×
Skakel na Engels

Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

Baie motorkopers sit met verlammende skuld nadat hulle tot ’n ballonbetalingslening toegestem het. Deur Caira-Lee Durand
ballonbetalings

Wanneer jy oor ’n motorlening onderhandel, sal jy waarskynlik moet besluit of jy ’n ballonbetaling – of reswaarde – op die lening wil neem.

Dis is basies dieselfde ding. ’n Ballonbetaling, en die grootte daarvan, stel jou in staat om vir die eerste paar jaar ’n laer maandelikse paaiement te betaal terwyl jy ’n motor ry wat jy andersins nie sou kon bekostig nie.

Dit klink dalk na ’n goeie idee, maar dit kom met ’n prys – letterlik. Baie motorkopers het hulle al in ’n paar onaangename verrassings vasgeloop, soos om uiteindelik onder ’n berg skuld begrawe te word omdat hulle nie régtig verstaan het hoe die slaggate van ballonbetalings werk nie.

Jy kan dalk die kar van jou drome kry, maar dit kan in ’n nagmerrie ontaard.

Wat is ’n ballonbetaling?

Kom ons sê jy het jou droomkar gesien, maar realisties gesproke kan jy dit nie op die oomblik bekostig nie. Dit kos, argumentshalwe, ongeveer R400 000. Jy gaan ’n lening van R400 000 oor vyf jaar by jou finansierder aan en besluit op ’n ballonbetaling van 25% (R100 000) op jou lening.

Jou finansierder laat daardie R100 000 vir eers buite rekening en laat jou die oorblywende R300 000 afbetaal. Jou maandelikse paaiement is aansienlik laer as wat dit sonder die ballonbetaling sou wees. Jy kan dus jou droomkar bekostig.

Al ding is, vyf jaar later skuld jy die bank nog R100 000 en nou wil hulle die hele som op een slag hê. Gevolglik moet jy óf die volle bedrag betaal óf ’n verdere lening aangaan óf die motor verkoop.

Dalk het jy daarvoor voorsiening gemaak en deur die jare geld weggesit. Dalk beplan jy om daardie R10o 000 te laat herfinansier, indien die bank dit sal goedkeur. Dit beteken ook dat jy waarskynlik langer aan die motor sal betaal as wat jy dit graag sou wou bestuur.

Vanselfsprekend betaal jy gedurende die volle leningstermyn steeds rente op daardie bedrag. Afhangende van die rentekoers, wag daar waarskynlik ’n taamlik skok op jou.

Om jouself uit hierdie soort lening te wurm is ook moeilik. Dit is meer gekompliseerd as die vereffening van ’n normale motorlening. Jy kan aanspreeklik gehou word vir vroeë terminasiekoste wat in die kontrak gestipuleer is.

Dit is dus nie net belangrik om te verstaan hoe dit werk nie; jy moet jou ook deeglik van enige moontlike boetes vergewis.

Lees: 10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

Die beperkings van ’n ballonbetaling

Dit wissel afhangende van verskeie faktore. Elke finansiële instelling oorweeg spesifieke faktore, onder meer die ouderdom van die voertuig, jou finansiële profiel of die leningstermyn self.

Ondernemings gebruik die term “reswaarde” om die voorgeskrewe bedrag te beskryf wat ’n bate aan die einde van die termyn gaan werd wees. Wat dit beteken, is dat indien jy van plan is om die motor te verkoop om jou ballonbetaling te doen, jy waarskynlik nie genoeg vir jou motor gaan kry om jou skuld te dek nie. Niks ekstra nie.

Kom ons sê jou motor word vir R400 000 gewaardeer en daar word voorspel dat dit ná vyf jaar slegs R200 000 gaan werd wees. Ná vyf jaar het die motor slegs 50% van sy waarde behou. Geen bank sal ’n ballonbetaling van meer as 50% vir ’n vyfjaarlening toestaan nie. Weens verskeie risiko’s sal die ballonbetaling wat toegestaan word natuurlik heelwat laer wees – gewoonlik 30%.

In die geval waar jy die motor bruikhuur (met of sonder ’n ballonbetaling), is daar ander  beperkings wat jy in ag moet neem.

Aangesien ’n motor se mylafstand sy herverkoopwaarde beïnvloed, is daar gewoonlik ook ’n jaarlikse afstandbeperking. Dit is normaalweg 15 000 tot 25 000 km per jaar. Sou jy dit oorskry, kan jy ’n koste-per-kilometer-boete opgelê word.

Slegte nuus vir party van ons – jy word nie toegelaat om enige wysigings of opgraderings aan die motor aan te bring nie. Verder is daar is ook beperkings op slytasie. Enige abnormale skade wat die motor se herverkoopwaarde verder verlaag, kan tot boetes lei.

As jy egter ’n plan het om aan die einde van die termyn met die geld vorendag te kom, is dit ’n ander storie.

Versekering, en ten slotte

Die enigste versekering wat met ’n ballonbetaling aanvaar word, is omvattende motorversekering. Alhoewel ’n ballonbetalingstransaksie dalk aanloklik klink en dit ’n geleentheid is om jou droomkar te bestuur, is dit nie altyd die beste oplossing nie.

Dit is belangrik om deeglike navorsing te doen en na te dink oor die wysheid van jou besluit. In plaas daarvan om oor vyf jaar met verlammende skuld te sit, is dit dalk beter om by ’n maandelikse begroting te hou en binne jou vermoë te lewe.

Uit: WOW

FOTO: iStock/vadimguzhva

LEES OOK:

Die 10 bekostigbaarste motors in SA

6 wenke om jou motor vir die lente op te kikker

Kies só die beste gesinsmotor

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die 10 bekostigbaarste motors in SA

Is jy op die uitkyk na ’n nuwe sakpas motor?

Close