×
Skakel na Engels

Hou versekeringsmaatskappye regtig jou sosiale media dop?

Het jy al ooit die gevoel gekry dat versekeringsmaatskappye meer van jou persoonlike lewe af weet as wat hulle laat blyk? Deur Caira-Lee Durand
versekeringsmaatskappye

Die afgelope tyd is daar heelwat gerugte dat versekeringsmaatskappye ons sosialemedia-profiele dophou. Maar steek daar enige waarheid hierin? En hoe word jy daardeur geraak?

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Dis ’n angswekkende gedagte – maar daar is ’n goeie kans dat waar jy ook al is en wat jy ook al doen, alles op een of ander manier gedokumenteer word. Die internet, byvoorbeeld, bevat baie meer inligting oor ons as wat die meeste van ons wil weet.

En net soos met enige iets anders, is dit nie onmoontlik om tot daardie inligting toegang te kry nie.

Dis die probleem met ’n toenemend elektroniese wêreld. Alles wat ons op ons rekenaars of slimfone of tablette doen, dra by tot die “Groot Data”, ’n tamaai,groeiende gros inligting. Die internet is ’n wonderlike bron vir diegene wat inligting wil bekom, en sekere organisasies en individue weet presies hoe om dit te ontgin.

Wat hulle met hulle bevindinge doen, kan die maatskappy of samelewing as geheel tot voordeel strek. Maar kom ons sê jy is toevallig op Twitter besig wanneer jy op die snelweg met jou ryding in iemand anders se motor inploeg … Nou ja, dit gaan jou glad nie bevoordeel nie.

Ons boet van ons privaatheid in wanneer ons van sosiale media gebruik maak. Dit bied versekeraars ’n sekere hoeveelheid toegang tot ons “persoonlike” lewens. “Groot Data” weet waar ons is, waar ons koop, wat ons eet, waar ons ry, ensovoorts.

Enige iets wat ons in die sosiale media plaas, word openbare besit, en ongelukkig vir jou – Mnr. Dronk Saam Met My Pelle By Hooters Drie Uur Voor Ek In Daai Ou Vasgery Het Groepselfie-oplaaier – het ons nie veel beheer daaroor nie.

Dink net wat versekeraars met al daardie inligting kan doen? Om jou oefenroetine en dieet uitmekaar te trek voordat hulle jou lewensversekering gee. Om op jou genetiese kode en medisinale gewoontes in te gaan. Hulle weet alles.

Genadiglik het ons wette in Suid-Afrika.

Lees ook: 10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

Die waarheid en mites oor versekering

Baie mense kla oor negatiewe ervarings wanneer hulle moes eis. Of hulle het eenvoudig ’n hekel aan die versekeringsbedryf as geheel. Ons almal het al nagmerrieverhale gehoor, maar dis meestal mites, of die gevolg van ’n misverstand. Oor die algemeen betaal versekeringsmaatskappye sonder veel probleme.

Maar ons praat hier van geld. En sal jy gewillig wees om uit te betaal as iemand jou om die bos probeer lei? Versekering is ’n dobbelspel, en net soos by casino’s word vuilspel nie ligtelik opgeneem nie. Die hele versekeringsbedryf is op vertroue gebaseer. Polishouers wat opgeblase of oneerlike eise indien, skend daardie vertroue en maak dit op die ou end moeiliker vir die eerlike ouens.

Om hierdie redes stel versekeraars hulle visier op jou inligting en sal hulle daardie inligting kontroleer wanneer jy om dekking aansoek doen of eis.

Kom ons sê jou seun, wat dronk bestuur het en jou BMW teen ’n paal afgeskryf het, skryf daaroor op Facebook. Dan dien jy ’n eis in en kom met ’n storie oor jy wat op ’n gladde pad gery het. Die versekeraar sal die eis ondersoek en op jou seun se Facebook-inskrywing afkom.

Oeps! Net daar word jou eis verwerp.

Indien versekeraars nie hulle huiswerk gedoen het nie, sou hulle eenvoudig uitbetaal het, wat sou beteken dat almal se premies verhoog word. In ’n sekere sin word die versekeraar én eerlike mense deur hierdie maatreëls beskerm.

Hoe versekeringsmaatskappye inligting versamel

Alhoewel al hierdie inligting algemeen beskikbaar is, is daar in Suid-Afrika beperkings op die manier waarop dit gebruik kan word. Versekeringsmaatskappye word verbied om ’n sekere grens oor te steek en op jou privaatheidsregte inbreuk te maak. Hulle word nie toegelaat om rond te snuffel of op ’n onderduimse manier, soos deur rekenaarindringing of telefoniese afluistery, inligting in te samel nie.

Daar is ’n aantal kanale wat hulle kan gebruik om inligting te versamel. Hulle primêre bron is die inligting wat persone op hulle aansoekvorms of oor die telefoon verskaf wanneer hulle dekking uitneem, en op die vorm wat hulle invul wanneer hulle ’n eis indien.

Die vrae op die eisvorms sluit soms kwessies in wat nie direk op die eis self betrekking het nie. Jou antwoorde word dan vergelyk met wat hulle op rekord het, en vermoedelik behoort alles ooreen te stem.

Inligting in openbare besit kan van verskeie bronne verkry word. Dit sluit polisierekords, grondeienaarskap, ensovoorts in, sowel as die magdom data op die internet. Versekeraars mag dit gebruik om die inligting te kontroleer wat jy aan hulle verskaf het. 

Versekeringsmaatskappye het vanselfsprekend nie direkte toegang tot jou sosialemedia-rekeninge nie, maar hulle sal grawe totdat hulle ’n plasing of foto ontdek wat jou vriende gedeel het. Ons kan ons privaatheidinstellings opskerp, maar ons het nie beheer oor die manier waarop ons vriende ons inligting deel nie.

Ander metodes waarvolgens inligting versamel word, sluit in:

Toegang tot privaat inligting met jou toestemming

Sommige versekeraars het klousules waarvolgens hulle die reg het om toegang tot jou persoonlike bank- of mediese rekords aan te vra. Daar word van jou gevra om hierdie toestemming te gee wanneer jy eis. As jy weier, kan dit verdag voorkom en kan die versekeraar selfs ’n hofbevel verkry wat hulle toegang tot hierdie rekords sal gee.

Jou kredietgeskiedenis is ook privaat, maar toestemming om toegang word vooraf vereis. Daar sal gewoonlik van jou verwag word om enige abnormaliteite bekend te maak voordat die versekeraar instem om jou te dek. Hierdie geskiedenis sal gebruik word om jou risikovlak te evalueer en jou premie te bepaal.

Assessors

’n Spesialis kan genader word om jou eis te assesseer. As daar ’n huisbrand was, sal hulle kom ondersoek instel oor hoe die brand ontstaan het. Diefstal kan behels dat hulle na jou sekuriteitstelsel soos alarms of diefwering kom kyk. Hoe hoër die eis is, hoe deegliker is die ondersoek.

Hulle sal polisie- of brandweerrekords kyk, enige finansiële motiewe ondersoek, ensovoorts. As die assessor enige iets rapporteer wat die inligting op jou eisvorm weerspreek, wapper daar ’n rooi vlag.

Versekeringsmaatskappye kan inligting uitruil

Die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging het die Versekeringsdatastelsel geskep, ’n databasis vir korttermynversekeraars. Dit gee hulle toegang tot al die eise wat jy die afgelope sewe jaar by alle versekeraars ingedien het, en dus ook enige tendense wat dalk na vore gekom het.

Lees ook: Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

Mag hulle dit doen?

Volgens MoneyWeb, wat ’n paar maande gelede oor hierdie einste onderwerp verslag gedoen het, het slegs twee Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappye erken dat hulle tydens die assesseringsfase van sosiale media gebruik gemaak het. Sekere versekeraars is waarskynlik steeds huiwerig om hierdie soort benadering te gebruik. Hulle is moontlik besorg oor privaatheidsregte, of die verontagsaming van wette wat die onderskepping van kommunikasie verbied.

Die meeste versekeringspolisse vereis egter dat kliënte teen eisfase moet kan bewys toon van álles wat gebeur het. Toestemming om inligting uit ons sosialemedia-rekeninge te gebruik, kan dus inbegrepe wees. En soos reeds gesê, is alles wat ons aanlyn plaas, reeds in openbare besit, en dus nie meer privaat nie.

Dit kan werk vir die uitsnuffel van oneerlike eise, maar hoe gaan eerlike eise in die toekoms daardeur beïnvloed word? As jy byvoorbeeld foto’s van die binnekant van jou huis of sekuriteitstelsel plaas en direk daarna beroof word? Sê nou jy verkondig wyd en syd dat jy vir twee maande met vakansie gaan en jou huis gaan leeg staan? Kan dit as roekeloos vertolk word en teen jou gehou word?

Ons kan maar net hoop dat hierdie maatskappye die inligting wat hulle so versamel, verantwoordelik gebruik, en ons sal op ons eie optrede moet let. Elke keer wanneer jy registreer, aanteken of jou toestemming gee, laat vaar jy jou reg op absolute privaatheid.

Vrywaring: Die sienings en opinies wat in hierdie artikel verskyn, is dié van die inhoudsverskaffer en verteenwoordig en nie noodwendig dié van Associated Media nie. Bogenoemde inhoud is deur ComparaGuru verskaf.

Uit: WOW

FOTO: iStock/Poike

LEES OOK:

Die versekering wat jy regtig nodig het (en dié wat nie so noodsaaklik is nie)

Wat jy moet weet as jy in ’n motorongeluk is terwyl jy vakansie hou

Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Deel jy te veel op sosiale media?

Ons sê gou vir ons twee keer dink voordat hulle foto’s en inligting op sosiale media deel, maar dit is...

Close