na Engels

Huisstof kan die rede wees dat jy nie gewig verloor nie – so sê wetenskaplikes

Nog ’n rede om jou huis goed skoon te maak
huisstof

Stof tot nadenke

As jy meer geneig is om jou huis vinnig netjies te maak as om dit behoorlik skoon te maak moet jy dit dalk oorweeg om ’n verestowwer te gryp … en vinnig. Nuwe navorsing aan die Duke-universiteit in die VSA het getoon dat blootstelling aan chemikalieë in huisstof metaboliese gesondheid kan ontwrig en ’n mens se liggaamsvet kan verhoog, veral in kinders.

Huisstof bevat endokrienontwrigtende chemikalieë (EOC’s) wat met hormoonproduksie kan inmeng. In die navorsing het dié chemikalieë veroorsaak dat vetselle groei en meer trigliseriede, ’n soort vet wat die liggaam vir energie stoor, verkry (te veel kan gewigstoename veroorsaak).

Behalwe in stof kom dié chemikalieë in alledaagse items soos reinigingsprodukte en voedselverpakking voor. Vorige navorsing het daarop gedui dat blootstelling aan EOC’s tot gewigstoename kan bydra, berig Medical News Today. Dit is hoekom die wetenskaplikes besluit het om uit te vind hoe huisstof gewig kan beïnvloed.

Lees: 5 noodsaaklike huishoudelike skoonmaakprodukte

Die span het stofmonsters vir die navorsing versamel en die vlakke van die EOC’s daarin ontleed. Hulle het 44 smetstowwe daarin gekry. Hulle het toe muise gebruik en gekyk hoe die chemikalieë in die stof voorlopervetselle beïnvloed. Sewe uit die 44 stofmonsters wat hulle versamel het, het veroorsaak dat selle vet opgaar en nege monsters het die groei van voorlopervetselle aangevuur.

Een van die navorsers, dr. Heather Stapleton, het gesê dit dui daarop dat die mengsel van hierdie chemikalieë in huisstof die opgaring van trigliseriede en vetselle bevorder.

So min as 3 mikrogram stof was genoeg om die vetproduserende uitwerking aan die gang te sit, het die wetenskaplikes verduidelik. “Ons was die meeste verras oor hoe laag die konsentrasies was wat ’n uitwerking gehad het,” het dr. Christopher Kassotis, die hoofnavorser, gesê.

Die drie EOC’s wat die grootste invloed op vetproduksie gehad het, is die plaagdoder piraklostrobien, die vlamweerder TBPDP en die plastiseermiddel DBP.

Lees: Die 5 grootste foute wat jy maak wanneer jy afstof

Die span erken dat nog navorsing nodig is, maar het daarop gewys dat hul bevindings rede tot kommer kan wees:

“Die adipogeniese aktiwiteit in huisstof het voorgekom in konsentrasies onder die Amerikaanse omgewingsbeskermingsagentskap (EPA) se geraamde vlakke waaraan kinders blootgestel word en wek kommer vir die uitwerking wat dit op menslike gesondheid kan hê, veral in kinders.”

Behalwe dat dit potensiële gewigstoename kan keer, kan dit ook simptome van velallergieë, ekseem en asma verbeter as jy stof uit jou huis verwyder. ’n Skoon huis het nog nooit so aanloklik geklink nie …

Die bevindings is in die joernaal Environmental Science and Technology gepubliseer.

Van: goodhousekeeping.co.uk

Foto: iStock/Choreograph

LEES OOK:

10 ongewone allergieë wat jy kan hê sonder dat jy dit besef

5 huisskoonmaakfoute

9 leuens oor huisskoonmaak wat jy vir jouself vertel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om nie tydens Ramadan gewig op tel nie

Verrassend genoeg is party mense geneig om tydens Ramadan meer te eet en dit kan tot gewigstoename lei

Close