×
Skakel na Engels

Hoe om vir ’n huisoppasser voor te berei

Hierdie nuttige lysie sal as ’n goeie riglyn dien om jou oppasser te help om jóú te help!
huisoppasser

Gaan jy dié vakansie jou huis vir die eerste keer in ’n huisoppasser se hande oorlaat? Dit kan oorweldigend wees om te begin dink aan al die voorbereiding en inligting wat jy moet oordra. Maar moenie bekommerd wees nie! Ons het ’n lysie saamgestel van dinge wat sal help om die “oorhandiging” minder stresvol te maak.

Spaar jouself tyd deur hierdie afmerklysie as ’n riglyn te gebruik om jouself én die huisoppasser ’n bietjie gemoedsrus te gee. Stel dan ’n omvattende inligtingslêer vir die oppasser saam sodat alles mooi bymekaar is.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Noodnommers

Druk ’n lys uit van die volgende mense se kontaknommers:

– Jy en jou man/vrou

– Die plaaslike polisie, brandweer, buurtwag, ensovoorts

– Die loodgieter, veearts, elektrisiën, ensovoorts wat jy verkies om te gebruik

– Jou bure

2. Sleutels

Los of jou eie sleutels vir die huisoppaser, of laat maak vir hulle ’n stel sleutels. (Onthou om dit weer terug te kry!) Dit sluit in enige afstandbeheerders vir hekke, garages en sekuriteitstelsels. As jy nie jou sleutels persoonlik aan die huisoppasser gaan oordhandig nie, onthou om ’n nota te los oor watter sleutels en afstandbeheerders vir watter deure is.

3. Wagwoorde

Die huisoppasser sal waarskynlik die wagwoord vir goed soos die wifi en sekuriteitstelsel nodig hê. Onthou om dit weer te verander sodra jy terug van vakansie af is.

4. Plante

As jy van tuindienste gebruik maak, laat weet die huisoppasser op watter dae hulle uitkom. Anders, los vir die oppasser al die nodige inligting oor hoe om vir jou binne- en buiteplante te sorg, die besproeiingstelsel aan en af te sit (as jy een het), asook enige reëls en regulasies rakende waterbeperkings.

As jy ’n swembad het, maak seker jy sluit die onderhoud daarvan onder die “tuinafdeling” van jou oorhandigings- of inligtingslêer in.

5. Troeteldiere

As jou vierportige kinders (of dié met vere of vinne) nie saam op vakansie gaan of in ’n diereherberg of -hotel gaan bly nie, maak seker jou huisoppaser is gemaklik daarmee om ook ’n diere-oppasser te wees.

Indien hulle wel na jou troeteldier(e) gaan omsien, is daar ’n paar dinge wat jy met hulle moet bespreek, soos:

– Enige spesiale dieetvereistes of allergieë

– Wat, wanneer en hoeveel kos hulle moet kry

– Wat hul gunstelingspeelding is

– Waar hulle mag slaap

– Hoe gereeld die oppasser met hulle moet gaan stap 

6. Dienste

– Vullisverwydering: Sê vir die oppasser op watter dae hulle kom sodat hy/sy die sakke kan uitsit.

– Herwinning: As jy ’n komposhoop het of herwinningsdromme gebruik, laat weet die oppasser sodat hulle daarvan bewus is.

– Huishulp: Soos met die tuindienste, maak seker die huisoppasser weet op watter dae en tye die skoonmaker kom sodat hulle nie deur gereelde diensverskaffers onkant betrap word nie.

Hierdie is net voorbeelde; neem alle diensverskaffers in ag, soos swembadskoonmaakdienste, koeriers, posaflewering, ens.

7. Vervoer

As die oppasser nie hul eie vervoer het nie, gaan jy jou motor of fiets vir hulle los? Indien nie, maak seker hulle weet dat jou voertuie buite perke is en ook waar die naaste bushalte of treinstasie is.

8. Reëls

Vra jouself ’n paar vrae om jou te help om sekere “huisreëls” op te stel:

– Is daar enige vertrekke of areas wat verbode is?

– Is daar enige toestelle wat hulle nie mag gebruik nie?

– Laat jy toe dat mense in jou huis rook?

– Mag die oppasser besoekers ontvang terwyl jy weg is?

– Mag hy/sy ’n braai of onthaal by jou huis hou?

– Is jou huis deel van ’n kompleks of in ’n woonstelblok? Indien wel, is daar enige ekstra reëls of regulasies waarvan die huisoppasser bewus moet wees?

– Gaan jy ’n skoonmaakdiens kry terwyl jy weg is of verwag jy van die oppasser om self skoon te maak?

En laaste, maar nie die minste min – berei jou gastekamer met skoon beddegoed en handdoeke voor. As die oppasser nie ’n plaaslike inwoner is nie, los gerus vir hulle ’n lysie van dinge om te doen en te sien. Goed, gaan ontspan nou – jou huis is in ’n goeie hande! 

FOTO: iStock/BrianAJackson

LEES OOK

12 doendinge vir jou en jou kroos hierdie vakansie 

Kontrolelys vir jou vakansiereis 

Oorleef só gevaarlike nasionale paaie dié vakansie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
12 doendinge vir jou en jou kroos hierdie vakansie

Jy en jou kroos sal dit ewe veel geniet!

Close