×
Skakel na Engels

Hoekom dit belangrik is om vir kinders “nee” te sê

Een kenner sê “helikopter-ouerskap” kan die rede wees dat al hoe meer kinders geskors word, skryf Jenny Cook
Kinders

Dis natuurlik om die beste vir jou kind te wil hê, maar om kinders te bederf en vir hulle alles te gee wat hulle wil hê, kan uiteindelik meer skade as goed doen.

’n Gerekende kindersielkundige het haar kommer uitgespreek oor middelklas-ouers se onvermoë om “nee” te sê. Dr. Amanda Gummer, ’n navorsingsielkundige wat in kinderontwikkeling spesialiseer, sê dié tekort aan dissipline lei tot swak gedrag en ’n onvermoë om die die “harde werklikheid” te aanvaar. 

“Dit wil al meer voorkom of wilde, ongedissiplineerde kinders die spruite is van sogenaamde ‘helikopter’-ouers – pa’s en ma’s wat oormatige aandag aan hul spruite gee en aan hul elke behoefte voldoen, wat uiteindelik ‘klein-keiser-sindroom’ tot gevolg het.”

Sy voeg by:

“Dié ouers se ambisie vir hul kinders ken geen einde nie – hulle besef nie hoe swak hul inmengery hul kind op die wêreld daar buite voorberei nie.”

Lees: Hoe om jou kinders se slegte gedrag in ’n week te verander

Dr. Gummer het heelwat van haar ondervinding opgedoen toe sy met laerskoolonderwysers gewerk het – sy beweer baie van dié onderwysers sê die ouers se gedrag is dikwels “heelwat meer skokkend” as dié van hul kinders. 

Sy skryf: 

“Dié kinders sukkel in die klas omdat hulle nie kan aanvaar dat hulle nie die middelpunt van belangstelling is nie. Daarom doen hulle enigiets moontlik om die aandag te kry wat hulle – danksy hul ouers – glo hulle toekom. Die ergste is dat dié andersins ordentlike ouers weier om verantwoordelikheid vir hul kinders se optrede te aanvaar.”

Sy voeg by:

“Ek is glad nie meer verbaas dat onderwysers tot trane gedryf word deur die swak gedrag van sommige leerlinge – en hul ouers – nie. Danksy onderwysers se harde werk kan die meerderheid kinders uiteindelik ’n wêreld betree waar hulle nie meer die middelpunt van hul eie sterrestelsel is nie. Maar ’n oorgrote meerderheid kry swaar, met rampspoedige gevolge vir die kind se onderrig en ontwikkeling.”

Dit is lank reeds bekend dat ouers wat die heeltyd om hul kinders kloek, die kind se onafhanklikheid inkort, maar dr. Gummer glo ook dat dit tot aggressiewe of moeilike gedrag kan lei, wat nie altyd erken en van werk gemaak word nie.

Lees: 3 dinge wat jy dalk nie oor ouerskap geweet het nie

Van: Net Doctor UK

Foto: iStock/kali9

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kom kyk hoe jou kleingoed se kuns by Future Park lewe kry

Speel in ’n digitale wêreld wat voor jou oë verander

Close