×
Skakel na Engels

“Hoekom ek nie na die Rage-party in Plet gaan nie”: ’n Matriekleerling verduidelik

Vir baie matrieks is die Rage-jaareindpartytjies in Plet, Umhlanga of Ballito iets wat hulle vanselfsprekend aan die einde van hul laaste skooljaar wil bywoon. Juliette Rose-Innes, ’n 2017-matriek, verduidelik hoekom sy liewer hierdie week lange partytjie wil misloop.
Rage-party

“Ek het pas klaar matriek geskryf en ek is 18 jaar oud. Ek sosialiseer graag, gaan na klubs en dra somerklere. Ek sal myself nooit as “vervelig” of ’n “buzzkill” klassifiseer nie. Nou maar hoekom, sal sommige my dalk vra, pak ek nie my sakke vol goedkoop alkohol en gaan na die Rage-fees vir matrieks in Plet, Umhlanga of Ballito nie? Dis immers Suid-Afrika se eie weergawe van die VSA se Spring Break.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

“Die vinnige en maklike antwoord is dat nie veel daarvan vir my aantreklik klink nie. Dis is natuurlik net my mening, my eie rede hoekom ek dit nie gaan bywoon nie, en is glad nie bedoel om die geleentheid of die mense wat dit gaan bywoon te beledig nie. Die volgende stap is om te verduidelik wat ek bedoel.

“Die eerste deel van my besluit is nogal basies: geld. Ek is van Kaapstad, wat die Rage in Plet my beste verwysingspunt maak, want dit is waarheen die meeste mense wat ek ken wat ’n Rage-partytjie gaan bywoon, sal gaan. Toe ek ’n goeie vriendin gevra het hoekom sy “Suid-Afrika se langdurendste matriekpartytjie”, soos die Plet Rage se webwerf dit beskryf, vermy, het sy vir my gesê sy is platsak en dis heeltemal te duur.

“As ’n jongmens wat onlangs gematrikuleer het – en nou werkloos is – het ek net nie die geld om op dae van eindelose partytjiehouery te spandeer nie. Ek gebruik enige iets van R40 tot R100 vir ’n gemiddelde aand wanneer ek uitgaan, maar die Rage is baie duurder as dit. Jy kan óf ’n feespaspoort koop óf per geleentheid betaal, wat uiteindelik meer kos. Vir sommige mense is die ervaring die geld werd, maar ek dink nie dat ek dit genoeg sal geniet om die koste te regverdig nie.

“ ’n Groot bydraende faktor hoekom ek nie wil gaan nie, is dat amper geen van my vriende gaan nie. Hul rede is weer dat hul vriende nie gaan nie, en dit word dus ’n siklus. Dit is soort van ’n omgekeerde groepsdruk – jy word oorreed om iets nié te doen nie. Nadat ek die hoërskool saam met hulle oorleef het, is hulle die mense saam met wie ek my vakansie wil deurbring, en hulle gaan nie Plet toe nie.

“Wat hiermee verband hou, is die feit dat die meeste van die gebeure by enige Rage-fees, sover ek gehoor het, nie is soos wat ek en my vriende in Kaapstad bywoon nie. Ons gaan gewoonlik na musiekkonserte of geleenthede met ’n dekade-tema (soos ’n 70’s-aand) toe. Miskien is daar so iets by die Rage in Plet, maar ek het nog nie daarvan gehoor nie.

“Daar is twee goed waaroor ek nie bekommerd is nie, maar dit moet genoem word omdat ek ’n hele paar van my vriende se ouers daaroor hoor praat het: seks en die oormatige gebruik van dwelms of alkohol. Hoewel dit my nog nooit bekommer het nie, weet ek die rede waarom baie mense nie gaan nie, is weens die taamlik skrikwekkende kombinasie van vryerige tieners en bedwelmende middels.

“Ek is seker die meeste mense wat soontoe gaan, sal versigtig en bedagsaam genoeg wees dat dit nie ’n groot kwessie is nie, en ek dink daar is niks fout met eksperimentering nie, solank dit konsensueel is en niemand in gevaar stel nie. Die stereotipes oor die mense wat dit bywoon, is beslis oordrewe.

“Hoewel die reverdiging oor hoekom mense nié gaan nie, die ‘hyped-up jock culture’ kan wees wat dikwels met die hele geleentheid geassosieer word, dink ek nie dit is so erg soos dit klink nie, en ek is seker dat tipiese sportiewe karakters ’n baie klein persentasie uitmaak van die mense wat dit bywoon (of ek hoop ten minste so).

“Nog iets is dat wanneer ek die skool verlaat, ek volkome vryheid wil hê. Vir my voel dit of die Rages nié dit is nie, maar meer ’n soort van georganiseerde chaos. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie, want sterftes (hoewel dit voorkom) sal minder waarskynlik gebeur danksy die veiligheidsmaatreëls wat in werking gestel is.

“Saam met verskeie polsbande is daar veiligheidswagte, uitsmyters en – soos die geval is met baie van die klubs waarheen ek nie gaan nie – ’n dragkode (een wat gewoonlik beteken ouens kan nie sandale dra nie). Natuurlik is daar niks verkeerd met sulke klubs of die mense wat soontoe gaan nie, en dalk is die antisandaalbeleid iets wat net vir my pla.

“Ek weet ook dat maatreëls soos uitsmyters en veiligheidswagte heeltemal nodig is vir sulke groot geleenthede, maar dis is regtig net nie my ‘scene’ nie. As geheel dink ek die Rage-fees kan ’n prettige ervaring wees, net nie vir my nie. Ek hoop almal wat soontoe gaan, sal dit geweldig geniet. (Ek sal waarskynlik by die huis in my pajamas sit en flieks kyk.)”

FOTO: iStock/wundervisuals

LEES OOK:

Matriekvakansie: ’n Oorgangstyd of ’n veiligheidsgevaar?

10 dinge wat jou tieners moet weet voordat hulle die Rage-fees bywoon

3 geldlesse om jou tieners te leer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief